Besnydenis en rook

  • 2

Afgesien van 'n politieke afwyking so nou en dan, is ek geneig om oor gesondheidsake te skryf en as dit hoe is word ek ook deur die werf se “wetenskaplikes” of is dit “weet alles manne” aangeval? (Ek is nie besig om te diskrimineer nie – hou net by die feite en komplimenteer eintlik die dames.)

Voorheen het ek sterk standpunt ingeneem teen besnydenis van enige aard (Besnydenis, 2013-10-01). Myns insiens is dit nodig om die publiek bewus te maak van sulke dinge, want bewuswording en verandering van standpunt is langsame prosesse. Ek weet, soos die binnelander wat by die see gekom het(!), dat my bydrae klein is maar lewer dit nogtans! Hopelik help my bietjie!

Yahoo.com se webwerf bevat dikwels interessante nuus mits 'n mens die onbenullige stories oor “bekendes” ignoreer. Een van die jongstes is oor inisiasieskole in Suid-Afrika. 'n Nederlandse dokter, wat tot verlede jaar in die Oos-Kaap gewerk het, is so aangegryp deur die ellende wat besnydenis veroorsaak dat hy 'n webwerf geskep het om die saak onder die aandag te bring. Om hom aan te haal: "If you see so many boys dying, at some point you have to talk about it. Why do we sustain a ritual that slaughters boys in their prime, or physical and mental scars many others for life?" In terme van getalle is dit meer as 50 dooies vir die eerste helfte van verlede jaar en meer as 300 opnames in die hospitaal.

Daar is nou sogenaamde “cultural commentators” wat moord hieroor skreeu. Hulle raas nie oor die dood (moord?) op talle seuns nie maar oor feite wat wêreldkundig gemaak word. Dit mag nie gebeur nie en die webwerf moet onmiddellik gesluit word! Dis darem nie 'n geval dat ordentlikheid by “cultural commentators” ontbreek nie. Hoofman Patekile Holomisa se verskoning is: “We condemn the exposure of this ritual to people who do not practise it. Women should not see what happens at initiations." Gelukkig was die SA Film en Publikasieraad nie so maklik oortuigbaar nie en het hulle net 'n beperking van 13 jaar op die inhoud geplaas. Volgens hulle "it is a bona fine scientific publication with great educative value." [Die kursivering is myne. Dis nie duidelik wie die voutjie met 'fine' gemaak het nie!]

Op dieselfde webwerf is daar die sterfte van Eric Lawson – die “Marlboro Man”, wat nie net oral in die VSA was om te wys hoe lekker dit vir 'n cowboy op 'n perd is om te rook nie, maar die produk ook aktief gebruik het – tot 3 pakke per dag. Op 72 sterf hy aan 'n rookverwante siekte. Daar was ook ander macho manne wat die sigaret geadverteer het en minstens twee van hulle het aan longkanker gesterf. Hierdie advertensieveldtog het die sigaret die beste verkoper in die wêreld gemaak. Dit moet ook gemeld word dat Lawson sy laaste jare gebruik het om propaganda teen die rookgewoonte te maak.

Die ouens wat longkanker kry is die gelukkiges en die minderheid – hulle sterf gewoonlik binne maande. Die ander se lyding kan oor baie jare strek. Emfiseem is erg en 'n mens wens dit nie eers jou ergste vyande toe nie. Jy bly benoud en net die dood kan uiteindelik verligting bring.

Waarom skryf ek oor besnydenis en rook? Om aan te dui hoe moeilik dit is om van gevestigde gebruike ontslae te raak. Teen die 1960's was daar geen twyfel meer oor die gevolge van rook nie, maar die stryd teen rook is nou nog lank nie gewen nie. Dit lyk of baie mans uiteindelik die boodskap gekry het, maar durf ek dit sê, dit lyk of dit juis aantreklike en mooi jong dames is wat slagoffers van die gewoonte word. Dalk moet ek die woord “slagoffers” korrigeer. 'n Man of 'n vrou wat in die 1950's of vroeër 'n rookverwante siekte opgedoen het kon dalk gedink het hy/sy is 'n slagoffer. Deesdae se “slagoffers” kan nie meer sê ek het nie geweet nie! Hoogstens kan hulle sê: “Ek is 'n verslaafde.” Dit klink seker nie so goed nie maar is die begin van 'n pad wat tot oorwinning kan lei.

Wat onthou ek van rook? Dit was lank voor TV. Advertensies was in koerante, tydskrifte en plakkate (verbeel my tot die Kerkbode het Springbok-sigarette geadverteer). Nog voor die Ruperts is ek as klein kind gedurig daaraan herinner: “Besig of ledig Cavalla bevredig”. Dit was sigarette wat meestal in pakke van 50 gekoop is. Toe kom Anton Rupert met sy groot geldmaakskema en Rembrandt-sigarette. Rupert het ook geld aan kultuur afgestaan en Europese sangers vir konserte na SA gebring. Ek onthou nog vir Heinrich Schlusnus, Duitse bariton. Hy het gesê: “Rembrandt is so sag op my keel”, met 'n sigaret tussen sy vingers. Dit was egter nie so lank daarna nie dat hy aan keelkanker oorlede is. Gelukkig het ek nooit gerook nie want ek het 'n wonderlike pa gehad. Hy was erg teen rook, ek weet nie waarom nie. Selfs in die 1940's as iemand hom 'n sigaret aanbied het hy sommer vir die man vertel dat dit 'n vuil gewoonte is!

Ek onthou ook ons vakansies op 'n Karooplaas en my oom wat ons soggens wakker gemaak het met sy chroniese gehoes. Hy was nog maar vroeg in die sestig toe hy agv longprobleme oorlede is. Dit is erg om die lyding van so iemand te sien en die tragedie is dat sy seun wat sy lyding aanskou het, dieselfde paadjie geloop het.

George

  • 2

Kommentaar

  • francois williams

    Hoe nader die wêreld aan die Weste en hul kultuur beweeg, hoe vinniger versprei dwelm en dwelmverslawing deur die wêreld ... net nog iets wat die Weste aan die wêreld skenk, wat ons gladnie benodig nie ... dankie ...

  • Die volgende van:http://academic.udayton.edu/health/syllabi/tobacco/history.htm

    Tobacco is a plant that grows natively in North and South America. It is in the same family as the potato, pepper and the poisonous nightshade, a very deadly plant.

    The seed of a tobacco plant is very small. A 1 ounce sample contains about 300,000 seeds! It is believed that Tobacco began growing in the Americas about 6,000 B.C.! As early as 1 B.C.,

     American Indians began using tobacco in many different ways, such as in religious and medicinal practices. Tobacco was believed to be a cure-all, and was used to dress wounds, as well as a pain killer.

    Chewing tobacco was believed to relieve the pain of a toothache!

    En wat van dagga. Wel navorsing het bewys dat dagga in tropiese Africa gerook is  +/- 1000 jaar! voordat tabak  vir die eerste keer in Afrika gerook is! Nou wonder ek of francois williams nou maar nie weer besig is met 'n  -pot verwyt die ketel-.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top