Jan Rap het op 15 Oktober ‘n skrywe geplaas waarin hy oa die volgende kwytgeraak het:
“Dis verkeerd om te sê slegte goed is nie nou meer apartheid se skuld nie … want dit sou beteken daar wás op 'n kol iets leliks wat wel (sogenaamde) apartheid se skuld was. Ek sê spesifiek 'sogenaamde' apartheid want met 'apartheid' word bedoel die onderdruk en uitbuit van mense deur spesifiek die Afrikaner.
Laat ek dit weer sê: Waar die woord 'apartheid' gebruik word, soos in '... oorblyfsel van apartheid ...' byvoorbeeld, word bedoel 'bose onderdrukking van swartmense deur die Afrikaner'. Daar was nooit so iets nie; die Afrikaner het, anders as veral die Engelse, nog nooit iemand onderdruk nie.”
Ek het hierop gereageer deur op die onsin van bg en ander stellings wat hy gemaak het, te wys. As bewyse het ek onder andere ‘n stuk of twaalf apartheidswette wat vanaf 1948 tot 1970 gepromulgeer is genoem, sowel as die onmenswaardige wyse waarop swart en bruin Suid-Afrikaners gedurende hierdie jare én daarna tot ongeveer die middel 1980’s behandel is. (Ontugwet, Groepsgebiede wet, gedwonge verskuiwings, aandklokreëls, ens.)
Jan Rap én Cornelius Henn se reaksie in verskeie opeenvolgende skrywes was eenvoudig: Dis alles die Engelse se skuld, want húlle het al voor 1948 daarmee begin. Met ander woorde, die Afrikaners kan, ten spyte van alles wat ná 1948 direk deur hulle toedoen plaasgevind het, hulself verontskuldig deur eenvoudig te sê: “Die Engelse het dit begin.”
Dis mos absurd om die onreg wat jy vir veertig jaar aan letterlik miljoene mense gedoen het, onder die mat in te vee met die verskoning dat iemand anders hiermee begin het. (Dít, terloops is iets wat ek nog nie in énige van my skrywes betwis het nie).
Nee, in plaas daarvan om menswaardig teenoor swart en bruin mense op te tree en onreg reg te stel, wat doen die Afrikaner kollektief? Hy slaan, by wyse van spreke, die spykers van onreg al diéper in, so diep dat die res van die wêreld uiteindelik geen keuse gehad het nie, as om apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom te verklaar.
My punt is eenvoudig: Of ons Afrikaners nou daarvan hou of nie, apartheid was, om dit sag te stel, kwetsend en soms krimineel. Of ander volke / nasies / lande dieselfde gedoen het of nie, versag nie die onreg wat ons hiér aan mense gedoen het nie. Suid-Afrika pluk vandag die vrugte van die dekades-lange strukturele geweld van die vorige eeu. Punt.
Kortliks nog ‘n kwessie: Enigiemand wat dink die status quo (‘n wit minderheidsregering) kon na 1994 gehandhaaf word, lewe in ‘n gekkeparadys. Apartheid se tyd was finaal verby, finish en klaar. Slegs die mense op die regse lunatic fringe het anders gedink, en kyk hoe’t hul lyke gelê langs die flentergat Mercedes-Benz na die slag van Bophuthatswana. Tragies as mense die gety verkeerd lees.
‘n Laaste woord aan Cornelius Henn spesifiek: Jy’t die afgelope paar dae die volgende woorde in jou skrywes gebruik, meeste aan my gerig:
“kognitiewe dissonansie, napraat kruipers, Kruiperkaners leuenagtige, lafhartige napraters, gatkruiper, lafhartige misantroop, strontkoppie, komposstampers”
As jy verskil van my opinie doen dit gerus. Maar hou jouself uit die verleentheid uit. As jy die argument verloor, moenie in die riooldam spring en daarvandaan slyk gooi nie. Die ou wat eerste begin stink is jyself. Ek is bevrees tans ruik jy alreeds nie baie lekker nie. Jou ge-allieerdes gaan al minder word, want dis nie lekker om naby jou te staan nie.
Dirk Rigter


Kommentaar
Dirk Rigter,
My kommentaar handel oor die idee daaraan, en nie oor jou of enige ander persoon nie.
Waarom is dit kamstig riool om 'n geharde naprater, 'n naprater te noem; 'n kruiper, 'n kruiper te noem ...
Wat is die eerbaarste; om lafhartig, naprater, kruiper, misantroop, genoem te word, of aandadig aan die grootste misdaad teen die mensdom te wees?
Gelees aan jou oordrewe skuldgevoel hierbo, is elke woord waarin jy my buite konteks aanhaal 'n kompliment gereken teen die Afrikaner se apartheidskuld.
As 'n politiek geskape Afrikaner, beken jy met absolute oorgawe jou misdaad teen die mensdom .
Let wel: Jou gevoelvolle skuldigpleidooi vir apartheid dien by uitstek die mag van die dag.
Dit blyk ook duidelik uit jou propaganda hierbo dat die Afrikaner geen keuse had tot oorgawe nie ...
Wees gerus skuldig namens JOUSELF en die res wat hulself daarby wil sleep ...
Dirk Rigter, jy lees ook die gety nes dit jou pas, daarom dat jy ook so maklik neersien op die gru van die vermoorde AWB lede.
Eweneens ek jou daaraan herinner, dat ek ook gereeld die woorde "apologeet vir plaasmoorde" in my kommentaar gebruik.
Wat is die verskil tussen die teregstel van die AWB lede langs hul verflenterde blou Mercedes destyds, en die wrede versuip van 'n Afrikanerkind in kookwater op 'n plot iewers in die Suide van Gauteng vandag?
Die haat teenoor Afrikaners wat die gety kamstig verkeerd lees en wat jy met soveel behae in jou agenda verdedig Dirk Rigter, het selfs die leier van die AWB ook nie ontsien nie ... en daar is nog 'n lang lys slagoffers die toekoms in wat deur sulke heldhaftige skuldgevoel onder die mat gevee gaan word ... mag Jesus Christus onse HERE, al hierdie vermoordes se siele genadig wees.
Lees die gety maar gerus nes dit jou pas Dirk Rigter. As die dis skoen jou ook pas ... DRA DIT!
'n Geslag of wat gelede (voor 1948) was daar ook kruipers (hanskakies) wat neus in die lug neergesien het op die vermoorde vroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe.
Feit is; die Voortrekkers en hul nasate het nog altyd die Ingelse se segregasie verwerp.
Onder meer daarom ook dat die Boere destyds met 'n Gideonsbende bestaande uit 'n hele reënboog van nasies, volke en kleure - die Britte - die grootste mag in die wêreld, met ongekende durf aangevat het! Vandag is daar slimjanne wat die medelye van soveel toegewyde nasate uit die Voortrekkers, beswadder, misken en probeer beskaam.
Segregasie (apartheid), het saam met die Britte voet aan wal in die Kaap gesit.
Waar dink die kruipers vandag in hul oordrewe en gebreinspoelde skuldgevoel, kom die kleurlinge vandaan as die "Dutchmen" dan kamstig sulke wrede apartheidsmisdadigers was?
Waarom praat die Kaapses nie die Kwien se Ingels, as die Ingelse dan kwansuis so onskuldig liberaal kom onderdruk het destyds nie?
Nee wat Dirk Rigter, ek daag jou om die verskil tussen die Britte se segregasie 1900 tot 1948, en die politiek geskape Afrikaner se apartheid 1948 t0t 1994 te verklaar.
En wees jy maar 'n ridder op die massamedia, en wees maar aandadig aan apartheid - EK IS NIE! Meneer FW de Klerk, het nie soos die slim Afrikaanse napraters vandag as 'n misdadiger gaan kruip nie (of het hy?)
Ek had nog altyd respek vir die WAARDIGHEID wat meneer FW de Klerk ook namens my as 'n burger van hierdie land, destyds by die onderhandelingstafel gebring het - al het ek nie ooreenstemming met sy proses nie!
As trotse Voortrekkernasaat groet ek jou,
Cornelius Henn
... en o ja, ek herinner myself ook nie waar ek jou 'n strontkoppie of 'n komposstamper genoem het nie, maar nou ja, wees dit ook maar alles as jy wil ...
Ja, Cornelius Henn, as jy rêrig niks meer by te voeg het tot die debat nie, en jy al die byvoeglike (skel)naamwoorde waaroor jy beskik, reeds opgebruik het, wat bly vir jou oor? Dan skryf jy lang losstaande sinne met twee maal dubbelspasiëring tussen in. Die groot oop spasies tussen jou sinne is kenmerkend van jou denke: Groot wit lugleegtes... Dis ongelooflik om te sien hoe jy 'n absolute gek van jouself maak. Doe so voort.
Weet gerus maar ook dat Dirk Rigter se oordrewe apartheid skuldgevoel en oningeligtheid met sulke napratery daarby wat hy op ander afdwing, gewoon tekenend van 'n nie-standvastige narsis se onvermoë is om hulself daarin te sien.