Afrikaans op SABC

  • 0

Daar word tans wyd berig oor die verskuiwing van sekere Afrikaanse programme van SABC2 na SABC3 en die redes daarvoor. Die seinverskaffer, Sentech word nou deur die SABC baas die skuld gegee dat slegs 'n klein persentasie kykers toegang tot die kanaal het. Dit bly egter onbeantwoord oor wie die kontrak met Sentech aangegaan het – mens sou dink dat dit die SABC self was.

Mens is huiwerig om 'n "samesweringteorie" hier te wil soek, maar vir my is dit so duidelik soos nog iets dat dit presies is wat gebeur. Daar word aangevoer dat die SABC sy kykerstal wil vergroot en advertensie-inkomste wil verhoog deur die voorgestelde verskuiwing – nou hoe kry mens dit reg as minder as 'n derde van die land die sein kan opvang? Daarmee saam wil die uitsaaier nog die Afrikaanse inhoud van 'n program soos 7e Laan na 20% verlaag asof die gomgattaal wat nog Afrikaans nog Engels is nie reeds erg genoeg is nie.

Na my wete het niemand ooit nog die vraag gevra oor waarom die SABC besluit het om Engelse onderskrifte (die geskrewe dialoog onderaan die skerm is "onderskrifte" en nie subtitels soos sommige koerante dit noem nie; net 'n boek kan soms 'n subtitel hê) by die meeste van sy programme te verskaf nie. Is daar ooit opnames gemaak wat bepaal dat Engels die mees toeganklike taal sou wees en hoekom dit verskaf waar die dialoog reeds in Engels is? Hoeveel derduisende Rand word nie onnodiglik daaraan bestee nie. Statistiek is volop wat aandui hoe swak die begrip van Engels is by die grootste deel van die bevolking en dan nog die lae geletterdheidsvlak van die grootste gros kykers. Dis mos geld mors.

Nee, wees verseker, hierdie woelinge om verskuiwing van Afrikaanse programme en vermindering van Afrikaanse inhoud in programme is doodeenvoudig 'n komplot om Afrikaans by te kom vir die euwels van die verlede al sê mnr Kganyago ook wat.

Die tyd het aangebreek dat alle Afrikaanse kykers die adverteerders op SABC3 se programme boikot. Klaarblyklik gee hulle nie om dat tweederdes van die Afrikaanse bevolking nie hulle produkreklame sal sien nie en voel hulle vere oor die taal van 'n groot persentasie van hulle verbruikersmark. Nou laat die bliksems dit dan in hulle sakke voel. En wie betaal nog TV-lisensies of kan ons wat nie SABC3 opvang nie, nou maar 'n kwart van die lisensiegeld terughou omdat ons net drie kanale kan kyk, waarvan een eTV is? Dalk is daar vriendelike kykers wat toegang het tot SABC3 wat die name van adverteerders op daardie kanaal kan deurstuur na die pers en op die internet of faceboek kan plaas sodat ons hulle as Afrikaansvyandig kan beskou en hulle produkte kan vermy.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top