Brief aan Wilhelm – Sondag 13 Januarie 2013

  • 0

Sondag 13 Januarie 2013

Liewe Wilhelm

Weer so lank nie geskryf nie.  Nuus is dat John Kannemeyer se biografie oor JM Coetzee ’n paar maande gelede gepubliseer is – so dik soos ’n Statebybel. John het dit op Kersdag 2011 finaal voltooi.

En Phil du Plessis se weduwee, Katrine Lauga du Plessis, die  amptelike vertaler  in Frans van JM Coetzee se boeke,  en nou ook die biografie oor hom, het ná net ’n paar maande haar vertaling voltooi. Volgens haar seun, Thomas, wat ná Phil se dood by haar gaan woon het, het dit haar maande  lank voltyds besig gehou en verhoed dat sy in depressie verval.

Thomas vertel my ook dat Katrine gaan uittrek uit die kasarm van ’n huis na St James Place, ’n aftreeoord in die gewese St James Hotel. Daar word nou ook skynbaar flink van sy besittings ontslae geraak, en dat hy ’n versamelvoël was, lei geen twyfel  nie. ’n Versamelaar stel glo belang in sy groot versameling ou grammofone, sommige nog met daardie groot tregtervormige koperhorings. Uiteindelik word sy eie gedig oor sy huis by Valsbaai, en Marié Blomerus se gedig oor sy “blou” huis bewaarheid en “huil die mure”.

En nou heg ek vir jou die geskrif aan wat ek vandag na ’n internetwerf, Facebook genoem,  gestuur het. Enige persoon wat belangstel, kan so ’n Facebook-“werf” oopmaak en foto’s en geskrifte daarop plaas waar “vriende”, maar in sommige gevalle ook vreemdelinge, jou plasings kan sien en kommentaar kan lewer as hulle wil.

Iemand wat belangstel om by my “vriendekring” aan te sluit, stuur eenvoudig ’n versoek dat ek die persoon as vriend moet aanvaar. Die “vriendekring” brei op dié manier konstant uit, en sommige ware vriende uit mens se verlede kom nou ook dikwels weer te voorskyn.  Soos in my geskrif hier onder,  kan jy sien dat ek kommentaar lewer op ’n grusame moord van 16 jaar gelede waartydens twee broers ’n onbekende ouer man katswink geslaan het en daarna, terwyl hy nog lewe, in stukke gesny het, die liggaamsdele in drie tasse gepak het, en daarmee op ’n trein geklim het. Toe bloed uit die een tas vloei, gooi hulle dit by die venster uit.

Hulle het albei  lewenslange gevangenisstraf gekry. Die doodstraf was reeds in Suid-Afrika afgeskaf en volgens ’n latere wysiging  van die betrokke  wet  is hulle dus nou geregtig op parool en is die een broer  hierdie week met groot fanfare in die media vrygelaat met banieropskrifte van “Drie grade in die tronk en op pad na doktorsgraad”.

Ek reageer nou hier onder op vandag se verslag oor die aangeleentheid in die Sondagkoerant Rapport. Daarna vertel ek die skokkende storie van Waldo, Pappa se plaasvoorman in die vyftigs van die vorige eeu. Jy sal hom goed onthou en ook die wonderlike kort seevakansie waarop Pappa ons onder sy sorg gestuur het.

O ja, ek vergeet byna dat ek  enige dag die aflewering verwag  van  ’n volgende oplaag  van As die woorde begin droom,  jou versamelbundel, en die plakboekbiografie oor jou lewe en werk, Wilhelm Knobel  die ongewapende man: van kindertyd tot sterwenstyd.

Groete en al my liefde

Deon

Facebook-inskrywing op 13 Januarie 2013

Weer iets oor die sogenaamde Tasmoord van 16 jaar gelede: En toe is daar in vandag se Rapport ’n foto van Riku Nortjé se gradeplegtigheid toe hy sy meestersgraad behaal het. Ek wonder weer wat maak dat ’n jong man wie se ouers  sendelinge is, saam met sy broer ’n ou man katswink slaan en hom dan,  volgens Die Burger en Rapport, uitmekaar sny terwyl hy nog lewe?  En nou vra ’n briefskrywer vandag in Rapport wat geword het van die “Onse Vader” se reël oor vergifnis.  Ek wonder of die skrywer vergeet het van die Tien Gebooie se  "Jy mag nie doodslaan nie"? In elk geval, om nou met Bybeltekste en die “Onse Vader” vorendag te kom, laat my koud.  

Ek gaan vir julle die ware verhaal skryf van Waldo, ’n pragtige, atleties geboude en gespierde jong wit man wat in ons prille jeug as voorman op ons plaas gewerk het, absoluut my ouers se vertroue geniet het, en absoluut wonderlik en vol liefde opgetree het teenoor ons kinders, soveel so dat my ouers hom vir ’n week lange seevakansie met ons drie seuns gestuur het, met die ou skoolbus as ons karavaan. 

Dit was 1952, die jaar van die Van Riebeeckfees. My pa is teen die einde van 1951 tydens ’n tussenverkiesing  gekies as Parlementslid vir Bethlehem en dié kiesafdeling. My jongste sustertjie, wat op 15 Desember 1951 prematuur en as laatlammetjie gebore is, was ’n paar maande oud.

Ek was 13 jaar oud en het  in die bad in my ouers se woonstel in Kaapstad gelê toe ’n telefoonoproep deurkom van oom Abraham, Pappa se buurman, vriend  en vertroueling. Ek kon die ontsteltenis in my ouers se stemme hoor en het haastig uit die  bad geklim, afgedroog en aangetrek om te vra: “Wat het gebeur, Mamma?”  “Waldo is gearresteer, my boet, omdat hy ‘met ’n swart meisie gelol het’. (Daardie jare is dit natuurlik nie so eufemisties gestel nie!)

Hierna moes Waldo  die plaas in skande en met ’n wolk van verdoemenis en in groot geheim weens  die voorval verlaat – omdat hy kwansuis ’n jong swart meisie verkrag het.  Die saak is nooit weer in ons huis bespreek nie,  sy naam is nooit weer genoem nie, en die ongelooflikste van alles is dat geen verslag ooit gedoen is oor die bevinding van “onskuldig” ná  die hofsaak wat in die Magistraatskantoor van Paul Roux plaasgevind het nie.

En in my hart en siel het ek oor die verlies van hierdie kinderheld van my getreur!

Op 5 Januarie 2013 besoek ek ’n jeugvriendin wat in ’n spoorweghuis op die Meets Spoorwegstasie langs ons plaas grootgeword  het. Elke Sondagoggend het die kinders opgestap na ons gesin se huis en is daar vir die kinders van die gesin en omgewing Sondagskool gehou.  Daarna is gespeel dat die honde huil, al was dit Sondag en mag ons Sondagmiddae aan geen speletjies deelgeneem het nie.  Ongevraagd vra Johanna my tydens ’n stilte in die geselskap of ek vir Waldo onthou. "Ja, natuurlik! Ek was so lief vir hom en het hom feitlik met heldeverering aanbid."

"Wel,” sê sy, "ná ek standerd agt gemaak het – my ma kon nie verder skoolgeld of losies in Bethlehem bekostig nie; sy het agt pond ’n maand verdien en die losiesgeld was vyf pond – het ek in 1953 in die Magistraatskantoor van Paul Roux begin werk. Omdat Waldo se saak my steeds gepla het, het ek die dossier van die hofverrigtinge getrek. Tot my skok moes ek ontdek dat die magistraat hom onskuldig bevind het omdat die klaagstermeisie onder kruisverhoor erken het dat sy en haar twee maats, by wie Waldo glo ’n adres waarheen hy op pad was, gevra het, die hele saak opgemaak het. Nadat sy haar twee maats vertel het dat sy die vorige aand seks gehad het met haar kêrel en bang was dat sy swanger sou raak, maak hulle toe maar die storie van verkragting op.”

"Ek het self die kledingstukke van Waldo wat as bewysstukke ingedien is en op daardie stadium nie meer nodig was nie, verbrand," sluit sy af.

Ek was tot in my diepste wese geruk en selfs in ontroering geskok.

Sestig jaar ná die onreg teenoor iemand wat deur die hele gesin gewaardeer en vertrou is, kom die waarheid uiteindelik te voorskyn.  Sestig jaar te laat!  En waarom is die gemeenskap en die boer se gesin nie van sy onskuld vertel nie?

Maar daardie jare is kinders mos "beskerm" teen "onaangename" gebeurtenisse.  Ná sy vertrek het ek weer die seevakansie-foto’s uitgehaal – dis tot vandag in my fotoalbum te sien.  (Op hierdie einste oomblik kan ek dit nie vind nie, maar ek sal “soek en jy sal vind”!)

Ook jare ná die verdwyning van Waldo uit ons lewens ry ek en my moeder ná ’n besoek aan my suster Estie en haar man Herman op Tsjilidzini, waar hulle sendingwerk gedoen het, deur Pietersburg en onthou ek dat hy daarvandaan gekom het.  Ek het sy ware van in die telefoongids van ’n foonhokkie opgesoek en met die vrou wat die foon geantwoord het, gesels.

"Ja,” antwoord sy, “dit was my seun. Hy was so gelukkig op julle plaas. Maar na sy vertrek met die skande van die beweerde misdaad op sy kop het sy lewe in duie gestort en het hy kwaai begin drink.  Een Saterdagnag het hy nie huis toe gekom nie en is sy liggaam die volgende oggend dood gevind waar hy met sy gesig in ’n vlak poeletjie water lê.  Maar Meneer, mens verdrink mos nie in ’n vlak poeletjie water nie?"

Persoonlik het ek geglo dat hy die aand dalk  soveel  gedrink het dat hy bewusteloos neergestruikel het met sy gesig na onder en dalk die water uit die poeletjie ingeasem het.

Op pad vanaf Pietersburg na ons huis in Bethlehem het ek my hart oopgemaak oor my liefde en bewondering vir hierdie pragtige man.

Wat ’n vermorsing van ’n lieflike persoon deur die kwaadwilligheid van ander, en wie se naam nie dadelik deur die gemeenskap en sy werkgewer in ere herstel is nadat hy onskuldig bevind is nie.

Deur nou oor Waldo te skryf, hoop ek dat iemand daar buite wat dalk met hom of sy familie bevriend was, of dalk ’n familielid uit die Pietersburgwêreld self, my verhaal oor hom sal lees om sy onskuld verder aan die wêreld oor te dra.

Aan al my familielede wat dalk vir Waldo of die voorval onthou, of selfs te jonk of ongebore was toe dit gebeur het, stuur ek ook hierdie “getuigskrif” oor Waldo aan sodat so ’n onreg nooit weer in ons familie sal plaasvind nie.

Deon Knobel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top