Brief aan Wilhelm - 5 November 2012

  • 0

Bel Monté, Kaapstad 5 November 2012

 

Liewe Wilhelm,

Ons suster  Thereschen, ek  en swaer Peter was Sondagoggend 28 Oktober 2012 na Riebeek-Wes om die skilderyuitstalling en die bekendstelling van Hannetjie de Clercq se lewensverhaal in boekvorm by te woon.

Wat 'n inspirerende ervaring. Daar was seker tussen 50 en 100 vriende en kunsliefhebbers wat saamgedrom het om die groot houttafels onder 'n markiestent, gelaai met die mees ongelooflike lekkernye en voedsame kos, wat alles deur Hannetjie en, soos sy dit noem "haar Maria", self voorberei en keurig uitgestal is, net reg vir eet - van dolmades tot 'n keur van kase, heerlike brode en  bakke vol aarbeie met steeltjies intak wat gedoop kon word in dik sjokoladeroom, doopsouse, brode, en patees van allerlei heerlike soorte om van te kies.

Wilhelm, sy verwys hier na Mamma se eie Maria, die voorslagvrou in die kombuis wat vir baie jare heerlike maaltye voorberei het vir dosyne gaste aan die lang eetkamertafel. Hannetjie met haar kinders en destydse eggenoot, Martin Wessels, of Tjops, soos ons hom geken het, sou beslis saam met Tannie Ria, Martin se ma by ons kom kuier het en so ook vir Maria leer ken het.

En bo in die kamers van die Valley Hotel se anneks het dosyne skilderye gehang, magiese verbeeldingsvlugte van 'n skilder wat in die pragboek oor haar lewe en werk, vertel hoe sy deurentyd as klein kind deur 'n streng moeder vermaan is met die woorde: "Moenie! Moenie so hoog in die boom klim nie! Moenie vir jou self probeer tjippies maak as jy net vier jaar oud is nie," en 'n duisendvoud verdere "Moenies." 

So het die sensitiewe kind, met die "wilde hare" haarself onttrek in haar eie verbeeldingswêreld waar net sy kon doen wat sy wou en droom en fantaseer.  Sy beskryf pragtig hoe die huishulp die een was wat haar met liefde en begrip hanteer het.

En hierdie verbeeldingswêreld van die sensitiewe kind het later in die verbeeldingsvlugte van haar aangrypende skilderye uiting gevind.

Haar twee kinders by Martin Wessels – of "Tjops" soos ons hom as kind en jongmens geken het – Wilhelm en Naomi, was daar om Ma by te staan en te waardeer. Naomi, self 'n kunstenaar, het dié dag net tussen die gaste beweeg en gesels.  Want, sê sy, “ek het vir weke tevore gewerk.”

Dis ook Naomi wat die ontwerp van die kunsboek se voorblad gedoen het.

Die jonger broer, Wilhelm soos ons hom geken het, maar wat homself nou herdoop het na "Van" het self van sy beeldhouwerke ten toon gestel. Eweneens, net soos "Magiese Ma" is sy werke sy eie verbeeldingsvlugte en herinner sterk aan die beeldhouwerke van Pa Tjops, van wie ek 'n paar besit en waarvan uit Moeder Esther se nalatings verskeie hulle weg gevind het na die huise van 'n paar kleinkinders.  Een van my werke van hom  is uit growwe klei gemaak (soos gewoonlik in die ou tyd vir rioolpype gebruik) en sy, met lang hare van sakgaring en 'n ewe lang, slanke nek as baie van Hannetjie se vrouefigure in haar skilderye, is romanties deur Tjops die naam gegee van Hazel B Jenkin. En sy staan in my sitkamer op 'n eie klein driehoek-tafeltjie.

Riana Scheepers het die boek op treffende wyse bekend gestel en Hannetjie se onderskeie fasette en karaktertrekke uitgebeeld.

Sy het ook die pragtige verhaal vertel van waar hulle vriendskap, as ek reg onthou so ver as 1988 begin het. As student met min geld het Riana in Bloemfontein een oggend na die Kunsmark gegaan, en betowerd voor een van Hannetjie se skilderye gaan staan. Die belaglike som van R40,00 vir die werk was nogtans vir Riana te veel omdat sy net eenvoudig nie die geld gehad het nie.

'n Jong vrou, "met wilde hare" het haar genader en gevra of sy van die werk hou. "Vreeslik baie, maar ek het nie R40,00 om daarvoor te betaal nie." 

"Vat dit! Vat dit vir jou," kom die antwoord van die jong vrou, tot dan nog aan Riana onbekend as die skilder, Hannetjie de Clercq.

"Maar ek kan nie daarvoor betaal nie!" kom dit van Riana.

 "Vat dit! Vat dit vir jou, en jy kan my afbetaal as jy die dag geld kry." So het die wonderlike vriendskapsverhouding ontstaan en het Hannetjie vir Riana gevra om die teks van die kunsboek oor haar werk en lewe te skryf.

"Nie hoogdrawend en aansitterig nie. Sommer eenvoudig en mooi."

So  het Riana geskryf oor Hannetjie se storie van haar lewe, en vir die "weelderige" uitgawe van die kunsboek wat nog moet verskyn, het sy onder elke afdruk van 'n skildery 'n kort vers geskryf.

Namens Thereschen en myself het ek die kleiner formaat van die boek gekoop en so begeesterd was Thereschen met haar skilderye dat sy vir haarself ook een gekoop het, om (moenie vertel nie) van die afdrukke uit die boek te sny en te raam.

In die boek praat Hannetjie oor moeilike tye in haar lewe, maar dat engele in die werklike lewe, soos in haar skilderye, telkens op haar pad gekom het om haar by te staan.

En een van die engele op Clarens was ons eie geliefde tante Lotta, van wie dié pragtige foto, eeue gelede deur Martin se broer, Jurie Wessels geneem, 'n ereplek in die boek gekry het. Sy het die foto van Lotta se begrafnisboekie geneem, as enigste foto van Lotta wat sy besit.  Ek kon haar vertel dat ek vir Mamma gehelp het om die begrafnisboekie saam te stel, sodat Lotta se fyn kunssinnigheid ook daarin weerspieël kon word.

Hier onder heg ek die foto uit my eie argief aan en ook die foto wat in 1988 geneem is in die skuur van Vêrsien, waar drie gryse ou Moeders, van links na regs, ons eie Lotta met Lotta se twee hondjies, Ma Esther, Tannie Ria (Tjops se ma en op 'n tyd Hannetjie se Skoonma) op Ou Kersmiddag in die groot skuur verby die braaiplek van die beesbraai vir die werksmense, stap.

By  Hannetjie se vorige tentoonstelling in Julie het ek twee mooi turkooisgroen borde van "Van" gekoop en Sondag 'n klein snaakse beeldjie genoem "Bangbroek",  met albei hande omhoog in die lug, en ek het dit nou weer ontleed as Bangbroek wat sy hande oplig om terug te veg vir sy regte in die lewe.

 Ek het ook gesoek  vir foto’s van Hazel B Jenkin en van die snaakse honde met grynsende tande van Tjops, wat langs die swembad van Herman Visagie Junior, op Stellenbosch staan.

Hier volg nou die prente-gallery van Tjops se honde, Hazel B Jenkin, Hannetjie se elegante langnek vrou, en twee van “Van” se Tjops-agtige beelde. Die borselkophare van die een waarlangs hy sit bestaan uit skerppunt spykertjies wat vingers seer sal prik as hulle daaroor wil streel. 

Daar bestaan van Tjops ook beelde uit gepoleerde stukke boomstam of wortel, een met 'n snaakse lang gesig en prominente ken. Die swart klip wat in ‘n holte van  'n sy-helfte van die gesig as moesie gedien het, lê êrens op Vêrsien se werf en volgende keer as ek op die plaas kom sal ek daarvoor soek.

Ek hoop ek gee jou 'n klein blik op die fantasiewêreld van Hannetjie en haar seun Van, om nie die wêreld van Tjops te vergeet nie.    Die foto’s van Hannetjie se skildery en Van met sy beelde is geneem by die uitstalling en die beligting en invalshoek was nie altyd na wense nie, maar ek het maar ge"crop" en lig en kontras aangepas so goed ek kon.

Toe het ek gespot, ook met Thereschen en Peter wat mal was oor nommer 11, die vrou met die kat in haar arms. (R14 000+): "Gaan staan net voor die skildery en lyk ge-'mesmerize' soos Riana in Bloemfontein. Dalk kom Hannetjie op julle af en sê 'Vat maar en betaal af wanneer julle kan?'"

Ongelukkig was Hannetjie so besig om boeke te teken dat sy nie tyd gehad het om die aanbod te kom maak nie.

Liefde aan jou,en ons gesels later weer.

Van 'n bewonderaar van 'n groot kunstenaar en haar twee talentvolle kinders – en om van Tjops uit ons kinderdae nie te vergeet nie.  

Deon

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top