My Liefste Lodewyk,
Vanaand, spinnekop verlange my gedagtes tot flenters. Fyn sydrade wat gister onthou vasheg aan vandag. Nou skryf ek 'n brief aan jou. 'n Brief met pienk blommetjies. Ja, ek onthou hoe gek jy oor pienk is. Pienk melkskommel en pienk sjampanje. Ek het jou altyd gespot oor daai pienk T-hemp.
Ek onthou, hoe jou woorde my hart kon versag. As jou hande my gesig omraam en jou soene op my voorkop my uitbundig laat lag. Die warmte van jou menswees het my laat glo ons sal saam oud word. Beloftes onder sterre en oop strande. Onthou jy die dag op Paternoster? Jy met jou kitaar en ek wat wild om en om dans op die ritmes wat jy opgetower het. Ons het saam op die sand geval van pure lawwigheid en so in mekaar se arms gelê. Die meeue het nuuskierig eenkant gestaan en kyk en raserig kommentaar gelewer. Ek wonder of jy ook soms wens. Ons terug wens tot by die plekke waar soveel beloftes gemaak is.
Terwyl reëndruppels traan spore los teen die venster en die wilgers treurig wieg in die wind, wil ek jou onthou. Ek wil onthou hoe maklik jy ons kon vergeet terwyl my kop snags op klippe wag en my hart bloeiend ritmies klop. Ek krap jou los van my af maar in my gedagtes kom jy terug. Want soos gister is jy deel van my vandag. Al is jy vêr, doer vêr van my af, is jy tog net hier in jou lêplek onder my vel.
Winde van verandering sleep my saam die toekoms in. Ek en my spinnekop alleen. Êrens het woorde en ink ineen gevloei tot onkenbare spatsels niks. Die maan en sterre betaal jou skuld van beloftes uit jou hart. En ek fluister vergeefs jou naam.
Jou X
Susarah
Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


Kommentaar
Pragtig en intrigies gestel.
Dis 'n baie mooi gedig, iets mooi & diep uit die hart. Ek hou daarvan.
STUNNING BRIEF SO DIEP UIT DIE HART....
Stunning brief so uit die hart xx