Aan Jaco – die gees en siel

  • 10

(Beste Jaco

Alhoewel ek hierdie al 2 dae terug geskryf het, is ek steeds versigtig om dit in te stuur. Die onderwerp lê na aan my hart en wil ek dit nie graag vir die wolwe gooi. Ek voel egter verbind aan my belofte waarin ek jou laat weet het ek sal terugskryf.)

Jaco het gevra wat is die verskil tussen die ‘gees’ en die ‘siel’ van die mens. Daar is vele sieninge, selfs vanuit die preekstoel, maar dink ek dit is een van daardie onderwerpe wat nooit ’n finaliteit of alwetendheid sal bereik. Kennis en ondervinding word beide as noodsaaklik hierin gesien.

Hierdie brief het niks te maak met ’n godsdiens, geloof of dogmatiese leerstelling nie. Veel eerder is dit ’n studie omtrent die drievoudige samestelling van die mens. Dit word wel bespreek aan die hand van bybelskrifte, aangesien dit die enigste boek is wat die skeiding duidelik oopbreek: “For the word of God is living and active, sharper than any two-edged sword, piercing to the division of SOUL and SPIRIT, of joints and marrow, and discerning the thoughts and intentions of the heart.” Heb 4:12

Die skrywer van hierdie vers verdeel die mens se nie-stoflike elemente in 2 dele nl die siel en gees wat albei  in natuur en funksie verskil. Hou in gedagte dat die rasionele net so belangrik soos die spirituele is, daarom sal die opgewondenheid van die siel, indien dit die gees se gevoel uitdruk, uiters waardevol wees; en die gedagtes van die siel, indien dit die gees se bedoeling ontbloot, kan baie instruktief wees vir die ‘self’.

Geniet hierdie skrywe, moenie dit sien as dinge waarvan ek jou wil oortuig, ontdek eerder jou eie kreatiwiteit tussen die lyne van: HOE is ek aanmekaar geweef in my moeder se skoot. Begrip in die ruimte van my drie-dimensionele sfere asook hul skeiding is van uiters belang om myself te ontdek en daaglikse optredes van die ‘self’ te verstaan en te beheer.  

Hoe het my siel ontstaan?

“And Jehovah God formed man of dust from the ground, and breathed into his nostrils the breath of life; and man became a LIVING SOUL.” (Gen 2:7) Wanneer die lewensasem ontvang word, ontstaan die lewende siel. Let wel dat die mens se gees is nie die Heilige Gees nie (wat gesien word deur gelowiges  as die derde Persoon in die goddelike 3-eenheid). Sodra die gees van die mens in aanraking kom met die lewelose liggaam, ontstaan die lewende siel. Die liggaam sonder die gees is dood. Die siel weef die liggaam en gees aanmekaar, word die ontmoetsplek van die gees en liggaam en word die individualiteit van die mens gebore.

’n Eenvoudige voorbeeld is kleurstof wat met water meng en ’n derde substansie naamlik ‘ink’ ontstaan. Hierdie afhanklike elemente van mekaar nl die gees en liggaam wat saamkom, baar die lewende siel wat die “EK” is.

Is dit nodig dat ek uit 3 dimensies moet bestaan? Ja, want elke deel is verantwoordelik vir sy eie funksies en werkinge op my lewenspad. Deur my liggaam maak ek kontak met die materiële wêreld en stoflike aarde om my. Die siel wat my intellek en bewuste huisves ondersteun my huidige teenswoordige staat van bestaan en bevat my emosies wat voortvloei vanuit die sintuie. Die gees is die diep verborge innerlike wese van my bestaan wat kontak maak met die onsienlike wêreld.

Omrede die siel aan die mens behoort, is dit die woonplek van self en openbaar my persoonlikheid en karakter, wat die ‘selfbewuste’ genoem word. Die gees van die mens is alleen in staat om kontak met die geesteswêreld te maak en word die element van ‘spirituele bewustheid.’ Sien ook dat die bybel verklaar dat God is Gees, en kan gees net met Gees kommunikeer.

Beter begrip kom dan hoe kontak met afgestorwenes plaasvind, alhoewel ons nie hier daarop ingaan. In die meeste godsdienste is daar religieuse praktyke of rituele en spesiale mense wat daarop aanspraak maak dat hul oorlewendes kan kontak. Dit is so dat die dood van ’n geliefde die mees emosioneel-traumatiese ervaring is wat op aarde beleef word en raak dit die mens in sy gees en siels-emosies dieper as enigiets anders.

Maar ja, ongelukkig is dit so dat die liggaam gesondheid en siekte kan beleef, die siel emosionele probleme kan optel maar ook emosioneel intelligent kan word, en die gees interaksie kan verkry met beide lig of duisternis. Daarom verbied God hierdie kontak met die onsienlike wêreld. Dis gevaarlik. My stelling is dat indien die fisiese siek is, is die medici daar, indien die siel skade gely het, is die psigiater of berader daar en as die gees bindinge ondervind is die bevryder daar. Voordat genesing dus gesoek word is dit belangrik om eers te bepaal in watter deel van die dimensie die ‘siekte’ of wortels lê. (En hierdie een gooi ek net vir nou in Jaco: Kom ons vat jou homoseksualisme. Is dit gesetel in die liggaam, siel of gees? Daarom is ek versigtig in uitsprake hier. Dit hang af wat en waar die wortel groei.)

Henry W Wright se boek: A more Excellent Way to Be in Health, beweer dat meeste van ons fisiese siektes hul oorsprong vanuit die psige (siel) het of gees (geestesversteurings). Ons weet dat baie chemiese medikasie net simptome onderdruk of die pasiënt help om daarmee saam te leef. Interessant die woord “disease” beteken ’n tekort aan “ease” of aan “vrede”. Indien ek nie leef in vrede is dit nie ’n mediese saak nie, maar veel eerder ’n geestesafwyking. Vat depressie of vrees van ons tyd. Gaan dit my help om slaappille te drink? Hoe lank wil ek dit drink? Totdat verslawing kom en alles vererger? Waar is genesing vir depressie? Die oorsaak mag vlak lê, miskien net in die siel, genesing hier is maklik, maar dit kan dieper in die innerlike kern van jou wese skuil, dan sit dit vas in die gees. Daarom noem die Woord: ”Ek het julle nie ’n GEES van vreesagtigheid gegee nie, maar van liefde, vrede, selfbeheersing...” Die engelse bybel praat van ’n ‘sound mind’.

Omtrent die gees van die mens

Geen dier besit ’n gees. Dit is juis wat die dier onderskei van die mens. Daarom is dit onmoontlik om vanuit ’n dier te ontstaan. Die gees kan nie direk deur die liggaam opereer en benodig die sielsmedium. Gees bewoon gees, self bewoon die siel, sintuie bewoon die liggaam.

Die gees van die mens word soms met ‘hart’ vertaal in die bybel waar die innerlike getuienis gesetel is of wete. Die gees is ontwerp om te heers, terwyl die siel met sy emosies en begeertes ondergeskik moet wees, anders is daar wanbalans. Ek (Trienie) sal my gees (wanneer nodig) aanspreek om op aandag te staan wanneer my siel in ’n emosionele oorlogsveld gewikkel is en dit dan ’n verstandelike stryd teenoor ’n geestes geveg word. Dit stel my in staat om my emosies te ontleed, rasioneel na dinge te kyk en in beheer van gevoelens te bly. Glo my, ’n oefening waarsonder ’n vrou nie eintlik kan. Dis belangrik om te weet vanuit watter drie bronne inligting of stemme na my kom. Dink terug aan Raed-na-Gael (ek meen dis hy) se brief van nou onlangs ivm sy droom. Vanuit watter bron het hy dit ontvang? Vanuit self (siel/onderbewuste) of vanuit die duisternis of vanuit die lig. Ons praat nie drome, maar as ’n droom duidelik en helder na jou kom en jy gereeld daaraan terugdink, is dit ’n goeie teken dat dit ’n droom vanaf die Heilige Gees is. Die Dromer sal weet. (Studeer gerus Job 33:14-18)

Die gees van die mens is nie beperk tot die sfeer van die siel of liggaam nie. Dit strek verder uit. Hier wil ek nie te veel ingaan maar net kortliks noem dat dit die rede is waarom die kognitiewe (siel) soms dinge vooruit weet, dit mag genoem word om iets te ‘onderskei’ of innerlik bewus van te word, wat vanuit die  9 Geestesgawes vloei. Sommige praat van ’n ‘voorgevoel’ of sesde sintuig. Dit word genoem die ‘woord’ van Kennis of die ‘woord’ van Wysheid deur my gees ontvang. Genoeg gesê.

Loer vir ’n oomblik na die volgende skets omtrent die samestelling van die mens:

 

 

Daar kan vele geskryf word oor die funksies van die gees en ondervinding dmv: Intuïsie, gewete en gemeenskap. Weereens het ons die Skrif nodig en wil ek nie daarop ingaan, aangesien daar vele lesers is wat alreeds tot hier sukkel om te sluk. Eintlik is hul al vies vir my. Miskien moet jy ook net tot hier lees, Jaco.

Baie mense sit met ’n ‘slumbering spirit’. Het geen ‘pheuma’ in hulself en gebruik ek gewoonlik ’n geel ballon as voorbeeld wat afgeblaas is. Die wedergebore gees plaas my egter in ’n unieke posisie. Spr 20:27 verklaar dat “die gees van die mens is ’n lamp van die Here, dit deursoek al die kamers van die binneste.” Adam sterf agv die sondeval na sy innerlike wese en gees, die kern van sy menswees. Want God het hul geesgemeenskap (wandel in die tuin) onttrek. Terwyl die mens lewe, is sy gees altyd in sy liggaam. Slegs dood kan skeiding bring wanneer ek die gees gee.

Alle geestelike lewe is verborge lewe. 1 Kor 2:1 “Want wie van die mens wat wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.”

Petrus praat van die “verborge mens van die hart”. Die mens woon in ’n tentwoning wat tydelik van aard is, net soos enige materiële woning met tyd vergaan, maar sal die gees nooit sterf. Daarom dat Paulus praat van die dinge wat ons ‘sien’ is tydelik, maar die onsienlike is ‘ewig’.

Wie is ek? Ek is die mens aan die binnekant. Die verborge mens van die hart. God se natuur is liefde. As my gees wederbaar word ontvang ek ’n stukkie van Gods liefde asook ’n oorvloedige ewige lewe. Adam word herstel.

Die gees dra sy eie stem van gewete, intuïsie en leiding. Ander mag dit ’n “hunch” noem, ’n voorgevoel, ingewing of dalk vermoed ek iets of weet dat ek weet dat ek weet. Dis jou gees. Gelowig of ongelowig, ons almal is geeswesens en WEET dinge deur die gees. Sommige beoefen net hul geestessintuie om fyner te luister. Ek dink ons moet meer begin luister na ons innerlike stem wat ons waarsku, sodat ons minder foute en verkeerde besluite neem in optredes en reaksies.

Daarom word die gees van die mens gesien as die mees eerbare van sy totale wese.

Hierdie brief was slegs ’n inleidende kykie in die verborgenheid...

Trienie Mahne

(Nou toe – stenig my met vrot tamaties! Ek kan dit vat. My gees is sterk.)

  • 10

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Trienie Mahne,

     

    In die eerste plek sou 'n mens miskien 'n gewete teenoor die bronne wat jy weereens hier misbruik verwag het - 'n mens noem dit eintlik plagiaat!

     

    Het jy dit dalk in katkisasie iewers geleer, of het jy dit straks wonder bo wonder - alles in jou eie gedagte oorgekom?

     

    Tweedens, in jou vorige bydrae hieroor het jy ook die Bybel herskryf rakende die siel van diere.

     

    Het jy hoegenaamd 'n gewete rakende iets so kardinaal soos die siel van ander lewende wesens, of dryf die miskennig daarvan jou ook tot geesvervulde trane - nes die dag toe Wouter Ferns ander se spiritualiteit misken het?

     

    Trienie Mahne, as sodanig jou erns, is hierdie kennis ook seker net joune en nes Kobus de Klerk "debatknopers" vermy, en jy dit tot jou eie eer sal manipuleer.

     

    Laastens, ek weet as ware Christengelowige het jy ook geen gewete jeens die koste van jou "liewe Trienie veldtog" gereken teen die Evangelie nie ... dus, kruip maar dieper in jou farisese gat vol selfbejammering en "vrot tamaties" - sonder om my vrae eens te probeer antwoord.

     

    Cornelius Henn

     

  • Trienie

    Dankie vir jou deurdagte terugvoer.  Ek het dit vlugtig gelees, en sal dit met die eerste geleentheid in meer diepte deurlees en daarop respondeer. Ek moet bysê dit lyk indrukwekkend.

    Ek is tans in Oudtshoorn saam met 'n mal klomp pels van my, en met 'n geleende "mountain bike" ten doel om more die Swartbergpas aan te vat tot Prins Albert.  Die afgelope paar dae was in-oefening sessies.  My bene brand, my longe wil ek uithoes, en my ingewande uitbraak, so onfiks is ek.  Gelukkig is ek nie die enigste onder die klomp nie, anders het ek opgepak met stert tussen die bene, huistoe gery.

    mbt Cornelius.  Sy Christelike haat teenoor jou ken geen perke nie.  Maak nie saak wat jy skryf, en hoe ingelig ookal nie, gaan hy jou afkraak.  Sieklik!!  Hy probeer orals op die Net sy onvermoëns, sonder sukses, van al die lesers te verberg.

    Hy behoort beslis professionele hulp op te soek.

    Jaco Fourie

  • CorneliusHenn

    Ek kan verstaan hoe Tim voel: http://www.artthesystem.com/2013/08/just-like-tim.html  (nes ek) ... dis egter steeds hartseer hoe daar onder mekaar gekruip word deur die sogenaamde "agnostiese ateiste" en ware gelowiges - alles ten koste van die Evangelie ... hulle wil net as slim deur hul ewe misantrope (twee kante van dieselfde munt) gelek word - al is hul kamstige kennis ook hoe vals! ... hartseer groete, Cornelius Henn

     

     

  • Chris Dippenaar

    Hello Trienie

    Ek wou eers reageer op jou brief omdat daar so min is waarmee ek met jou saamstem, maar het myself toe bedink. Ek dink dat Hennie se bydrae die krediet kan kry hiervoor.

    'n Mens kan heeltemal verkeerd wees oor iets en nog steeds die regte ding doen. Ek, persoonlik, dink dat jy verkeerd is met omtrent al jou idees, maar ek gaan darem vreeslik mislik wees as ek probeer sê dat jou idees skade aanrig aan mense met wie jy in aanraking kom. Ek dink nie dat dit waar sal wees nie.

    Hoe's daai vir 'n ryp en rooi tamatie, reg om te eet.

    Chris

  • CorneliusHenn

    Trienie Mahne,

     

    Reken die volgende werklikheid teen jou afgerigtheid om 'n bepaalde en sogenaamde Christelike agenda te dien:

     

    Die feit dat ek telkens die dwalinge wat jy en Kobus de Klerk kwytraak mediteer, is inderdaad uit my medemenslikheid.

     

    Deur gedagte aan jul dwalinge te gee, bemors ek myself daarmee - dis tog vanselfsprekend uit al die reaksies waar ek waag om julle aan te haal.

     

    Ek kan lang relase lewer oor hoekom ek so teen my instinkte handel, maar weet verseker dis eintlik net ter wille van die Evangelie.

     

    Ek oorweeg geruime tyd reeds waar ek die afsny moet maak, maar dis op die end tog die HERE se wil want dis nie my kennis waarmee ek 'n reputasie vir myself bewerk nie, maar 'n apostoliese en katolieke belydenis in my hart wat ek uitdra.

     

    Die belewenis in my hart wat ek graag hier deel, hang ook geensins af van hoe jy en die ander sinici dit hoon nie; wel net die verantwoordelikheid wat ek teenoor my naaste het.

     

    Vir jare reeds verweer Kobus de Klerk sy mensehaat op dieselfde gronde.

     

    Wat is dan die verskil tussen my en julle ware gelowiges se "gebreek in die liefde van God"?

     

    Anders as julle sogenaamde ware gelowiges se farisese selfverheffing, ag ek geen kennis belangriker as 'n ander se hart nie.

     

    My stryd is die kennis wat julle as God aanbid - die Bybel as Jesus Christus, die Woord van God te verhef - en dit oor ander se harte en besondere verhouding met ons Skepper te pleeg ... ja, dis die bose pyle na ander se harte wat ek sal aanhou om te breek - maak nie saak hoe diep jy in jou berekende swye probeer agter die duiwel probeer skuil nie!

     

    Julle gedweep is deurspek van dwalinge wat ek maklik uit my katolieke katkisasie en ander Godsdiens ervaring kan uitrafel.

     

    Die enkele stukke onsin wat ek wel in die genade van Jesus Christus onse HERE behandel, is so absurd en lasterlik dat ek dit eenvoudig nie sonder gewete kan laat nie.

     

    Weereens, jy en Kobus de Klerk hef dieselfde verweer aan.

     

    Weer wil ek myself onderskei en daarop aandring dat jul verheerliking van die Bybel as Woord van God, beslis enige ander dogmatiese dwaling oortref!

     

    Waar eindig dit dan?

     

    Trienie Mahne, ek nooi jou heelhartig om jou redes vir die verheerliking van die Bybel te deel, en waar ek jou ego belas, jy openlik getuig hoe jou liewe Trienie veldtog as 'n sogenaamde ware gelowige, die Evangelie dien.

     

    Ek is meer as bereid om vergifnis te vra waar jy jou redes behoorlik stel.

     

    Ek het geen bedoeling om ander te oortuig nie.

     

    Ek bedoel ook net self redelik te wees, want dis in die eerste plek nie my kennis waarmee ek 'n reputasie probeer bou nie - dis gratis en verniet - borrelend in oorvloed uit die lewende Fontein van die Ewige Lewe!

     

    Hieruit behoort my stryd met jou en Kobus de Klerk duidelik te wees.

     

    Ek laat die antwoord hierop vir jou  - of enige ander sogenaamde ware gelowige se gewete.

     

    Cornelius Henn

     

  • CorneliusHenn

    Chris Dippenaar,  

     

     

    'n Mens kan inderdaad geheel en al verkeerd wees, en tog die regte ding doen - nes die Heilige Sondaar aan die kruis saam met Jesus - wat selfs in sy laaste oomblikke vir sy "regte ding doen", genade ontvang het.  

     

     

    Beslis 'n BAIE wyse beskouing Chris Dippenaar!

     

     

    ... en dis presies my stryd met die slimjanne op die werf ...

     

     

    Ook daarom dat ek die minagting vir ander se harte, selfs op gronde die sogenaamde spirituele intelligensie van ware gelowiges soos Trienie Mahne en Kobus de Klerk, so waansinnig vind.  

     

     

    Ja, net God ken ons harte, en net God, ken die bedoeling daarin.  

     

     

    Wie is enigeen om 'n ander se geloof, of ongeloof (spiritualiteit) te minag of te probeer ondermyn - selfs met 'n Bybel kamstig in pag?  

     

     

    Meer nog; wie is enigeen om 'n kind se geloof in die openbaar, soos jy dit doen, te probeer ban?  

     

     

    Chris, wat is die kanse dat jy minstens jou veronderstelling naamlik "'n mens kan heeltemal verkeerd wees oor iets en nog steeds die regte ding doen", konsekwent sal toepas - selfs op die uwe se doen (bedoeling) in byna al my bydraes op die werf - en om juis daarmee agting vir ander se geloof, en ongeloof (hart), te bepleit?  

     

     

    Namaste (ek buig nederig ook voor die spiritualiteit in jou)!  

     

     

    Cornelius Henn

     

  • Connie van Rensburg

    Cornelius, daar is nie twee mense in die wêreld met dieselfde geloof nie. Dit is onmootlik vir twee mense om God op dieselfde manier lief te hê. Daarom is daar soveel menings, almal is maar net op soek na God. Dit is goed as ons soek, want dan is ons lief vir die Een wat ons eerste lief gehad het.
    Hou aan soek en jy sal vind.
    Vrede vir almal.
    Cornelius

  • Sjoe! Ek het per ongeluk op hierdie stukkie leesstof afgekom in my soeke na siel, gees en liggaam om my eie verhouding met die Here te verbeter. Maar die kommentaar aan die einde van die stuk het nou sommer emosies gelok van wie is nou die fariseërs in hierdie teks? Dankie vir die skrywer van die leesstuk wat probeer om dit te verduidelik. Vir die persone wat onder kommentaar gelewer het, wil ek graag vra om ook eerder antwoorde te probeer gee van hoe julle dan siel, gees en liggaam sien as om iemand uit te haal wat die moed het om dit te verduidelik. Weet net dat wat jy skryf iemand se pad na die Here toe kan beïnvloed! Ek weet nie wie julle is of watse kerkverband julle staan nie, maar as ek meer uitbrei dan is ek niks beter as julle wat iemand wil teregwys nie. Ek is net ’n doodgewone mens met min Bybelgeleerdheid, wat my pad met die Here begin stap met geen begrip van al julle groot woorde nie.

  • Jo, ja-nee ek het begin kyk meer na die Siel en Gees. Het gelukkig by my Past antwoorde gekry en dit sal ons dan Sondag hoor. Maar as gelowige mense ander so slegsê weet ek waaragtig nie. Dank die Vader ons kerk en kerke om ons loop met liefde in hul harte vir mekaar.

    Hoop jul kry jul geveg vernietig en vul jul harte met JESUS.

    Groete aan die Tannie wat proebeer goed doen.

  • Dit is totaal onnodig om iemand sleg te sê oor 'n onderwerp waaroor daar soveel meningversklille is. Eerder as om 'n mens te verdeel moet 'n mens as 'n geheel sien.
    In Afrikaans het die woord "siel" verskillende betekenisse.
    In HAT 6 word "siel" as volg verduidelik.
    1.Die onstoflike deel van 'n mens, setel van die gevoel/wil/gedagte. In baie gelowe word die siel as onsterflik beskou.
    2. Daar was vanoggend geen siel op straat nie.
    Dit is dus duidelik dat (1) hierbo beskryf in die mens se brein gesetel is en dat Jesus deeglik hiervan bewus is.
    In Mat 5 vers 27/28 sê Jesus.
    Slegte seksuele begeertes
    27 “Julle ken ook die volgende wet: ‘Moenie by iemand slaap met wie jy nie getroud is nie.’
    28 “Ek sê egter vandag vir julle dat slegte begeertes reeds in ’n mens se kop begin, nie in dit wat ’n mens doen nie. As jy byvoorbeeld op so ’n manier na ’n ander vrou kyk dat jy haar in jou gedagtes seksueel begeer, het jy eintlik al klaar by haar geslaap. En dan het jy God se voorskrif oortree.

    En so is bekering dan ook nie 'n emosionele ervaring nie.Bekering is 'n verandering van gedagtes - van hoe jy dinge sien en dit kom slegs deur die verkondiging van die Blye Boodskap en daarom stuur Jesus sy dissipels uit - heel eerste na sy eie mense.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top