Breytenbach Sentrum se skryfskool (2017–2018)

  • 0

Die 4de Skryfskool van die Breytenbach Sentrum begin op 28 Oktober 2017.  Dit duur nege maande. (Tot einde Julie 2018). Die fasiliteerder en mentor is Rachelle Greeff.

Die kursus fokus primêr op die skryf van kortverhale en romans. Hoogstens twee toneeltekste word oorweeg. 

Help ’n skryfskool?

As jy bereid is om gedissiplineerd te skryf en te herskryf, ja.

Die werk van voormalige studente van die Breytenbach Skryfskool getuig hiervan. Manuskripte is onlangs vir die NB Romanwedstryd (debuutafdeling) ingestuur. Van hul werk is gesien in die Woordfeesbundels Bly (2016) en Wys (2017), Die Burger se “Van Alle Kante”-rubriek en die Saterdagbylae, BY, en in Die Taalgenoot. Stories is in Sarie, Rooi Rose en Kuier  gepubliseer. Gewese student Alma Nel skryf bekroonde toneeltekste, Theltom Masemila, ook voormalig, is ’n mededraaiboekskrywer vir Sewende Laan en Suidooster, en die skrywerstudent Francois Verster is ’n finalis vir die kykNET-Rapport Boekprys (nie-fiksie).  Elisha Zeeman was met “Die Mystic en die vlieg” PEN Afrikaans se gekose New Voices-skrywer. Sy het dié storie tydens ‘n groepsessie begin.

Wat sê van die oud-studente?

“Die tekswerk is goud werd. Dit het my ’n groot hupstoot gegee oor wat gebreke is en wat goeie punte.” Willem Krog

“Gassprekers wat mens deurlopend aanspoor en gerusstel maak die skrywerswêreld menslik en toeganklik.” Lize Albertyn-du Toit.

“Rachelle betrek elke student by besprekings, en prikkel jou deurentyd om kreatief én krities te dink.” Lizette Murray.

Die tegnieke en praktiese pas van die klas (by die Breytenbach Sentrum én deur middel van internet-afstandsonderrig) gee aan studente die motivering, inspirasie en instrumente tot gehalte-skryfwerk.” René Lötter.

“Die klasse is interessant, gemaklik en ek sien uit daarna.” Francois Verster.

Hoe werk dit?

Die studente en mentor ontmoet een Saterdag elke maand by die Breytenbachsentrum op Wellington.

  1. Plaaslike en internasionale fiksie-tekste word in die groep bespreek om studente se kritiese vermoëns te ontwikkel. Soms word ’n film, wat uit ’n kortverhaal in ’n draaiboek ontwikkel is, saam gekyk. Almal kry afskrifte van die betrokke kortverhaal om vooraf te lees.
  2. Die mentor bring onderhoude met skrywers, en artikels deur skrywers, na die klas.
  3. Onvoorbereide skryf- en vertaaloefeninge word in die klas gedoen. Die eindresultaat word tydens groepsessies, wat vertroulik en professioneel is, bespreek.
  4. Kreatiewe denke word geprikkel en ontwikkel, ook met praktiese klasoefeninge. Totdat studente verdiep in ’n eie manuskrip is, word sulke opdragte by die huis voltooi en na die mentor gestuur.
  5. Studente word entoesiasties aangemoedig om soveel as moontlik te lees. (Enigiets van die Pronutro-boks tot die jongste Pulitzer-wenner.)
  6. Uitgewers kom kuier. Studente geniet en waardeer dié persoonlike kontak. In aansluiting hiermee word studente touwys gemaak in die afronding van ’n manuskrip vir voorlegging en meer oor die uitgewersbedryf vertel.
  7. Veteraanskrywers so uiteenlopend soos onder andere Ingrid Winterbach, Karin Brynard, François Bloemhof en Wilna Adriaanse word deurlopend by die kursus betrek. Hulle gesels oor hul werkwyse en studente het die geleentheid om hulle met vrae te peper.

Is dit al?

Nee, want die belangrikste werk van die skryfkursus vind tussen die maandelikse groepsessies plaas.

Nou skryf die student by die huis, en is in e-posverbinding met die mentor. Die mentor gee haar oorkoepelende mening, en gebruik die rekenaarfunksie van spoorveranderinge (“track-changes”) om woord vir woord in die ontwikkelende teks te help soos en waar nodig. Haar werkwyse berus op aansporing en eerlike kritiek – met deernis, en dikwels humor.

Kalender

Groepsessie 1   Saterdag 28 Oktober 2017

Groepsessie 2   Saterdag 11 November 2017

Groepsessie 3   Saterdag  9 Desember 2017

Groepsessie 4:  Saterdag 20 Januarie 2018

  • Die lang periode tussen die Desember 2017-sessie en die een in Januarie 2018 gee vir dié studente wat Die Groot Dae vier ’n blaaskans. Maar indien almal dit eens is, begin ons vroeër in Januarie. Studente en die bestuurder van die Breytenbachsentrum, Francois Lötter, besluit saam tydens die Januarie-sessie oor die datums van die res van die jaar.

Groepsessies (vakansienaweke uitgereken) is altyd die eerste Saterdag van die maand.

Somersessies: 8h00 - 16h00.

Wintersessies: 8h30 - 16h30.

Koste sluit sessie-studiemateriaal in asook ’n ligte middagete en versnaperings. 

Hoe doen ek aansoek?

Skriftelik by Jessica Ruiters by info@breytenbachsentrum.co.za

E-pos navrae of bel (021) 873 2786.

Wat moet in my aansoek staan?

  1. Naam & kontakbesonderhede.
  2. Kort motivering (maksimum 100 woorde) oor hoekom jy die kursus wil doen.
  3. Mini-biografie (maksimum 200 woorde).
  4. Titels van die laaste 10 boeke (ongeag genre) gelees.
  5. ’n Ongepubliseerde of gepubliseerde fiksie-skryfstuk, of ’n uittreksel, deur die aansoeker. Poësie uitgesluit. (Ongeveer 200 tot 500 woorde.)

Belangrike datums

20 Oktober 2017        Aansoeke sluit.

23 Oktober 2017        Suksesvolle kandidate benoem.

Onsuksesvolle aansoekers kry ook kennis, sonder verdere korrespondensie.

Wat kos dit?

Die kursusfooi van R1 500 per maand is aan die Breytenbach Sentrum betaalbaar. Betalingsbewys word gestuur aan Jessica by info@breytenbachsentrum.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top