Breyten Breytenbach se The 81 ways of letting go a late self in Kaapstad te sien

  • 1

autoportrait masqué, 1990. Gemengde media op doek, 146 x 114 cm. (© Breyten Breytenbach. Courtesy of Stevenson, Cape Town and Johannesburg)

Die digter, skrywer en kunstenaar Breyten Breytenbach se kunswerke is tans in Kaapstad te sien, as deel van sy solo-uitstalling The 81 ways of letting go a late self.

Die opening van die uitstalling het Donderdag 18 Oktober by die Stevenson-galery in Kaapstad plaasgevind, met Breytenbach self wat teenwoordig was.

Alex Richards, mededirekteur van die galery, vertel hy is bly dat die opening suksesvol verloop het, en hy is positief is oor die aantal mense wat dit bygewoon.

“Breytenbach is meestal bekend as ’n digter en skrywer, en ek dink nie baie mense ken hom as ’n kunstenaar nie, so hierdie is ’n goeie geleentheid vir mense om sy werk te sien,” sê Richards.

“Die werk is so divers. Hier is groot heldergeverfde skilderye wat onlangs geskep is, maar ook sketse op papier, byvoorbeeld van die 1970’s. Hier is kunswerke wat verskillende tye in sy lewe weerspieël. Ek dink dit is belangrik vir die Suid-Afrikaanse publiek om hierdie tipe werk te sien.”

Die uitstalling bestaan grootliks uit skilderwerke op doek wat oor die afgelope paar jaar geskep is, en daar is ook kunswerke uit Breytenbach se vorige jare, soos autoportrait masque (1990), ’n selfportret gekombineer met die herhalende motief van die venster en die voël. Die uitstalling bevat ook verskeie kunswerke en sketse op papier van 1970 tot 2012.

Breyten Breytenbach was self teenwoordig by die opening van die uitstalling op Donderdag 18 Oktober.

Anne-Ghrett Erasmus (voorgrond), kurator van die Breytenbach Sentrum in Wellington, sê sy sien baie van Breytenbach se ou spesifieke styl in die werke.

Anne-Ghrett Erasmus, kurator van die Breytenbach Sentrum in Wellington, sê sy sien baie van Breytenbach se ou styl in die werke. “Jy sien ’n bietjie van die Dali-invloed, die surrealisme, selfs ’n bietjie Chagall hier en daar. Ek let die oë op, wat nog altyd ’n groot rol in sy werk gespeel het. Hy keer terug na die Boeddhisme en die Zen-posisie. Daar is ook die visse, ’n bekende simbool in sy werk van lankal af. En die voëls, wat mag dui op die spirituele wêreld.

“In sy nuwe werk is daar vir my ’n droefheid. ’n Nostalgie en ’n onderliggende hartseer wat ek optel. Dit gee my ’n knop in die keel.”

Alex Richards, mededirekteur van die galery, beskryf die opening van die uitstalling as suksesvol, en sê hy is bly oor die aantal mense wat dit bygewoon het.

’n Toeskouer, Wendyl Martin, ’n teksredigeerder van Kaapstad, sê die invloed van die Boeddhisme is vir hom ook opvallend in die werk. Hy sê dit is vir hom ook interessant hoe ’n mens dele van Breytenbach in die kuns kan sien, soos die selfportrette en digkuns.  

Twee studente van die Universiteit Stellenbosch, Philna van Veijeren en Lauren Den Besten, sê die uitstalling is vir hulle ongelooflik interessant, en hulle beskou hulself as groot aanhangers van Breytenbach se werk.

“Dit is regtig ’n voorreg om Breytenbach se kuns as ‘t ware in lewende lywe te sien,” vertel Den Besten.

The 81 ways of letting go a late self is tot 24 November by die Stevenson-galery in Kaapstad te sien.

Dit is Breyten Breytenbach se eerste solo-uitstalling by dié galery.


 

Breyten Breytenbach is op 16 September 1939 in Bonnievale, Wes-Kaap, gebore. Hy het op 20-jarige ouderdom Europa toe verhuis en homself in 1961 in Parys gevestig, waar hy met Yolande, 'n jong vrou van Viëtnamese afkoms, getrou het. Wetgewing teen gemengde huwelike het sy terugkeer na Suid-Afrika verbied, wat sy teenkanting teen apartheid verstewig het. In 1975 is hy in Suid-Afrika in hegtenis geneem en tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis vir terrorisme. Met sy vrylating in 1982 keer hy terug na Parys, waar hy Franse burgerskap verkry. Hy het sy eerste solokunsuitstalling in 1964 gehou, dieselfde jaar waarin hy sy eerste digbundel (Die ysterkoei moet sweet) en sy eerste prosabundel (Katastrofes) bekendgestel het.

The 81 ways of letting go a late self is tot 24 November by die Stevenson-galery in Kaapstad te sien.

  • 1

Kommentaar

  • Susan Reyneke

    Breyten het vir jare in Wellington gewoon en was ons skool se hoofseun. Sy ouers se woonhuis/losieshuis huisves die Breytenbach-museum. Maak asb 'n ekstra aantekening by sy geskiedenis. Daar is slegs melding van Bonnievale. Breyten het met vele besoeke van oorsee ook Wellington besoek waar ek hom ontmoet het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top