Brandmerk deur Christelle van Rooyen-Wessels, ’n lesersindruk

  • 2

Titel: Brandmerk
Skrywer: Christelle van Rooyen-Wessels
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781485904342

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Hoeveel keer het jy iemand al hoor sê “ter wille van die kinders”? Is dit werklik in die kind se beste belang om in ’n toksiese verhouding te bly? Die meeste van hierdie verhoudings verbrokkel in elk geval, hetsy tragies, of indien die mishandelde persoon maar vir lief neem met sy/haar “lot”. Hoe dit ook al sy, dood is onvermydelik, fisiek of emosioneel.

Christelle van Rooyen-Wessels het hierdie werklikheid trompop geloop in haar roman Brandmerk.

Binne die eerste hoofstuk word die identiteit van die moordenaar bekend gemaak. Hy is die produk van ’n tipiese lewensgevaarlike verhouding. Sy pa beland in die tronk, en sy ma vind nuwe liefde. Soos baie ma’s is sy stokblind vir haar kind se afwykings en aanvaar sy geen verwysing daarna nie. Dit word bloot met verskonings en verduidelikings onder die mat ingevee.

Terwyl haar nuwe lewe op dreef is, vind haar seun David ook die rede vir sy bestaan. Hy gaan heel gemaklik en suksesvol voort met sy moorddadige en sadistieste lewe. Reg onder almal se neuse.

Baie van ons het al effe toondoof geraak ten opsigte van geweld en moord. Dit neem daagliks toe, en dit kos die land miljarde aan mediese behandeling, bewusmaking en terapie. Dit is asof hierdie kwessie gat-oor-kop benader word. Die realiteit word oral verkondig, maar die rede vir of oorsprong van die tendens word geheel en al vermy, of met opset geïgnoreer. Hierdie is glad nie ’n biologieles nie, maar daar is tog waarde in kennis van die ontwikkeling van die menslike brein ten opsigte van geweld. Die frontale korteks van die menslike brein is ’n “laatbloeier” – dit kom eers as ’n mens die ouderdom van 25 bereik mooi op dreef. Wat het dit enigsins met misdaad en geweld te doen? In Suid-Afrika is jy reeds geregtig daarop om te stem wanneer jy 18 word. Jy kan selfs wettig rook en alkohol gebruik op dié ouderdom. Wanneer jy 16 word, is dit heeltemal in orde om seksueel aktief te wees.

Hoekom bevraagteken ek hierdie wetlike vryheid van ons mense, en wat op dees aarde het dit te doen met Christelle se boek?

Die brein is uiters kompleks, met miljarde selle, of neurone, wat in sinergie met mekaar werk. Die frontale korteks is verantwoordelik vir jou vermoë om ander se gevoelens te verstaan, en hoe om daarop te reageer. Dit is waar jou persoonlikheid vorm en ontwikkel. Ook is hierdie deel van jou brein ’n dopamienvraat. Dopamien, die chemiese goedvoelhormoon, help om jou gevoelens, erkenning en motivering in toom te hou. Plaas enige kind in ’n gewelddadige huishouding wat hom/haar voor die ouderdom van 25 gaan uitspoeg, en jy het die perfekte profiel van ’n geweldsmisdadiger. Hiermee sê ek natuurlik glad nie dat alle kinders wat uit mishandeling en gewelddadige huise kom, misdadigers is of sal wees nie. 

Waarom word daar so baie gepraat en bewusgemaak en geveldtog, en niks word regtig gedoen nie? Ons is almal op een of ander wyse ’n slagoffer van die lewe, en ons herkoms gaan beslis ’n rol speel in wie en wat ons is. Die nare waarheid is dat dit altyd ’n keuse is. Wat gemaak as jy nie van anders en beter weet nie? Moord en geweld is dan dalk die enigste dopamien-“inspuiting”. Hoe kan ons hierdie woede en magteloosheid aanspreek sonder om dit te stimuleer? Waarom is daar nie in ons primêre onderwys vakke soos konflikhantering, respek (vir jouself en ander en jou en ander se lewens), en emosionele higiëne nie? Daar is heeltemal te veel Davids in die wêreld. Die hartseer is dat dit anders kan wees as net ’n paar klein dingetjies in posisie gestel word. Ek is nie ongevoelig teenoor die slagoffers en hul families nie; inteendeel, ek is bitter ontsteld dat dit enigsins plaasvind. Maar ek voel dat daar net pleistertjies op swere geplak word. Die wonde word nie deeglik ontsmet en behandel nie. Dan raak ek nie eens aan die belangrikheid van deurlopende nasorg nie. Ons lewe heeltemal te bolangs en selfgesentreerd. En sodra hierdie naarheid aan jou deur kom klop, moet hemel en aarde versit word. Dan is dit ongelukkig te laat vir die slagoffer sowel as vir die misdadiger.

Jy mag Brandmerk dalk geheel en al anders interpreteer. Dit is die wonderlike skoonheid en vermoë van boeke. Elke leser het die vryheid om die boek deur sy eie oë te lees. Ek sê maar net … Wel gedaan, Christelle van Rooyen-Wessels.

  • 2

Kommentaar

  • Hi Jonathan. Ek verskil van jou, maar dankie vir jou opmerking. Ek sal dit beslis in gedagte hou in my volgende lesersindruk. Ek leer graag. Dit is vir my wonderlik dat jy my inset gelees het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top