Brandende biblioteek

  • 1

Jitsvinger (Foto: verskaf)

Wat is die gewig van ’n vlam?

Die gewone vuur brand met ’n gas wat ’n kwart van die digtheid van lug is. Of so sê die kundiges.

“’n Vuur kan twee keer brand,” sê ’n vriend op skool. “Wanneer jy die vuurhoutjie aan die brand steek en ’n tweede keer …” Hy blaas die vuurhoutjie uit en druk die gebrande gedeelte teen my vel. “Sien jy?”

Ja, figuurlik is die tweede brand die nagevolge en so ook die verwysing na hierdie element in ons alledaagse uitdrukkings. Die nuus wat versprei soos ’n veldbrand laat ou jagluiperd sy spikes ophang want niks versprei so vinnig soos leuens nie. Iemand wat baie gou op haar/sy perdjie spring word as warmplaat gedoop.

Die brandende herinneringe wat gestook word soos sluimerende kole weggebêre in ons geheue. Die brandende bos van die Ou Testament, sowel as honderde soortgelyke vergelykings in die Bybel.

Hierdie oervriend (en soms -vyand) van die mensdom staan wydsbeen oor die aarde se kultuurreservaat en plavei die voetstappe van ons se evolusie. Dit kom voor in byna elke faset van ons bestaan. Die Khoesan het hierdie tegnologie toegepas deur die vuur te huisves vir pastorale gebruik. Die veld word aan die brand gesteek wanneer hulle vertrek en dan keer hulle weer terug na ’n nuut-aangevulde plantlewe vir hul vee. Fynbos keer vernaamd baie sterk terug na ’n veldbrand.

Die vuurelement verstrek ook baie van die inheemse folklore hier in die Suidelike Halfrond. Toe ek en Kerneels Persoon hieroor gesels, trek hy weg met ’n stukkie orale tradisie:

Volstruis het die vuur onner sy arm gedra! En elke keer as daar geëet word, dan braai hy alleen.

Huiseb, die man, besluit toe om van die vuur te steel en daag volstruis uit vir ’n dans. Wetend dat volstruis die vuur onner sy vlerk hou, dans hy eers ’n bietjie al in die heupe volstruisbors en assegaaigat. Net om vir volstruis innie bui te kry vir die wave. En djy wiet by die wave moet djy jou pruik houvas! Daai tyd het Vollie Volstruis ’n vollengte Mexican wave gedra. Moments in die daaropvolgende tydstip toe Huiseb die movement in die dance routine introduce, gryp hy die vuur onner Vollie se vlerk uit en laat spat vir sy eie bring-en-braai. Since daai tyd vannie Mexican wave braai die boesman sy eigene vleisie.

So, reken ek, brand die vuur vir ’n tweede keer. ’n Lewensles word terselfdertyd geleer. Die gebruik van beeldspraak is dan altemit die oorsprong van die eerste biblioteke waar argiewe van sterrekunde, veld- en natuurkennis en sedes as riglyne in die monde van ons voorouers rondgedra word. Soos ’n knoes diamante en goud uit hul verstand word die vlam van ons wysheid en kennisstelsels aan ons oorgedra en aan die lewe gehou met elke hervertelling. Die Nama-tale wat dit nog vandag klap, knetter soos ou vlamme uit die bekke van lewende museums. Dit laat my verlang na die gesprekke met old-timers oppie trein wanneer hulle begin vertel van hul ervaringe lank gelede. Op koue dae voel dit asof ek naby die ghellieblik staan en die gewig van die hitte voel wat comfort bring met dieper insigte. Wanneer iemand van ’n baie gevorderde ouderdom afsterf sê ons dan ’n library het ons verlaat. 

“Daar is geen politieke mag sonder mag oor die argief nie,” sê Jacques Derrida.

1 600 jaar gelede het die groot Biblioteek van Alexandrië afgebrand en word tot vandag geween deur vooraanstaande kritiese denkers en filosowe as ’n groot terugslag vir die vooruitgang van Westerse beskawing. Toegang tot informasie was altyd eksklusief tot gunste van gene in magsposisies. Destyds was dit so streng gekontroleer deur die patriargie dat vroumense en slawe weerhou was van te leer lees en skryf. Rekords was gehou van elke punt, merk of skraap op ’n dokument en het outoriteit gehad oor ’n spesifieke gebeurtenis of ooreenkoms in die vorm van landkaarte, briewe, foto’s, ens. Plaaslike geskiedenis het die mag beoefen om ikoniese figure uit te sluit in opvoedkundige programme vir generasies. Sulke mag is nie sonder nagevolge nie. Om biblioteke en argiewe te brand in die naam van oorlog was ’n ou praktyk, maar soos ’n phoenix word nuwes opgerig as ’n noodsaaklikheid vir innovasie en vordering in elke funksie van onse samelewing.

Argiewe en rekords dien as ’n moerse hupstoot aan gemarginaliseerde stemme en gemeenskappe in die vorm van nuwe navorsing wat positiewe gewildheid tot gevolg bring in die vorm van films, teaterstukke en selfs musiek.

Tydens die moderne era worstel biblioteke om voort te bestaan en staar ’n afname in befondsing in die gesig. Die digitale platform hou ook ’n bedreiging in en ’n afname in die gebruik van fisiese boeke vir navorsing, vermaak en terapie is bewyse hiervan danksy die koms van selfone. Die noodsaaklikheid om ’n boek te vat en lees word wel gekweek onder dissipels van die geskrewe woord by wyse van ’n oorvloed van digters, skrywers, boekwurms, lesers en dromers wêreldwyd.

Die denkbeeldige phoenix rys uit die ashoop. ’n Neuron split. ’n Foton tref die retina. Die brein ontvang, stoor, organiseer, stuur en indekseer informasie soos die oond van ’n stoomtrein wat gevuur word.

Boodskappers is fakkels wat die donkerte van onkunde binnedring. Die verfrissers van die verhaal. Ons moet die informasie lééf en nie net stoor in fisiese banke en argiewe nie.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top