"Brand" deur Jaco Prinsloo

  • 0

Brand

Ek sal jou as met liefde en boomgom
stukkie vir stukkie weer aanmekaar las

Brand, liefling, brand

Ons drome staan in ligte laaie
Wat sal ek voor die vuur kan red?
Die album met jou leë fotoblaaie
of dalk die sleutel tot jou hart, vir my belet?

In die kaggel van jul lêplek
begin die vlam met 'n jaloerse tong
gulsig aan die eerste krake lek

Met skroeiende letsels
is hy besig om jou in wese te verniel
Brand dieselfde kole gloeiende gate
dwarsdeur my siel

Brand, liefling, brand
Met die trane wat stoom op jou wang
In jou koudste uur
onttrek ek die holte van my hand
Brand, liefling, brand
Die gras is nou swart aan daardie kant
Vat jou lesse uit hierdie vuur
Laat dit die skille op jou oë wegsmelt
Elke vlam bring 'n bietjie verstand
So jy moet brand, liefling, brand

Brand, liefling, brand

Later sal ek 'n rooi lorrie vir jou stuur
met 'n duisend emmers vol sand
As hul verdwaal, iewers 'n vloed vir jou gaan huur
maar tot dan moet jy brand, liefling, brand

Hier wag ek met gaasdoek vir jou wonde
Elke seerplek maak met tyd sy eie roof
Neem my reën as lafenis vir jou sondes
sodat jy kan blom wanneer die lente kom
Jou prag omhul deur 'n kroon van nuwe loof

Ek sal jou as met liefde en boomgom
stukkie vir stukkie weer aanmekaar las las

Brand, liefling, brand

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top