
Foto: Canva.com
Bosveldbederf
met humuswolke wat lui luglangs luier
rol druppels ploffend neer in stofspore
vloei kabbelend weg na kronkelvore
terwyl reën dig trek sy sluier
met weerlig se blits wat donderend beier
antwoord koedoes uit ruigtes in blaffende kore
strelende bosveldklanke vir stadsore
hier waar ons langs die Limpopo kuier
wanneer die storm uitgewoed is
en bosloeries hul danklied aanhef
eggo dit gul deur die kampwerf
dankbaar oor dié welkome lafenis
wat ons verwonderd laat besef
die seën agter ’n bosveldbederf


Kommentaar
Wat 'n pragtige beskrywing van waarnemings in die Bosveld op die wysie van 'n sonnet!
Pragtige beelde. Ek ruik sommer die reën op die nat grond.
Dankie, Estelle, waardeer opreg jou kommentaar.
Dankie, Linda, vir jou saam ervaar en kommentaar, word opreg waardeer.