Bos deur Jaco Wolmarans: ’n resensie

  • 1

Titel: Bos – die snykant van verraad
Skrywer: Jaco Wolmarans
Uitgewer: Tafelberg 2019
ISBN: 978-0-624-08603-1

As die voorblad van Jaco Wolmarans se debuutspanningsroman, Bos, nie jou aandag getrek het tussen die ander op die boekrak nie, sou jy dalk glo dis dalk nie die boek vir jou nie.

Maar dan draai jy die boek om en die rugkant vertel:

Bloedbroers. ’n Vriendskap en totale vertroue gesmee in Angolese pseudo-operasies. Carlos Viyera, die veteraan met ’n duister, gewelddadige verlede. Tex Texeira, sy talentvolle protégé.

En toe is die oorlog verby. Of is dit?

Dit gaan voort:

Hoekom, na jare van donker geheime, het Carlos nou die grens oorgesteek as renosterstroper in Mosambiek? Die gevreesde, onaantasbare Kalingono, dood verklaar na ’n duister operasie … nou moordend terug? Militêre Inligting soek antwoorde. En Tex Texeira is die enigste operateur wat dit naby hom kan waag. As hy die skietdood van sy eie vrou kan verwerk. En die gevoel van ’n lokval wat hy nie kan afskud nie.

Daardie hoek is stewig in jou lyf en gaan jou stadig maar seker inkatrol sodat jy nie gaan ophou lees voor die boek klaar is nie.

Jaco se navorsing moes hom ure besiggehou het. Hy verduidelik in presiese besonderhede hoe jy jou spore in die sand bedek, maar meer as dit, hoe jy jou agtervolgers mislei; hoe jy bepaal hoe oud spore in die sand is en hoe jy in die veld oorleef. Dis alles deel van die omvattende lekkerte van sy boek. Dit wys die skrywer het gedink en weer gedink oor sy storie se vloei.

Daar is geweldige besonderhede van die bos, die geboue waarin hulle hul bevind, selfs van die Maputo-hawe waar hulle die vyand probeer omsingel. Jy voel die adrenalien aan; sien die plekke só goed is sy beskrywings.

As jy gedink het dat jy nie belangstel in die pseudo-operasies van die slegte verlede, die wapen-, sigaret- en ivoorhandel van die huidige bestel, en die raaisels waarom mense by hierdie netwerke betrokke raak nie, dink weer. Jaco Wolmarans span sy joernalistieke waarnemingsin en slag met navorsing in om jou ’n boek te gee waarvan die bladsye later vanself wil omblaai net sodat jy nie moet ophou lees nie. Maar daar is ook die feitelike gruwels oor vergryping, van geldsug en selfsug wat maar so eie aan ons samelewing is.

Ek is soms lugtig vir oudjoernaliste wat romans skryf, want die gewoonte om al die feite so gou moontlik weer te gee en dit dikwels baie staccato te laat klink, kan steurend en ondoeltreffend word as jy vir ontspanning wil lees. Jaco behou die balans egter deurgaans: hy gee net genoeg om jou nuuskierig te hou, maar sonder om ooit oppervlakkig te skryf. Sy beskrywings maak amper tasbare beelde in jou kop.

Hierdie is hopelik die begin van ’n lang lys suksesboeke in die spanningsgenre. Hy kan beslis kers vashou by ons land se voorste misdaadskrywers.

  • 1

Kommentaar

  • Ek moes myself beperk tot 'n maksimum van drie hoofstukke per aand, anders het ek nooit geslaap nie. Lank laas so 'n riller gelees. Heerlik!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top