Boomskets

  • 0

vir ecc

skets die dooie boom wat staan
buite brackenfell
in ’n dam teen die N1:

suggereer die takke se gebare
’n mime-show van die Dood
of iets anders o so diep
hoewel die dam se water
net so kniehoog kom

evoke: die boom ly aan depressie
die boom is ’n nudis
’n billboard vir die niet
die boom is stom en woedend
sy weerkaatsing rimpel nie

weerstaan versoekings
om te kontrasteer: hou die kragtoring
wat duskant strut
buite die raam
met die buzz van die substasie
en die laat verkeer

teken takke wat lyk na wortels
opgebuig en voëlloos, rumatiekvingers
in, verkieslik, hale houtskool

suggereer dié dinge, maar moenie iets
vasvang nie:
hou jou greep
soos die boom s’n op die lug

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top