
Prent: Canva
Dit was ’n Saterdagaand en Boom van Wyk se maag het begin gedagtes kry oor ’n stuk steak wat al heel week in die yskas lê en rypword. So ’n drievingers dikke met ’n swoerd vet aan die kante wat die ding lekker kan laat afgly saam met ’n bottel osbloed rooiwyn.
Boom hou van sy steak blou. Hy laat die vlam net so ’n bietjie fluister en kielie aan die duskant en die anderkant van die vleis en dan beland die ding in die bord. En hy hou van sy rooiwyn so blou soos ossebloed. Blou-rooi soos donderweer, soos Leipoldt sou gesê het.
Boom was sy hele lewe lank ’n bosbouer en dit het by hom die gewoonte gevestig om die wêreld se dinge te ontleed en te beoordeel aan die hand van die jaarringe wat jy sien as jy ’n boom se stam deursaag. Eweneens glo hy dat wyn soortgelyke jaarringe in jou lewer neerlê. So kan ’n lewerbiopsie aantoon watter kultivars en gehalte rooiwyne oor die jare soos jaarringe in jou lewer geplant is. As jy by jou eie lykskouing teenwoordig kon wees, sal jou lewerringe vir jou kan wys presies waar Etienne le Riche se Rustenburg in 1970 sy merk gelaat of in watter jaar Beyers Truter sy beste pinotage gemaak het.
En Boom is ’n man met smaak. Hy wil nie dood gesien word met sommer enige ou plonk de plonk-gevormde lewer nie. Lewensgehalte en lewergehalte is vir hom soos vinkel en koljander. Wie wil nou onder die langboompies gaan lê met ’n lewer wat lyk of hy in ’n tiekiedop grootgemaak is? En ou Boom se takke begin al laag hang. Hy stoot al 86.
Dit was nie lank nie of ou Boom en die bottel se boom kyk mekaar in die oë, het hy die steak agter die blad, trek die sinapse in sy brein al verder uitmekaar, sak die vaak op hom toe, en voor hy hom kom kry, saag hy hout tussen die lakens.
En toe begin ou Boom droom. Een van daardie drome wat so helder is, so belaai met onverwagte en onwaarskynlike besonderhede, so oortuigend vreemd dat die dromer dit nie kan onderskei van die werklikheid nie. Boom droom van ’n klein varkie in sy slaapkamer. Die varkie is hier waar hy lê en slaap. Hy droom hy staan op, tel die varkie in sy arms op en bly staan langs die bed.
“Wat toe gebeur is dat ek slapend opstaan en voort droom dat ek met ’n varkie in my arms langs die bed staan. In my droom sê my vrou vir my ek droom en dat ek net droom daar is ’n varkie in die kamer. Daar is nie ’n varkie in die kamer nie. Ek besef sy is reg en begin die varkie soek. Die varkie is nou wel nie in die kamer nie, so hy moet elders in die huis wees. Oral in die huis kruip ek op die vloer rond en soek die afwesige varkie.”
Maar meer as die droom, pla dit hom dat die volgende oggend, in babbelastyd, hy sy eie droom glo en nie sy vrou nie. Hy besef, seg hy op WhatsApp aan al sy Wilgenhof-vriende, dat die wyn en die vleis en sy gevorderde jare miskien ’n bydrae gemaak het tot die steuringe in sy werklikheidsbesef. Maar waar kruip die klein varkie dan nou eintlik weg? What to do? Hy vra raad.
George Craven verduidelik vir hom dat sy droom ’n aanduiding kan wees dat hy nie meer al sy varkies op hok het nie. Maar dit weet hy alreeds. Sy rondkruipery op die huis se vloer op soek na die ontwykende varkie is dan juis daarop gemik om die varkie se teenwoordigheid te herwin.
Al raad wat ek vir hom kon gee, was dat as hy daarvan oortuig is dat sy vrou vir hom gelieg het en dat haar leun nou meebring dat hy ’n varkie kwyt is, hy die geskil op ’n wetenskaplike manier moet besleg. Gebruik die eksperimentele benadering. Eet vanaand weer ’n biefstuk saam met ’n bottel rooiwyn, hou jou krom bene styf teen mekaar en kyk of die varkie weer in jou arms opdaag.
En moenie te vinnig tou opgooi nie. Hou aan met die biefstuk-en-rooiwyn-resep tot jy en jou varkie weer bymekaar is.
Miskien kan jy jou vrou op die manier oortuig dat sy droom as sy dink dat sy jou vrou is.
Lees ook:
Kommentaar
Hierdie is die snaaksste, lekkerste ding wat ek vandag nog gelees het!