BookBedonnerd 2017: ’n Voorsmaak en ’n nasmaak

  • 2

Op pad

Op pad Richmond toe waai die radioseine plek-plek weg.

Daar is nie ander musiek in die motor nie, dus is ek uitgelewer aan die motorradio se digitale soekfunksie.

"I'll be waiting from dusk till dawn ..." sing Zayn en Sia onverwags toe die motor oor 'n bult beur.

Hulle sing nie hulle lied klaar nie. Die wind kom op en die Karoo se ruimtes strek rondom die motor uit.

Die BookBedonnerdfees vind vanjaar die tiende keer plaas.

Die fees word georganiseer deur Darryl David en Peter Baker. Darryl is die organiseerder van etlike feeste.

 Daar is al heelwat omtrent die BookBedonnerdfees op LitNet gepubliseer.

“Die N1 loop met 'n boog styf teenaan die dorp verby. In hierdie kromming lê die dorp Richmond. Maklik bereikbaar uit die noorde én die suide.” So skryf Valda Jansen in 2016.

En Clinton du Plessis skryf in 2012: “Die lesers ry ver agter skrywers en boeke aan ...”

Die rit op pad na Richmond is deel van die fees.

My kinders is siekerig by die huis in Stellenbosch, en daar is werksverpligtinge; ek kan slegs 'n blitsbesoek aan Richmond bring vir die tiende BookBedonnerdfees. Maar Richmond lê ver, lê ver, soos Fort Wajier. Tussen vragmotors en bossievlaktes kom Uys Krige se gedig uit my skooldae by my op:

In hierdie dorre verlatenheid
van 'n vaal wêreld
wat langsamerhand veryl, vervloei
sy vae omlyninge verloor
in 'n nog valer hemel ...

Was dit 'n goeie besluit om hierdie afstand af te lê? En so kort te vertoef?

Op 'n Engelse radiostasie vind 'n radiosein vastrapplek en gesels daar nou 'n paneel oor die veldtog #SchoolSafety. Dis onveilig vir laerskoolkinders tussen die dwaalkoeëls. Daar is 'n insetsel na 'n skare betrokke by 'n protesoptog, gesprekke oor veiligheid binne gemeenskappe wat oorspoel na skole.

Ek dink aan 'n ander gesprek oor skole en wat hier gebeur, wat 'n dag tevore op LitNet verskyn het: “Gedink jy as ouer het die reg om te besluit oor jou kind se onderrig? Nie as die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys ’n werklikheid word nie.”

Daar is nou weer 'n suising en ek hoor nie die einde van die gesprek oor veiligheid in skole nie.

Leeu-Gamka.

Dis koedoewêreld en dit word amper skemer. Nou waardeer ek die radio se gerusstellende geselskap die laaste ente waar dit wel opvang.

Beaufort-Wes.

Toe vind 'n gesprek plaas oor Emily Hobhouse en haar deportasie op 27 Oktober jare en jare gelede.

Drie Susters.

Afrikaanse radio vier 80 jaar, Miriam Makeba sing “The Click Song”,  en 'n Kubaans-Amerikaanse sangeres sing oor Havana terwyl ek donkernag by in Richmond indraai.

In Richmond se hoofstraat word Bibi Slippers se woorde van 2011 waar:

Richmond is a small town in the middle of everywhere. 821 km from Johannesburg and 720 km from Cape Town, Richmond's claim to fame is its status as a book town. The little village has 13 bookshops, and the town's website explains exactly why Richmond was a great choice for a book town.

With the Boekbedonnerd festival Richmond comes alive – accommodation providers welcome streams of tourists to town; the three restaurants are filled with lively conversation; locals seize the opportunity to sell their wares (anything from pannekoek, beskuit and skaaptjops to antiques and handcrafts); and writers descend on the town in droves to discuss their work with eager audiences.

Lig en klank stroom uit die restaurante en gastehuise. Hier is eensklaps lewe in die Karoo.

My verblyf is gereël oorkant die MAP-galery, by hulle akkommodasie, waar ek ná die lang rit omhels word deur kuns teen die mure, op die koffietafels – en deur snoesige beddegoed.

Map was started as a collaboration between Harrie Siertsema and Abrie Fourie in 2005. Map is a series of site-specific art events, collaborations and exhibitions. The Map venues are not only traditional art spaces, they also include public venues, such as contemporary pancake eateries and hotel rooms, where art is brought into the sphere of life.

Richmond is nie net 'n vervalle plattelandse dorp in die Noord-Kaap nie.

Wat is hierdie fees se oorsprong?

Darryl David het ook in 2011 vir Bibi Slippers vertel:

Round about 2003 at my university (the University of KwaZulu-Natal) Prof Lindy Stiebel started a project on literary tourism. Being a bok for all things literary and touristy I got on board. My great dream was to buy the Alan Paton home in Pietermaritzburg. But that dream went through the window with the property boom. At that time I was as good as a Neanderthal with computers. But while I was Googling the word book the predictive text threw up the word booktown. That was the start of a three-year journey searching the Karoo for a suitable town for fulfilling what can only be described as a magnificent obsession. After an article appeared on Richmond in Country Life magazine I had a gut feeling about the town. I sensed it was on the up and rumours were doing the rounds in the Karoo that a “mad Canadian” was buying up books and houses. That mad Canadian, Peter Baker, was the first person to say “That’s a whale of an idea – let’s do it” after hearing about my idea for a booktown. But even better, he knew a certain John Donaldson who, like Peter, owned a few houses in Richmond. As luck would have it, John was planning to open a bookshop in Richmond as well. I once heard Ian Player talk about “synchronicity”. I think it was a combination of synchronicity and pure luck that saw Richmond brand itself as South Africa’s national booktown.

Die volgende oggend stap ek Richmond se hoofstraat in. In die ligdag is die laslapplekke op die teer sigbaar. Bedelaars drentel nader.

Die Supper Club

'n Ent verder in die hoofstraat af, net oorkant die kerk, speel Chopin se Raindrop Prelude oorverdowend.

Ek kyk waar die musiek vandaan kom: “Die Supper Club”, staan op 'n bordjie by die deur.

Daar kon net sowel Die Super Club gestaan het.

Valda Jansen het verlede jaar oor haar ondervinding geskryf:

Ek het my bedenkinge gehad toe ek laat Donderdagmiddag opdaag en teen die aand deur die dorp ry op soek na 'n eetplek. Donker strate, toegegrendelde huise. Maar daar was lig en 'n wyd-oop voordeur en mense wat by klein tafeltjies op 'n stoep sit. Dié plek leer ek oor die naweek goed ken. Peter Baker se Supperclub wat ontwaak wanneer boekfeeste die dorp binneval.

Ek stap by die deur in, en betree 'n ander wêreld. Dis 'n eklektiese kroeg: daar is kuns, daar is kos, daar is klassieke musiek vanoggend. Dis 'n kletsplek, en in die agterste kamers is dit 'n kuierplek vir rugby-aanhangers. In die binnehof is die vure aangesteek in groot oonde. Die Supper Club pas in geen netjiese boksie in nie.

Hulle maak nog skoon, verduidelik 'n kelnerin, want die plek het eers halfdrie toegemaak. Maar wil ek koffie hê?

Graag. En ek ontmoet vir Peter Baker en sy vrou, wat vir my van hawermoutpap en geselskap voorsien.

Peter Baker is die ander lid van die "flambojante en vernuwende skakelpaar aan die stuur van die jaarlikse BookBedonnerdfees op Richmond", soos Clinton du Plessis geskryf het:

Die afgelope agt jaar het hulle elke keer verras met die wonderlike versameling van skrywers wat hulle oor drie dae op die dorpie kon laat vergader. Tesame daarmee het hulle ‘n lojale groep boekliefhebbers van ‘n tuiste voorsien om na hulle gunsteling- en ook minder bekende, maar baie interessante, skrywers te kom luister.

Hulle het die kuns vervolmaak om ‘n uiters gebalanseerde blik binne-in die wêreld van boeke en skrywers te gee.   

En toe raak dit haastig, tyd vir die hoofrede van my besoek.

Die samedromming by die biblioteek laat my besef waarom ek hier is.

Die boekefees

'n Lojale ondersteunersgroep woon die gratis program by, die biblioteek sit vol. Buite, voor die kerk, word die basaartafels uitgepak.

Binne die biblioteek is 'n groep mense wat die hele venue volpak. Hulle kom van oraloor. Hulle het boeke lief en baie van hulle woon die fees by, vertel 'n vrou wat langs my sit my.

"Daar is soms programskommelings," vertel sy my. "Maar dis elke jaar spesiaal. Dis die vyfde keer wat ons hier is."

Haar man knik oor sy baard vir my.

Tot my spyt woon ek slegs twee ander gesprekke by voordat ek aan die beurt kom: Karina Szczurek gesels gevoelvol oor André Brink, en oor wie sy is, in The fifth Mrs Brink. En Rosemary en Robert Forrester gesels oor Tara the Terrier. Hulle het die boek self uitgegee en is passievol lief vir seiljagvaart en vir hul hondjie wat visgevang en die see saam met hulle beleef het.

Op die tafel staan stapels boeke van ander mense wat oor hul boeke kom gesels het. Hierdie is nie 'n kommersiële fees nie, dis nie 'n fees waar mens noodwendig kitsroem en -rykdom smaak nie. Hierdie fees is 'n platform wat opgeslaan word op 'n oop vlakte.

En: skrywers soos Etienne van Heerden, Athol Fugard en Breyten Breytenbach het al by hierdie fees opgetree.

Die fees gee ook 'n megafoon vir mense wat lank en met bloedsweet gewerk het aan 'n boek wat hul self uitgegee het – en nou kan hulle kom gesels. En boonop bekroon hierdie fees boeke wat self uitgegee is, met die South African Independent Publishers Awards.

Afskeid

Op pad motor toe, in die straat buite die lokaal, loop ek vir Andries Bezuidenhout raak, en, soos vroeër aan Erns Grundling, moet ek verskoning maak dat ek nie sy gesprek kan bywoon nie.

"Kinders, siektes, werk, verpligtinge ..."

My redes is almal die waarheid, maar dit kom met swarigheid oor my lippe.

Wat loop ek nie alles mis vanjaar nie! Skrywers wat hul eie boeke uitgee, én skrywers wie se name in elke groot boekwinkel pryk. (Hier is vanjaar se program.)

Ek dink aan mense na wie ek nie vanjaar kon luister nie: Elkarien Fourie, Matthys Strydom, Clinton du Plessis, Fanie Olivier. Die oomblik as ek name noem, laat ek ander name uit.

Vorige jare se verliese lê verder terug, almal wat ek nie hier kon beleef nie: Lien Botha, Valda Jansen, Juliana Coetzer.

Ek moet huis toe vertrek terwyl ek dink aan Deborah Steinmair se aanhaling oor Rodriquez in 'n onderhoud oor Hartlam: “The sweetest kiss I ever knew is the one I never tasted.” Die melodrama het my beet: Jare en jare se feeste wat ek nie bygewoon het nie, jare se geleenthede wat ek gemis het.

Deur die motor se oop motorvenster, op pad die dorp uit, waai die kaalvoetkinders in die straat se liedjies plek-plek weg, verlore soos radioseine.

My flikkerlig dui aan dat ek links draai, en die Kaap lê ver, lê ver, 644 kilometer ver.

Agter my in die straat betaal party mense by die basaartafels vir pannekoek, ander sit op stoepe en nog ander drentel in die strate en wag bakhand dat die feesgangers hulle raaksien.

Darryl David en Peter Barry se feesgeleenthede duur 'n laaste paar uur lank voort, gratis vir almal.

Op die radio gesels hulle nou, verbasend genoeg, oor netbalspanne.

Tydens gister se gesprekke wat oor skoolveiligheid gehandel het, het ek gedink: dis nie net die probleem van die skool nie, dis oor die gemeenskap en die land wat ons saam in stand hou.

Drie Susters.

"Murder is murder," sê iemand. “Ons ondersteun nie die protes op Maandag nie.”

Beaufort-Wes.

Die mense van Madrid is woedend vir die Katalane en is gedrapeer in die Spaanse vlag.

Leeu-Gamka.

Daar is verslete mense wat buite in die stofstrate bly staan en nie inkom nie, al is die hele program gratis.

Daar is skrywers wat hul eie boeke uitgee en nie roem smaak of een enkele boek verkoop nie.

Maar daar, in die Karoo, tussen verwaarloosde drome, staan 'n platform.

In die Hexriviervallei oorwin WP die Haaie.

In Richmond is 'n plek om stories te vertel en stories te gaan hoor. Die organiseerders het daardie verhoog 'n dekade lank al gemaak staan – en dit staan nog steeds. Enigeen kan inkom en dit gaan beleef, ten spyte van stadige geweld, ten spyte van vooroordele, van onsigbare grense wat almal in posisie hou.

'n Geleentheid is geskep, en dit bestaan reeds. Vir dromers, vir lesers, vir skrywers, vir almal om te kom luister en in te kom.

In Worcester sing Taylor Swift van haar “Wildest dreams”.

Die aand tuis lees ek op Facebook in my nuusvoer: "Al waarvoor ek vanaand vra, is 'n nasmaak van hoop."

En ek besef, al was my besoek net 'n voorsmaak lank: daardie nasmaak is presies wat Richmond bied.

Die feesorganiseerders Darryl David (links) en Peter Baker (regs), saam met die wenners van die Darrel Connolly Richmond Mile (foto: Hendrik Mentz)

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Maretha Maartens

    Bereikbaar van oraloor, onderskat van oraloor, dink ek nou. Deur hierdie vertelling het Richmond en Boekbedonnerd nou my hart in Bloemfontein bereik. Dankie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top