Boodskapper van die gode – Fabels en fantasieë van ’n vlieg teen die muur deur Murray La Vita: ’n resensie

  • 0

Titel: Boodskapper van die gode – Fabels en fantasieë van ’n vlieg teen die muur
Skrywer: Murray La Vita
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799393217

Indien jy nog nie Murray La Vita se kort prosatekste ontdek het nie, trek gerus Boodskapper van die gode – Fabels en fantasieë van ’n vlieg teen die muur nader. Dis ’n samestelling van rubrieke, sketse en essays wat hoofsaaklik op Netwerk24 verskyn het.

La Vita is bekend as skrywer van die Oop kaarte-reeks in dagblaaie. In 2016 is van die profiele, waaronder dié van Desmond Tutu, Deon Meyer en Frederik van Zyl Slabbert, saamgevat as Gesprekke met merkwaardige mense (Tafelberg).

Die aandagtige leser van die nuwe bundel sal die verskil tussen ’n rubriek, ’n skets en ’n essay kan uitken. Wat rubrieke betref, deel La Vita sy persoonlike mening en ontlok só ’n lag, ’n traan, ontsteltenis. Maar die rubriek bied altyd stof tot nadenke.

’n Karakter, toneel of situasie word deur middel van ’n skets beskryf en daar is min of geen intrige nie.

Die essay ondersoek weer ’n bepaalde onderwerp soos die politiek of estetiek op ’n persoonlike en skerp wyse. Sosiale kommentaar kan ook gelewer word. Nes met die rubriek, is die skrywer se persoonlike siening van belang.

Rigied is die skeidslyn tussen rubriek, skets en essay nie. In Boodskapper van die gode slaag die (verskillende tipes) vertellings in elk geval. Sommige herinner selfs aan kortverhale, veral wat die knal van die slotsin betref.

Die skrywer ondersoek dit wat ongewoon en soms selfs onheilspellend is. Die titels van sommige verhale is eweneens andersoortig. “’n Keiserin en ’n oranje vis”, “Skaapboude in ’n non se waentjie” en “Piet Retief in ’n rooi VW Polo” is voorbeelde.

Sommige van die skrywer se ervaringe en waarnemings is so verstommend, dis asof die gode wél ingegryp het. Die bundeltitel verwys juis na Hermes, die boodskapper van die gode. Ook na ’n soort tikmasjien wat ’n skrywer soos Etienne Leroux gebruik het. En kyk net watter woorde het hý teweeggebring!

 Van die vertellinge speel af teen die agtergrond van Langebaan, Churchhaven, Hangklip en Valsbaai. Die skrywer deel ook sy indrukke en ervarings van stede soos New York, Parys, Rome en Amsterdam.

 Die besondere geskiedkundige figure wat belig word, sluit Vincent van Gogh, Eugène Marais en Anne Frank in. La Vita skryf oor waarom hy nie die Anne Frank-huis in Amsterdam kon besoek nie. Later besigtig hy Leonardo da Vinci se Mona Lisa, “toe nié ’n teleurstelling nie”.

 Ook “gewone” mense dien as inspirasie. Dis trouens hulle wat die skrywer tot nuwe insigte bring. In “Delicious monsters is soos mense” versorg Cynthia Msindazwa al jare lank plante in ’n kantoorgebou, maar wat gebeur tuis? In “Patrick sê waarom sy hand pyn” benodig dié Angolees R230 vir iets wat baie van ons as vanselfsprekend aanvaar. In “Mister Lotter is ’n Kapenaar” laat dié inwoner jou weer verlang na “plekke wat jy nooit geken het nie”.

 La Vita se bundel is toeganklik. Die taal stroom en stoom soos ’n sterk waterval. Inleidings noop jou om te wíl verder lees. Soos hier: “In sy 27ste jaar het Simon ’n eier gelê” of “Die dag toe hulle gekom het om die rob te skiet, was ’n juweel” of “Dit is die man met die hoed en die lang grys bokbaard, die man wie se naels aan sy regterhand swart geverf is en dié aan die linkerhand ’n verskeidenheid van kleure, wat my aan die dink sit.”

 Dikwels word passasies uit die letterkunde gepas of funksioneel aangehaal. Soos TS Eliot se Waste Land, wat begin met “April is the cruellest month.” Daar is ook aanhalings uit JM Coetzee se Elizabeth Costello, DH Lawrence se “Snake”, Shakespeare se The Merchant of Venice, Ingrid Jonker se “Korreltjie sand” en CM van den Heever se “Waar ruwe rotse”. Ander kere maak versreëls uit lirieke hul verskyning, soos dié uit “La Bohème”.

Milieubeskrywings gee die toonaard van ’n bepaalde prosastuk weer. Amsterdam kry lewe in “Ons almal hoor die klokke”. La Vita skryf: “Teen die agtergrond van so ’n stilte word klein geluide intens en kragtig: Die sug wat uit die rosige mond van ’n jong vrou kom wanneer haar fiets deur ’n knik beweeg. Iemand wat fluit. Die gekrys van ’n groot raaf op ’n huisboot wat vir ’n blonde vrou en haar blonde seuntjie sit en kyk waar hulle glimlaggend teenoor mekaar by ’n tafel in die immer-geankerde vaartuig sit. Of die stemme van merels en duiwe in die kaal takke van die groot plataan- en beukebome.

Die skryfwerk maak inderdaad aanspraak op die sintuie. Welvaart ruik na “steak en parfuum”. En dis asof jy die teksture in die Reminiscene-winkel kan voel. Dit was “soos om teater toe te gaan,” skryf La Vita. “Rosemary het dan soos ’n contessa hof gehou in haar winkeltjie vol klere van sy, wol, kasjmier en crêpe de chine. Slangvelskoene of ’n Hermès-handsak van krokodilleer sou ’n mens ook daar aantref.”

Een van die skrywer se sterk punte is juis sy fyn waarnemingsvermoë. Soos hier ook: “Daar is iets grasieus en onverstoorbaar aan die slak se stadige gang vorentoe. Hy is ’n monnik. Ek verkyk my aan die bewegings van sy misterieuse voelers. Sonder vrees beweeg hy voort. Met sy huis op sy rug.”

Een van die raakste beskrywings is sekerlik dié van die oopvou van ’n pou se vere. ’n Beweging wat “meer soos ’n siddering is”.

La Vita se verbeelding gee fut aan baie tonele. Soos dié een oor Rosemary, die winkeleienaar: “Ek is seker sy sou in haar element gewees het tussen gaste soos Twiggy (op wie sy nogal getrek het), Juliet Prowse en Pierce Brosnan wat by daardie partytjie was. Dalk sou sy selfs daarin kon slaag om die geknypte mnr Brosnan te laat lag. En ek kan my net voorstel hoe sy en Grace Jones tot diep in die nag in Sun City sou rinkink het onder die spieëlballe.”

Die beeldspraak is treffend. Miswolke skuif in die namiddag soos “swaar teatergordyne” oop en ’n gekleurde wolk hang sag en stil “soos ’n flaminkveer” bo Leeukop.

Die leser word hoflik aangespreek as “u”; die toon is nederig. Die aanspreekvorm kan egter vir jonger of meer moderne ouer lesers té formeel voorkom en daarom afstand skep.

Ten spyte van dié formaliteit trek die skrywer jou in om gesprekke af te luister of by ander se persoonlike ruimtes in te kyk. Waarnemend, nie op ’n voyeuristiese manier nie.

Fassinerende feite kom voor. Soos dat om brogues te dra vir swart mans een van die min maniere was om tydens apartheid hul waardigheid te probeer behou. Brogues is “beter, stylvoller skoene” as dié van “die base wat hulle probeer vertrap het”. Dalk het jy ook nie geweet dat GPS in Afrikaans vir “globale posisioneringstelsel” staan nie. Of dat seekatte slim en sensitief is. Jy lees ook dat baie van die ou geboue in Suid-Afrika Litause argitektuur is.

Kritiek is daar nie veel nie. In die titelverhaal word na ’n foto van die skrywer “as jong man wat agter ’n lessenaar sit” verwys. “Links van hom is ’n botteltjie Richelieu-brandewyn en ’n blikkie Coke. Aan die regterkant is rook sigbaar wat kom van ’n Gauloises-sigaret in ’n asbakkie neffens ’n swart telefoon,” lees jy. Verwys die skrywer na die items aan sý regterkant, of bedoel hy hulle lê links wanneer iemand reg van voor na hom sou kyk en die toneel sou moes beskryf? Want op die voorblad is die telefoon en asbakkie aan die skrywer se linkerkant. (Dit kan ook wees dat die negatief verkeerd-om gedruk is.)

Soms word die lydende pleks van die bedrywende vorm ingespan. “By ons voete verskyn ’n pragtige padda wat deur die seun opgetel word,” is ’n voorbeeld. Die leser sou veel nader aan die aksie gevoel het indien die sin sou lees: “By ons voete verskyn ’n padda. Die seun tel hom (of die amfibiese dier) op.”

Die woord “skielik” kom dikwels en onnodig voor. Is daar werklik ’n verskil tussen “ek onthou die varkie” en “ek onthou skielik die varkie”? Of tussen “Skielik onthou ek dat Louis bevriend was met ’n slang” en “Ek onthou dat Louis bevriend was met ’n slang”?

’n Glimlag verskyn gereeld op iemand se “gesig”. Waar anders glimlag mens?

Jammer ook van die setfout (“herhinner”) op bladsy 179.

Boodskapper van die gode is ’n moet-lees. La Vita se kortprosa laat jou anders na die gewone én na die moontlikheid van die onwaarskynlike kyk. Melancholie en nostalgie word afgewissel met humor en absurditeite. In so ‘n mate dat jy dink what a weird and wonderful world we live in.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top