Bonita Avenue
’n Debuutroman deur Peter Buwalda
Uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout
Protea Boekhuis, Pretoria
Uitgesaai op 17 Oktober 2018 in Boekkeuse op Fine Music Radio onder leiding van Amanda Botha. Resensent: Danie Botha.
Ek bespreek nou die baie omvangryke roman Bonita Avenue deur Peter Buwalda. Dit is Buwalda se debuut, en die eerste Nederlandse uitgawe het in 2010 by De Bezige Bij in Amsterdam, Nederland verskyn. In 2011 word dit vir verskeie literêre pryse genomineer. Nog later word dit vier maal bekroon. Zandra Bezuidenhout, ’n ervare vertaler, ook juis uit Nederlands, dra die ryk teks wonderlik oor in Afrikaans. Verlede jaar verskyn dit by Protea Boekhuis in Pretoria. Dis nou van pas om ook twee instansies te bedank wat finansiële hulp verleen het: Nederlandse Letterenfonds en die Van Ewijck-stigting.
Die roman beslaan 478 bladsye en die teks is beslis nie in groot druk nie. Lang en bevredigende leeswerk wag dus op ’n mens. Jy kom ook gou agter dat hier talle en groot spronge tussen hede en verlede is. Ook kom die perspektiewe van verskillende karakters in die eerste persoon na vore. Daar word gedramatiseer én ook vertel. Maar duister raak dit nie.
Die hoofkarakter is Siem Sigerius. Rektor aan ’n universiteit en ’n hoog-aangeskrewe wiskundige. Sy tweede huwelik is met Tineke, moeder van Joni en Janis. Hy is die vader van Wilbert. Hierdie jongman word beskryf as ’n krimineel wat homself “soos ’n kurktrekker in die ellende ingeskroef het”. Hy maak hom skuldig aan dwelmmisbruik, gebruik ’n vierkilogram-metaalhamer om iemand in ’n staalfabriek te vermoor.
Ons kry ’n beskrywing van sy lewe in ’n tronk en ’n psigiatriese kliniek. Siem-hulle se “eie skuimballetjie”.
Siem se stiefdogter Joni het ’n verhouding met Aaron, ’n fotograaf wat saam met Siem judo beoefen. Aaron is ook ’n kenner van jazz. Maar hy het ’n vreemde lewe as gesertifiseerde sielkundige geval. Deur die roman heen sal ons Aaron se eie siening van homself kry en ook menings van ander oor sy gedrag. Met Joni raak hy betrokke by die pornobedryf. Sy word ’n internetprostituut. Siem besef hoe groot die gevaar vir hom as akademikus en moontlike politikus is indien dit bekend sou raak. Hy gaan doen in die geheim ondersoek in Aaron se huis.
Siem se besinnings en optredes oor onsedelikheid in sy eie en ander se lewens skep spanning intrigegewys en spreek ook duidelik tot die leser. Dit word beeldend gestel op bl 277: “Die helderwit lig van sy morele verontwaardiging val op ’n prisma en waaier uit tot ’n spektrum van genuanseerde en emosionele doemgedagtes.”
In Bonita Avenue is ’n hele aantal erotiese tonele, speel poedelnaaktheid ‘n rol. Ander temas is jazz, sokker en judo. Ook die Nederlandse en Belgiese landskappe word uitgebeeld.
Dit was vir my telkens opwindend hoe vol besonderhede die teks is en hoe Bezuidenhout oor die taalkennis en letterkundige aanvoeling beskik om alles oortuigend en ongedwonge in Afrikaans te stel. Wonderlik ook die verrassings aan die eindes van sinne.
Voor ek ’n paar heerlikhede aanhaal, wil ek noem dat ek nie met alles vrede het nie.
Iets was vir my vreemd en hinderlik. Kort-kort word die spraakbeurte van verskillende sprekers alles in een lang paragraaf gegee. Die normale is tog om die spreekbeurte van verskillende sprekers apart en onder mekaar te gee. Soms ook met strategiese aanduidings van wie wat sê. Hier sukkel ‘n mens om die inhoud te volg. En dikwels word ’n tydsaanduiding met ’n onnodige “vir” gegee: “vir ‘n oomblik”; “vir ‘n halfuur lank”, ens.
Nou ’n paar bonita skeppinge. In Spaans en Portugees beteken bonita mos mooi en oulik:
So vaal soos ‘n eierboks.
Voorbeelde van ’n verrassende sinseinde:
‘n Windvlaag lig ’n belastingkoevert op.
Haar gesig val soos ’n looddeur wat toeslaan.
Sy lag ongemaklik, die gesig ’n maer grimas van ongeloof.
Somber rusteloosheid.
Ek het my argumente soos blommerangskikkings voorberei.
Baardhare wat soos ’n skottelgoedborsel oor die boordjie van sy aandhemp skuur.
Leidse aksent is so plat soos ’n stroopwafel.
’n Bostukkie waardeur Ray Charles sou kon sien.
Staalneusskoene.
’n Pa kyk seeleeuagtig.
Gesig soos ’n leë pakhuis.
Hy kan die ou kastaiingboom in die stewige Meibries hoor ruis.
* Bonita Avenue van Peter Buwalda is uit Nederlands vertaal deur Zandra Bezuidenhout en word uitgegee deur Protea Boekhuis.

