doekoem, paljas, mtakattie, whoedoe,
“who exactly is fooling precisely who?”
waffer Mens word soe, oep en bloet, bedrieg,
verneuk, ommie bos gelei, gefop, belieg,
asof niemand’t ooit sou ontdek, verhul,
allie euwels, gruwels van onkunde-ontkenning,
Duiwelspiekdissipelskoling, struktuurgeweld-
voortsleping, piekfyn raffinering, verdoeseling,
onner mat in, gifput, doofpot in, leuen op leuen,
verswymel, versmoor, verstik, onderdruk, besweer,
uitgebuit, geëksploiteer, gemartel, gemanipuleer,
gedegradeer, psigo-spiritueel ver-Auschwitz,
ver uit vryheidsfeer van Gewetensvryheid uit,
soos Gitmo-gevangenes kous oor kop, verneder,
soos werfbobbejane met gunsies en gawes gelok,
geterg, bespot, minderwaardig behandel, beloer,
deur voorheen- en neo-bevoorregtes, klas-, ras-,
Twee Ekonomie-teoretici, super-pseudo-demokrate,
kop-in-een-mus met mynbase, IT- en media-magnate,
dobbelhoolhoereerders, absoluut meerderheid-onteerders,
almal in so ‘n war in, ingewar, verward, pseudo-simpatiek,
stort’l krokodillerig trane, tooi odes op vir afgestorwenes,
asof hul ooit aan enig’ oorlog, haat, nyd, verdeeldheid,
einde wil maak deur middel van Waarheid, Geregtigheid,
winste vrylik wil prysgee ter wille van opheffing, gelykheid,
struktuurgeweld vir eens, altyd, finaal, vannie mêp af wil kry,
mede-Mens wil verlos van ongoddelikheid, van laissez faire,
van staat en kerk, hul bloedbevlektheid steeds in ‘onskuld’ gewas,
Duiwelspiek bo Moederstad, Vader, nog nie as haráám genoeg,
as supra-ikonies’ minagting, van God, van als wat goed is, ervaar
en met betrekking tot herwinning van Gewete, herlewing van Lewe:
wanneer nood eendag druk, sal‘t miskien oorweeg worre as uitkoms,
strategies nog nie eintlik as dringend noodsaaklik genoeg gesien, ja,
“Sapiens Sapiens Superieur” bra inferieur, as jy miskien my sou vra
Jacobus Faasen


