Ek het nou nog ʼn passie vir lang girls, maar somehow skiet my gawes tekort vir hulle.
Een aand lank gelede op ʼn bokjol, vang my oog ʼn besondere lang girl. Sy is werklik uitsonderlik mooi, met die allermooiste rooi hare en ʼn winkende noupassende geborduurde bostuk wat watte, lugblase, cross your heart-tegnologie en derglike ydelhede ferm uitdefinieer. Eureka!
Nee, wag eers, en ek kry my idiome agtermekaar. Vanaand ruk ek haar van haar voete af met die soetste beeldspraak uit die mond van ʼn maplotter. Sien, met my looks en rough edges moet mens ander tegnieke probeer, soos ʼn eenoogversie op ʼn servet, ʼn Shakespeare quote, die vakuum wat ʼn goedbedoelde kompliment skep of iets dergliks. Ek vertroetel elke denkbare stukkie uit my memoirs van die groot meesters. Ek dink selfs aan ʼn alibi in geval van ʼn onverwagte snotklap. Shakespeare se "The quality of mercy is not strained. It droppeth as a gentle rain from heaven" sal die ding doen.
Ter inleiding maak ek tydens ons eerste dans ʼn opmerking oor haar pragtige hare, die eksotiese sjampoe wat sy gebruik, en versterk dus op ʼn pragmatiese manier daai essensiële vars-uit-die-bad gevoel. "Skep ʼn voëlvriendelike omgewing," het BCom vanslewe altyd gesê, maar vanaand is ek ernstig. Vanaand raak hierdie trougirl verlief op die primêre deugde van my tong, en ʼn woordvlotte selfvoldaanheid raak vaardig oor my. Sy smile net knusserig oor die "jeugdige varsheid van haar hare wat mens noop om skilderagtige landskappe te skilder", en dans verruklik verder.
Min girls het die regsom two-step onder die knie, maar sy doen dit meesterlik. "Time is tight", die beste "close"-dans song van alle tye, speel verruklik deur die hi-fi se enorme speakers in die eet/danssaal met sy wiegende plankvloer. Met die voetwerk in volmaakte harmonie kan jy beter op die voor die handliggende konsentreer, en ek sê julle, sy is lank. Die tyd is reg, en ek trek los met die mooiste kompliment wat ek enige meisie nog ooit gegee het. Ek verweef rooi, skoonheid, grasieuse lengte, vleeslike sagtheid en die hemelse sinergie van haar sjampoe en parfuum in ʼn tapisserie van die soetste woorde.
"O", reageer sy terloops, en dans verder asof ek iets oor die weer gesê het.
"O!"
Niks meer nie.
Die mosaïek van vroegaandmoontlikhede vervlak tot ʼn suur trek op my strak gesig en die gentle rain from heaven pis my vuur onseremonieel dood.
Tot vandag toe bly lang girls veilig buite my bereik.
Groete
Ryperd


