Bokomo-brekfisbrief; 31/08/2010: Anner vrou se kind

  • 0

Tannie Joey en oom Billy was kinderloos en met albei destyds reeds aan die verkeerde kant van veertig, het hulle besluit om ‘n kindjie aan te neem. ‘n Driejarige dogtertjie, Janneke, wie se ma haar by ‘n weeshuis gaan aflaai het , en toe net nooit weer van haar laat hoor het nie.

Nou ja, dinge het aanvanklik heel goed gegaan met die gesinnetjie, want alhoewel hulle dit nie juis breed gehad het nie, het oom Billy, ‘n spoorwegarbeider, darem kos op die tafel kon sit, terwyl tannie Joey seker gemaak het dat die meisiekind haar leste hard genoeg leer om universiteitstoelating en ‘n beurs of twee te kry. Beide oom Billy en tannie Joey was sonder veel “boekgeleerdheid” en laasgenoemde veral, het sterk daaroor gevoel dat Janneke beter moes doen as haar aanneem-ouers. En boonop was die kind ook ‘n reuse vreugde in die huis.

Ek dink Janneke was omtrent halfpad deur haar universiteitsloopbaan, toe oom Billy skielik met Alzheimer’s gediagnoseer is. Die effek van die siekte was ‘n lelike ding vir die twee vroumense om te moes beleef, maar ten minste het die monster die oom redelik vinnig afgetakel en is hy kort daarna dood. Daar was ‘n klein polis wat die huisverband kon aflos,  maar andersins het dinge toe maar swaar begin gaan. Tannie Joey was ‘n diabeet en toe ‘n klomp ander kwale ná oom Billy se dood verder houvas op haar begin kry, het sy in ‘n rolstoel beland en moes meer en meer op Janneke staatmaak om na haar om te sien. Laasgenoemde het klaar studeer, maar moes dadelik begin werk om die pot aan die kook te hou, want buiten vir kos en medisyne, moes daar ook genoeg geld wees vir ‘n voltydse huishulp om deur die dag vir tannie Joey te sorg. Vir man vind en trou kon Janneke eenvoudig net nie tyd vind nie.

‘n Paar jaar later, Janneke was seker so om en by 28 jaar oud, word tannie Joey geopereer en is besig om in die hospitaal aan te sterk, toe sy uit die bloute vir haar dogter vra:

“Ai, jy weet, kind met jou pa weg en ek wat ook seker een van die dae deur die Here gehaal gaan word, wat gaan tog van jou word? Dit lyk nie vir my jy wil man vat nie en jy kan tog nie so alleen deur die lewe gaan nie.”

“Wel, Ma” blaker Janneke toe uit “ek was van plan om met Ma te praat as Ma eers by die huis is, maar nou is seker ook maar goed. My … uhm … wel … my regte ma het my ‘n rukkie gelede opgespoor en ek het  briewe en ‘n foto …wat ek nog vir Ma sal wys. Sy wil gaan koffiedrink en ek’t gedink as Ma eers beter is en bietjie alleen kan bly, sal ek haar een Saterdagmiddag by die Mall gaan ontmoet.”

Ek weet nie wat tannie Joey se antwoord was nie, want toe Janneke later daardie aand die storie vir my vertel, het sy boweg geweier om oor daardie deel van die gesprek gesels. Sy’t net anderpad gekyk en haar oë ‘n slag of wat met ‘n sneesdoekie uit ‘n styfgeklemde vuis afgevee.

Tannie Joey is ‘n aand of twee later onverwags in die hospitaal oorlede en toe ek laas gehoor het, het Janneke ‘n staande reëling gehad om Sondagmiddae by haar nuwe Ma-hulle (blykbaar in ‘n grênd voorstad) te gaan eet. Ek kan egter nie sê presies hoe dinge daar verloop het nie, want ná die tannie se begrafnis, en met Janneke en haar ma se eerste koffiedrink-sessie voor die deur, het ons stilswyend ooreengekom om nie weer kontak te hê nie.

Oom Daan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top