Bokomo-brekfisbrief; 31/07/2010: Op die platteland

  • 0

Ek bly nou al 6 maande in Kathu. Populasie; 40 000. Mense wat vir die Sishenmyn werk; 10 000. Ongeveer 5000 van die werkers is kontrakteurs en werk nie direk vir Kumba nie. Wanneer mens aan iemand voorgestel word vra hulle jou heel eerste of jy vir die myn werk en in watter afdeling, dan plaas die mense jou onmiddellik in die regte boksie. Die kleindorpse Iscor-mentaliteit sal nog ‘n rukkie neem om te verdwyn. Die ingeboude rassisme ook. Of altans, ek hoop met my hele hart so. Die myn is baie goed besig met hul BEE-aanstellings en die dinamika van die dorp is besig om te verander. Ons bure is swart en een van my beste vriendinne hier is ‘n kleurlingvrou. Ek was dit gewoond omdat ek dieselfde in Johannesburg ervaar het, maar het nie besef hoe vreemd dit vir party van die ander inwoners is nie.

Ek is baie gelukkig hier, maar is nou weer bewus gemaak van die tekortkominge van ‘n klein plekkie toe my dogter by ons kom bly het nadat sy teruggekeer het van Amerika. Hier is baie klubs - netbal, hokkie, rugby, perdry, atletiek, gholf, muurbal, ‘n voëlklub en ‘n gym - maar verder is daar niks. Geen teaters, flieks, parke, klubs, ordentlike restaurante of kunsgalerye nie. Hier is heelwat jong mense soos ingenieurs, geoloë, tegnici en projekbestuurders, maar al wat al wat daar vir hulle is om te doen is braai.

Hier is al die soorte kerke, maar hulle is almal halfvol en dan is daar heftige besprekings of die kleurling VGK moet saamsmelt met die NGK wat nog leliewit is.

‘n Rukkie gelede het Bok Van Blerk by die Hervormde kerk se kermis kom sing. Dit was gratis. Daar was duisende mense, maar toe Sonja Herholdt kom sing en die kaartjies iets soos R30 gekos het, is net ‘n handjievol kaartjies verkoop. Iets wat my opgeval het, is hoe suinig die mense is om vir iets te betaal. Ek weet nie of dit ‘n mynwerknemerfenomeen is nie, maar dit keer ontwikkeling want baie klein goeie besighede het al gevou as gevolg daarvan. Almal ry vier-by-vier voertuie of double cab bakkies, maar vra hulle om geld uit te haal vir iets soos kuns of kultuur en hulle hande bly toe.

Tog is Kathu ‘n pragtige, vriendelike dorpie met wonderlike mense en die skoonste, helderblou lug.

Uit desperaatheid om iets te doen het ek en my dogter 45 km gery na die buurdorp toe waar die atmosfeer heeltemal anders is. Populasie 450 000. Meer plakkers en die tipe plek waar jy jou handsak vasklou as jy uit jou motor klim. Daar is baie besighede, muti-winkels, loan shark-kantore en selfs twee Pick ‘n Pays, een in die bodorp en een in die onderdorp.

Daar sien ek toe iets wat my dag die moeite werd maak. Twee winkeltjies, een se naam is The Very Cheep Shop en die ander The Much and Better shop. Die Sjinese het gearriveer.

Mooi helder dag vir almal,

Vega        

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top