Bokomo-brekfisbrief; 31/05/09: Ateïs in die hemel - finale episode?

  • 0

 

 

(Hiermee volg die finale episode van Ateïs in die Hemel en die oplossing van die vierde vlak.)

In die vorige episode het die woedende engel "hel" as bestemming op beide kaartjies geskryf, waarvan Gabriel een moes kies.

Gabriel kies een van die koeverte en skeur dit oop. Sonder om te kyk wat op die kaartjie staan, haal hy dit uit en eet dit vinnig op.

"Kyk! Hy verneuk!" skree die engel. "Stuur hom hel toe!"

Mithra staar vir 'n ruk lank na Gabriel. Deur die uitdrukking op sy gesig kan mens sien dat hy wonder of die ateïs heeltemal van lotjie getik is.

"Wat maak jy?" vra hy.

"Ek is nou moeg vir hierdie speletjies. Dit moet nou einde se kant toe staan."

"Dink jy werklik dat ons nie kan bepaal wat op jou kaartjie gestaan het nie?" vra Mithra. "Daar was twee kaartjies, een hemel en een hel." Met dié neem hy die oorblywende koevert uit die engel se hand, maak dit oop en lees die kaartjie.

"Hel," lees Mithra. "Dit beteken dat jy die ‘hemel'-kaartjie gekies het." Hy kyk verbaas na Gabriel.

"Waarom dan die sirkus van vroeër?" Gabriel skud net sy kop. 'n Glimlaggie vorm in die hoek van sy mond, gevolg deur 'n skewe kyk in die engel se rigting, wat lyk of hy uit sy vel gaan bars van woede.

"Baie geluk! Jy is die eerste persoon wat al die uitdagings oorleef het," juig Mithra, "Jy verdien sjampanje!" en oorhandig 'n bottel Dom Perignon aan Gabriel.

"Geniet jou drankie; jy verdien dit. Wanneer jy gereed is, stap jy net by die gang af en op met die trappe na die hemel."

Gabriel neem 'n groot sluk en begin die trappe klim. Toe hy bo kom, kom hy agter dat hy weer onder is. So gaan hy vir ewig trappe klim en geen vooruitgang maak nie.

"Ek moes nie die sjampanje gedrink het nie," dink hy.

 

 

(Illustrasie deur MC Esher)

Kyk die kort (3:44 min) YouTube-video om uit te vind hoe hy uit dié penarie gekom het. Of het hy?

Paul

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top