Bokomo-brekfisbrief; 31/01/2011: Afrikaners vir Jan Rap

  • 0

Dagsê Jan Rap

Ek het jou skrywe aan Raed-na-Gael oor sy dwepery met Engels baie geniet. Jy raak ’n paar belangrike punte aan wat baie geldig is.

Ek dink nie jy moet jou veel steur aan Raed-na-Gael se teregwysings nie, want ons het hom al hier op die Sê leer ken as ’n persoon wie se opinie oor homself nie strook met die inhoud van sy skrywes nie.

’n Paar jaar gelede het ek hier op die Sê gereageer op Ruda Landman se bedanking uit die Afrikanerdom oor heimlik dieselfde redes wat onse intellektuele reus aanvoer oor hoekom hy hom kwansuis so skaam vir sy mede-Afrikaners. My argument destyds was ook dat mens nog nooit van ’n Deen of ’n Fin gehoor het wat uit sy volk wil bedank omdat sekeres hulle swak gedra nie – dis blykbaar ’n fenomeen wat net in die Afrikanervolk voorkom!

Ou Ruda se bedanking uit die Afrikanerdom het gekom in die tyd wat sy op televisie ten aanskoue van die ganse Suid-Afrika haar totale onkunde en naïwiteit ten toon gestel het. Sy het die mannetjie wat die verdwene Gert van Rooyen-dogters met behulp van “kwantumfisika” sou opspoor voorgehou as ’n kenner en ekspert en letterlik al die snert wat hy opgedis het huidjie en muitjie vir soetkoek opgevreet. Dit het my nogal laat dink dat die Afrikaner dalk beter af sal wees sonder haar – ’n gedagte wat onwillekeurig by my opgekom het toe ou Raed-na-Gael so spog oor sy onberispelike Engels.

Tydens ’n onlangse gradeplegtigheid by die Universiteit van Stellenbosch is ’n PhD aan ’n jong Afrikaanse seun toegeken. Hy was besig met sy meestersgraad en moes nuwe wiskunde ontwikkel om die prosesse wat hy nagevors het te beskryf. Die uiteinde van die wiskunde wat hy ontwikkel het, was dat dit internasionaal opslae gemaak het en hy tree nou as gasdosent by oorsese universiteite op om sy wiskunde te doseer. Die Universiteit van Stellenbosch het terstond besluit dat die vlak van sy meestersgraad sodanig was dat na ’n paar geringe wysigings ’n PhD aan hom toegeken is. By dieselfde geleentheid is ’n ere-doktorsgraad aan Koos Bekker van Media24 toegeken. Sy indrukwekkende CV is aan die gehoor voorgehou en my Afrikanerhart het geswel van trots oor die uitsonderlike prestasies van hierdie uitsonderlike Afrikanerseun.

Daar is letterlik honderde voorbeelde van uitnemende Afrikaners en daar is vir seker ook baie voorbeelde van Afrikaners wat swak gedrag openbaar. Dis maar hoe dit in enige volk werk. Om die Afrikaners wat jou skaam maak te verhef tot die deursnee Afrikaner is gewoon dom en dui op ’n ernstige minderwaardigheidskompleks wat manifesteer in ’n verering vir alles wat jy nie is nie.

Ek is ’n Afrikaner en wanneer ek Engels praat bevestig my aksent dit baie deeglik. Niemand het my nog ooit oor my perfekte Engels gekomplimenteer nie – komplimente oor die inhoud van wat ek kwytraak oor my vakgebied is van veel groter belang.

Afrikanergroete

Thomas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top