Bokomo-brekfisbrief; 30/11/08: Kennis of boekekennis?

  • 0

 

 

Lees nou so ʼn paar artikels en die skrywers verwys dan na wat ander gesê/geskryf het. Het die en dat in so en so ʼn boek, selfs die Bybel, gelees. Dis wat hulle in hul artikels na verwys.

Nou's my vraag: As mens iets lees wat ʼn ander geskryf het, is dit dan die waarheid/bewese feit? Die een wat dit eerste gesê of geskryf het, waar het hy die insig of kennis vandaan gekry dat ek en ander dit as die absolute en as waar moet aanvaar?

En as ek nou op dieselfde lyne dink as daardie "eerste" denkers, dan is wat ek sê/skryf mos ook waarheid en ʼn absolute. Dan kan iemand anders mos nie kom en my kritiseer dat ek niemand in my geskrif aanhaal nie.

Ek verwys nou nie na die eksakte wetenskappe nie. Eintlik verwys ek na geen wetenskap nie. Sommer net wat mens self "uitdink".

Nou kom ek by nog ʼn vraag: As my uitgedinkte iets in die smaak of nie smaak van ander val nie, wat dan?

Dit bring my by die dinge waaroor sommer debatte gevoer word. Wat lei tot ernstige meningsverskille en wat dan rusies en selfs erge stryd en oorlog kan ontketen. As voorbeeld - kom ons veronderstel die oom ouderling sit op sy stoep. Het niks wat hom besig hou nie en dink dan daaraan dat dit wat in sy kerk gesing word nie vir hom stigtelik is nie. Nou begin hy diep daaroor nadink en kom tot die gevolgtrekking dis verkeerd en as mens so iets in die kerk sing, sal die Here jou nie aanhoor nie en dan dien jy die duiwel. Hy dink net die heel tyd. Lees nie iets daaroor op nie en formuleer dan sy denke en neem dit na die kerkraad. Darem eers met sy medebroeder bespreek. En dan neem hy standpunt in.

Mens kan die situasie verander met politiek en dan vorendag kom met ʼn standpunt. Die standpunt word met oortuiging en baie sterk verkondig. En daar trek die nuwe idee wat mense saamsleep en allerhande dinge laat doen.

Moet ʼn standpunt elemente van jou waarheid bevat voor dit as werklik aanvaar kan word? Ek weet nie en veral so as daar kultuurverskille is. Dit bring my dan by die punt waar ek nie met ʼn ander saamstem nie vanweë wat ek gelees en geleer het, maar is ek reg en hy verkeerd?

Nee o gaats, Melt, hier raak ek nou verstrik in eie denke. Al wat ek weet is dat ek nie met ander hoef saam te stem net omdat ek nie boekgeleerd is nie. En dat ek self my eie teorie en filosofie kan uitdink.

So, daardie klomp politieke verwaandes wat my wil voorsê, "Vat ʼn banana"

Moet ek nou registreer om te kan stem en indien wel, moet ek stem? En vir wie?

Ag hoe deurmekaar is ek nou. Weet nie eens waaroor ek aanvanklik wou skryf nie. O ja, dink wat jy wil. Jy is ʼn denker.

Groete.

Jakkie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top