Bokomo-brekfisbrief; 30/10/2010: Vrede, Sondaar

  • 0

 

Jy vat mens ver terug. Mnr Bowie, daai paarties, die "Chinese braaie", die fondues, die katte knyp innie donker ...

Ek onthou ene spesifiek want die dametjies het besonders baie moeite gedoen. 'n Doodgewone denim sou nie deug nie. Die dametjies het beduie dat hierdie 'n grend affêre moes wees. Met blommetjies en goetertjies en die werke. Ons moes kom om "ordentlik" te wees en dan moet ons hoop dat daar iets meer uit die etery sou voortvloei. Dus sit jy maar aan en doen die fênsie etery kompleet met dumplings en bowties en al die goete wat lekker is terwyl die monde maar gekwyl het vir die dansery later.

Dit was mos die tyd van die "swart" ligte wat jou maar gemaak het om iets lig aan te trek. En soos die aande vorder het die ander ligte stadig afgegaan tot jy met 'n wasige spul op die dansbaan gesit het wat basies heen en weer gewieg het op maat van 'n vergete ikoon. Almal wasig wit onder die swart neon lig.

En nee, van engelvlerke was daar nie veel sprake nie.

Vrede? Vrede was daar nie daardie tyd gewees nie. Dit was net holderstebolder en doen eers en dink later daaroor.

Dit was die tyd van skuldig wees sonder om verantwoording te doen daarvoor. Dit was die tyd lank voor ons gedink het dit is verkeerd al was ons gewaarsku. En dit was die tyd toe dit nog cool was om verkeerd te wees al moes die Polieste ons destyds ses of sewe hale op ons gatte gee om die punt te illustreer. Ek sit soms en luister na my rebelse klogoete en ek wonder al wil ek nie waarsku nie: Was ons ook so gewees? En ek moet waarsku want dis my plig om so te doen en tog wil mens dat hulle dit wat ons geproe en oorvreet het aan ook net smaak. En ek is seker hulle gaan. In oormaat. Want dit moet so wees.

Ra Mavenster het altyd beduie as hy die klogoete so gesien het: "'n Besige (of stout) kind is altyd 'n goeie grootmens". Ek het jarre gespook met daai woorde tot ek dit self beleef het hoe die grootste kakmakers van destyds vandag solid Citizens is. Hoe iemand soos Ockert wat as jongmens altyd die "green tree of knowledge" en die bloufilms en die warm spots verskaf het deesdae sy deel doen op die direksie van een van ons top maatskappye.

Vrede? Ek het vrede gevind, Sondaar. Ek vind my vrede in hierdie Wonderland met al Haar Wonderlike mense. Ek vind vrede vanmiddag in hierdie Bitch van 'n Blou Dam as ek my gevinde vriende sien. Ek vind vrede in die wete dat wat daar was om te ontdek en te ervaar inderdaad gedoen is en ons vir ewig moet soek na die sin agter alles en die wete dat ons meer weet van die maan as wat ons weet van dit wat onder die oppervlak van my Geliefde Blou dam is.

Vrede is om te besef dat jy niks is nie. Dat jy net nog 'n klein deeltjie is wat moet bydra tot die groter geheel. Dat jou liggaam se uiteindelike doel is om die grond te bemes waarop jou nageslag groente gaan kweek vir oorlewing. En dat jou siel en gees tot niks gaan vergaan as jy nie produktief is vir hulle wat hierdie lewe met jou deel nie. Want ek is net omdat ek deel is van die groter geheel.

Daarom dat ek die vrae gevra het. Want nie een enkele vreemdeling gaan 'n tjek van my aanvaar bloot op grond van my glimlag nie. Mense wil weet hulle gaan hul geld kry. Waarom geld dieselfde reëls nie ten opsigte van die gode en die (liegbek) Boeddhas en filosowe nie?

Vrede is nie om god te vind nie. Vrede is om te besef dat, al is daar 'n Godheid, ek steeds kan voel soos die godheid. Net, sonder al die voorskrifte en skuldigvoel. En dit so te aanvaar, nie as my lot nie maar as my keuse.

Ek vind nie vrede in Hom nie, maar ek bid Sy/Haar vrede toe vir jou en julle. Eendag dan drink ons mekaar onder die tafel in en praat sommer oor dit wat opkom. As jy nie drink of rook nie sal ek maar vir jou part dit doen.

"one issue only" Die woorde dien nogal as aansporing. Want net een keer in mens se lewe het jy die voorreg om te lewe. En dit is so ongelooflik kort, is dit nie? Ek wens net een ding: Dat die dag 50 uur lank kan wees, om meer tyd te gee om te LEEF.

Soos altyd: Groete uit Oesterland

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top