Na aanleiding van jou brief: Om van vergewe en vergeet te praat, is maklik, maar dis dikwels net 'n klomp woorde. Ek dink nie die Bybel verwag van mens om iemand te vergewe en dan sommer daarvan te vergeet ook nie. God doen dit wel.
Vergifnis is baie nodig vir mens se eie emosionele en geestelike gesondheid. Dit help ook nie mens plak net 'n pleister op nie, die wond moet oopgegrawe en van binne af skoongemaak word anders bars die sweer net herhaaldelik weer oop. Dis 'n proses van herstel wat tyd neem.
Mens se gedagtes word tydens 'n doelbewuste poging tot vergifnis getransformeer en vernuwe. Jy neem 'n besluit om anders te dink en om die onreg nie teen die persoon te hou nie. Baie dikwels is dit 'n misverstand wat mense op 'n sekere manier laat optree of hul eie gebrokenheid wat hulle laat baklei en mens moet probeer om in hulle skoene te staan sodat jy hulle kan vergewe. As jy dan vergeet van die onreg wat jou aangedoen is, is dit 'n bonus. Deur God se genade kan ons ander vergewe.
In Rick Warren se boek The purpose driven life skryf hy dat mense na 'n argument of onreg wat gepleeg is, moet "reconcile", maar dat daar dikwels nie "restoration" kan plaasvind nie. 'n Erg gebroke verhouding sal na vergifnis en "reconciliation" nie noodwendig weer herstel soos dit voorheen was nie.
My wyse man sê altyd dat 'n mens wat weier om iemand te vergewe, is soos iemand wat gif drink en dan hoop die ander persoon gaan dood. Intussen gaan jou siel dood van bitterheid.
Vega ('n dankbare ontvanger van God se vergifnis)


