Bokomo-brekfisbrief; 30/07/09: Werfdinge in Suidwes raak deurmekaar

  • 0

 

 

Kyk, die ding tussen my, Jakob en dominee het geloop pla. ʼn Anderse soort branderigheid hierbinne waar jy nie vatplek kan kry nie, toe gaat maak ek die saak met dominee reg. Hom mooi verduidelik van die omstandighede en gebeure.

Daarna was dominee saf, maar ook nie te saf nie, wou nooit weer alleen saam met my iewers heen ry nie, en by die kerkbasaar het hy mevrou Dominee altyd styf onder sy arm vasgeknyp as ek sou nader staan. Ek dink ook nie dit het gehelp toe ek na maande weer my gesig in die kerk wys, en my seun wat van Amerika besoek, sy oë op die Nagmaaltafel gerig, kliphard laat hoor het: "Jis, pa, ek hou van dié kerk, hulle het shooters!"

Maar die storie het sy fyndraai loop kry verlede week toe ʼn mannetjie van Swapo hier by my aankom op die plaas en wou hoor of ek nie maar by hulle party wou aansluit nie. Ek was reeds weer vir ʼn week onder kerklike sensuur.

"Oom, Swapo is die toekoms van ons land en oom kan net voordeel trek deur by ons aan te sluit," het hy handeswaaiend beduie. Kompleet asof hy die vlieë in die melkstal bymekaar wou maak vir ʼn belangrike geleentheid.

Ek het gehurk op my melkstoeltjie gesit, besig om Blommetjie te melk.

"Jy sê daar is voordele aan verbonde?" wou ek weet.

"Ja, oom, die party kan baie dinge vir oom doen, oom moet net vra," het hy weer met die hande beduie.

"Nou ja, boetie, daar ís iets wat jy vir my kan doen."

"Sê net, oom, en dis gedoen," het die mannetjie soos ʼn ou versekeringsagent laat hoor.

"Jy sien die ding staan so: drie weke gelede, een Saterdagmiddag, wou ek vir Blommetjie melk. Van lank se tyd het Blommetjie die gewoonte om haar stertkwas deur jou gesig te piets terwyl jy haar spene trek. Daaraan was ek nou al gewoond, maar dié Saterdag het Blommetjie per ongeluk op haar stert gemis. Weet nie of die lusern nie geakkordeer het nie. Elk geval, elke keer as ek aan haar spene geraak het, het sy my deur die gesig gepiets met die kwas vol mis. Dan moes ek eers vroulief se jammerlappie loop haal om my gesig af te vee.

"Besluit toe om haar stert met die spantou vas te maak. Dié werk ook nie; Blommetjie trippel rond en ek kry nie my korrel in die melkemmer nie. Oplaas moes ek ʼn anner plan maak. Keer toe die melkemmer om, klim bo-op, haal my belt af, tel Blommetjie se stert hoog innie lug, en maak dit aan een van die stal se balke vas.

"Man, en net daar, met my hande om die balk geknel, besluit my broek om af te val - het mos nie meer ʼn belt om hom bo te hou nie. Onnerbroek dra ek ook nie; die ding het mos ʼn gewoonte om soos iemand met ʼn viertrekvoertuig in elke sloot in te kruip. Da' staat ek toe in al my glorie, en met dié het dominee by die deur ingekom ..."

"Nou wat moet ek doen om te help?" het die mannetjie gulsig gevra. "Moet ek vir oom die koei se stert vashou sodat oom haar kan melk?"

"Nee, boetie, ek wil hê jy moet na dominee toe ry, en as jy hóm kan oortuig dat ek geen bybedoelings met Blommetjie gehad het nie, sluit ek by jou party aan."

Swerwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top