Bokomo-brekfisbrief; 30/06/2010: Geel vingers

  • 0

Ek lees oom Daan se brief oor die geel vingers en toe val iets my by oor my prille jeug. My oorle ma het altyd gesê, meng jou met die semels en die varke vreet jou. Ek glo deesdae, lê saam met die honde en die vlooie vreet jou. Ek is grootgemaak op die prinsiep, as ek gesien word is ek gemoer. Almal het altyd geglo ek het aangejaag, is besig of gaan aanjaag …

Ek het hier in st sewe se koers landbou as ‘n skoolvak gehad. Ons het ‘n onderwyser mnr Smit gehad wat ons die vak aangebied het. Hy was op aftreeouderdom en het nie veel aan ons jongelinge gehad nie. Sy bynaam was H2O,  wat vir Helse Twee Ore gestaan het. Die oom het gereeld tussen klasse gestaan en rook.

Een dag verduidelik hy ‘n proses wat plaasvind en teken op die bord die hele proses met bordkryte, en kleur die hele storie in. Hy vra toe een van my klasmaters wie se naam hy kon onthou wat is die kleur van die eindproses. In die geval was dit blou, maar die lat haak toe af en skree, geel meneer! Die ou vervies hom en vra weer, Wat is die kleur? en wys op die bord na die kleur. Weer haak die ou af, geel meneer! Naderhand snap ek wat aan die gang is, die klasmaat verwys na die onderwyser se vingers wat geel is. Ek is mos half aan die slaap, maar skeur my hol toe oor die storie wat hom voor my afspeel. Die onderwyser draai toe om en sien net tanne soos ek lag. Nodeloos om te sê, ek is daardie dag, soos baie ander dae, gemoer oor stront wat ek nie aangejaag het nie.

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top