Bokomo-brekfisbrief; 30/05/2010: Slaan hom Hansie!

  • 0

Hier in Oesterland dwaal 'n paar siele rond wat, wel, nie heeldag al die varke in die hok het nie. Goeie, skadelose mense wat nooit 'n vlieg skade sal doen nie. Wel, buiten Hansie, as jy hom opstook.

Hy loop altoos met sy een arm in die lug en waai maar vir die karre wat verbykom. Of so lyk dit vir die deursnee motoris, wat heel vriendelik wuif en wonder wie die ou dan nou is?

Maar diegene wat vir Hansie goed ken weet. Jy kan hom maklik aanhits om iemand 'n behoorlike klap te gee. Jy beduie net opgewonde: "Slaan hom Hansie, slaan hom!" en dan klap Hansie. Na wie ook al voor hom staan.

En so land Hansie toe mos in die poliesselle. Om te oornag en volgende oggend te loop verskyn. Nie vir erge kriminele dade soos ons dink nie, maar bloot vir nonsense aanjaag so in sy onkunde. Die landdroste ken al vir Hansie en laat hom maar gewoonlik gaan met 'n streng aanspreek en dan loop dinge wel vir Hansie vir so 'n week of wat. Tot hy vergeet. Geen ordentlike landdros sal immers vir Hansie te hard straf nie. Selfs die strengste landdros het mos 'n hart, man.

En so begelei hulle vir Hansie uit die selle uit na die klein hofgeboutjie toe. Met klein bedoel ek klein en loop kyk bietjie agter Groot Brak se poliesstasie as jy wil sien wat ek bedoel. As daar tien mense in die hofsaal is is hy oorbevolk. Aangeklaagde en prokureurs en aanklaers sit of staan basies in mekaar se asems, met voorsittende beampte wat net bietjie hoër sit.

En so kom die mindere misdadigers mos maar eerste in om die tou buite te laat korter raak en plek te maak vir die manne met die voetboeie. Hansie was sommer eerste op die dag se hofrol en so met die inkomslag beduie die poliesman (ons weerhou maar sy naam) wat hom moet begelei die klein hofsaaltjie in hier in Hansie se oor: "Slaan hom, Hansie, slaan hom!"

Dit was bloot toevallig dat die aanklaer die naaste persoon voor Hansie was en wel, jy weet mos wat toe gebeur het. Aanklaer ******** sê dat die klap nie so erg hard was nie, dit was die onverwagse wat hom getref het.

Hulle sê dat die "Judge" (ja, man, dis eintlik 'n landdros) so dik van die lag was die dag dat die hof vir 'n wyle moes verdaag. Later het hy vir Hansie huis toe gestuur met 'n streng vermaning. En die poliesman? Hy het alles ten sterkste ontken en bloot vir Hansie beduie: "Nee sies, man, hoe kan jy iemand slaat wat jou lank kan laat bandiet?"

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top