Bokomo-brekfisbrief; 30/04/2010: Mediese Reps

  • 0

Ons GP’s in die platteland en in die stede is wonderlik bevoorreg om gediens te word deur die mooiste dametjies wat medisyne bemark en verkoop. Hulle is ‘n heerlike bron van inligting en skindernuus en uitgesoek en opgelei om met alle mag enige-iets aan ‘n dokter te kan afsmeer. Natuurlik is hulle altyd pragtig gebou en modieuse modelle met wonderlike persoonlikhede. En baie professioneel. Elke ses weke doen hulle rondtes. Altyd ‘n aangename verrassing om my gunsteling Poppie in die spreekkamer te sien met die groot leerkoffer vol dokumente en arms vol geskenke – omdat die rolle omgekeer word:– dat sy vir my ook iets vir ‘n slag bring en my dag maak deur na my ou grappies en stories te luister sonder om ‘n voorskrif te vat. Wonderlike gevoel wanneer sulke pragtige gesonde dametjies soveel aandag aan ‘n ou Ballie gee.

Omdat hulle programme dikwels saamval daag hulle in sarsies op en wag dikwels saam in die wagkamer.

Hulle is geweldig professioneel en jaag ‘n teiken met alle mag, deur die dokters te oortuig om hulle produk te kies. Hulle het handleidings/logboeke van die persoonlikheidsprofiele van elke dokter en ruil notas uit in die wagkamer oor die dr se bui en behoeftes: “ ... moet tog net nie oor boerdery praat nie want dan kom jy nooit daar uit nie … hy’s glad nie lus vir ons nie ... vat tog lekkers vir die ou – dan eet hy terwyl jy praat ... hy is mal oor politiek/rugby/jag … of vertel hom die nuutste stoute/politieke/Gammat/Ierse grap – dan sal hy luister … of selfs ook soms (hy’s baie hartseer vandag) gaan eerder verby …” ens.

Hulle lees ons soos boeke en so het ek al dikwels met verwondering gewens dat my vrou ook met daai goeie gawe bedeeld is.

Pragtige mollige mej Mollie was die beste: met haar kortste noupassende minirokkie en laagste halslyn moontlik - eers kruisbeen voor die lessenaar my toegespreek en daarna vir my bukkend oor die lessenaar iets beduie op mediese tabelle. Verwonderd vergaap ek my dan aan die mooiste tieties en alles behalwe die studietabelle – en het ek al lankal besluit dat die pille wat sy verkoop sal ek toe oë voorskryf (enigiets wat sy vra, as ek net die naam kan onthou …). So dryf sy die spykers die een na die ander in my kassie in soos uit ‘n boek uit – ‘hou die kop laag en swaai deur’ of ‘maak sag voor en slaan met die agterlyn.’

Dan kom sy regop en trek haar pragtige skouertjies agtertoe en stoot haar mooiste mammaes seksie vorentoe terwyl sy die mini aftrek oor haar mooiste bene om die finale nekslag toe te dien en sê met ‘n finaliteit en sekerheid in haar stem:

“… en jy weet dokter, ek is ook net so ontsettend REGS soos jy!!!!”

Toe skater ek van die lag - en sy ook!!!!

Huisarts

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top