Bokomo-brekfisbrief; 30/04/09: Camino: Heilige Jakobus, die More en die Ysterpelgrims

  • 0

Na al die geskimp oor die Belgiese bandiete van die webmeester en die liewe Ellen wat die Camino onveilig sou maak, moet ek darem sê ek het wel Belge op die roete teëgekom, maar hulle was almal Frans en vroom (hê-hê-hê).

Eintlik wou ek die skryfseltjies vinniger op mekaar laat volg het, maar die agterstallige werk moet ingehaal word. Dus is die afknyptydjies vir stories maar skraps.

Ignoramus het verwys na die Portugese variasie op die tema van die hoendertjies. Twee opmerkings daaroor: dis die volgende Camino wat ons gaan stap as hierdie een klaar is, dit het ek my vas voorgeneem. En tweedens, dis baie snaaks dat die Portugese variasie oor die wonder met swart hoendertjies handel. Dié van Santo Domingo moet weer spierwit wees omdat hulle ongeskondenheid en onbevlektheid simboliseer. Daai vere word mooi deurgekyk dat hulle almal spierwit is!

Die Camino is in 'n sekere sin vir die Christene vergelykbaar met die groot pelgrimsroetes van ander gelowe en is 'n bietjie soos Mekka vir die Mohammedane of die goue tempel van Amritsar vir die Sikhs. Naas Rome en Jerusalem, is Santiago di Compostela vir Christene een van die drie belangrikste pelgrimsoorde dwarsoor die wêreld.

Santiago is belangrik omdat die Heilige Jakobus daar begrawe is. Die Heilige Jakobus, eens 'n apostel van Jesus, het na sy dood op die Iberiese skiereiland sendingwerk gedoen.

In die Bybel word daar in die Handelinge van die Heilige Apostels in hoofstukke 12 vers 2 kort en kragtig beskryf hoe Herodus die jong Christen-gemeentes vervolg het, en Jakobus met 'n swaard te laat doodmaak.

Die vraag wat dus ontstaan, is die volgende: Hoe het Jakobus se beendere in Spanje beland? Volgens oorlewering het Spaanse volgelinge sy lyk na Spanje teruggeneem en dit begrawe waar die katedraal van Santiago later gebou is. Volgens sekere verhale is die skip met die lyk "deur engele na Santiago toe gedra". In die 9de eeu het mense skynbaar 'n "eienaardige lig" gesien waar Jakobus begrawe is. Biskop Theodemir van Iria Flavia het toe die graf laat oopmaak en dit is toe dat die beendere van Jakobus nege eeu later ontdek is. Hulle het 'n klein kapelletjie daaroor laat bou, en so het die verering van die Heilige Jakobus toe begin. Hoeveel hiervan waar en hoeveel inbeelding is, is moeilik om te sê. Feit is egter dat Spanje destyds deur die More regeer is en dat die opmars van Islam aan die gang was. Dus het die herbelewing van die heilige apostel ook net op die regte tydstip gekom.

Eintlik word vermoed dat hierdie pelgrimsroete oorspronklik van Keltiese oorsprong was. Hoewel daardie dele van Spanje gekersten was, was die heidense gebruike nog sterk. Die oorspronklike pelgrimstog het egter nie na Santiago gelei nie, maar tot aan die kus by Finisterre.

Die biskop van Iria Flavia sou sy eie sorge gehad het oor die Christene wat steeds in die geheim die ou Keltiese gebruike aangehang het. Die fonds van die graf van die Heilige Jakobus het hom sekerlik gehelp om 'n nuwe pelgrimsoord met Christelike karakter te vestig. 'n Mens hoef dus net twee en twee bymekaar te tel oor al die wonderbaarlike verskynings van die Heilige Jakobus wat in oomblikke van nood op 'n perd aan die Christene verskyn en die More in hulle hand oorgegee het. So het die heilige apostel nege eeu na sy dood roem verwerf as "oorwinnaar van die More", soos hier afgebeeld. Dit was natuurlik die begin van die "reconquisita" toe Spanje in die 11de eeu vir die Christene herverower is.

So het die roete toe in 'n gewilde pelgrimsroete ontwikkel. Ongeag wat 'n mens se eie spirituele of religieuse instelling is, dit is iets besonders om te belewe.

Die kruin van die Sierra del Perdón wat 'n mens na 'n paar ure se stap vanaf Pamplona oorsteek, is sekerlik een van die groot hoogtepunte van die roete. Terwyl jy klim, word die gedruis van die windlaaiers al hoe duideliker. Waar die pas oor die berg loop - daar waar die berg op sy steilste en die rugsak op sy swaarste is - wag 'n asemrowende uitsig en 'n reeks skuriele ysterbeeldhouwerke. Dit simboliseer die pelgrims wat deur die eeue die pad geloop het en staan te midde van 'n snerpende wind waarteen jy skuiling soek.

 

 Bron.

Die windstilte aan die anderkantse hang, bergaf, is wonderlik met pragtige natuurskoon, geurige bossies met fynboskarakter, en 'n lieflike landskap sover die oog kan sien.

Onder in die vallei het ons onsself gelawe met koffie en 'n heerlike suurlemoentert met 'n Maltese kruis van versiersuiker daarop.

Pouveer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top