George was die Griek van die kafee op die hoek. Hy het 'n kafee gehad by Heila Place in die sakegebied van Randburg. Hy het hard gewerk en daar was nie kans vir vrou vat nie. Sy woonstel was bo-op die kafee en daar het hy sy lewe lank gebly. Toe Cresta en Northgate en Fourways malls gebou is, het Randburg se sakekern begin vervuil en verwaarloos. George het sy kafee toegemaak en kort daarna siek geword.
'n Vriend van hom, ook 'n suksesvolle Griekse sakeman van Potchefstroom, het my man gebel en gevra of hy asseblief vir George sal besoek. Een Woensdagoggend het my man huiwerig die trappe, tussen slapende boemelaars opgeklim. Die vervalle woonstelblok was reg oorkant die Chinatown deel van die net so vervalle Sanlamsentrum. George het geweet hy's terminaal siek en hy was baie dankbaar vir die besoek. My man het hom gevra wat hy dink gaan met hom gebeur na sy dood. George het met trane in sy oë geantwoord dat hy nog altyd graag langs sy pa in Griekeland begrawe wou word.
Die volgende Woensdag het my man vir hom 'n Bybel saamgeneem. George het al van Moses en Dawid gehoor, maar nie veel meer as dit van die Bybel geweet nie. My man het hom die verhaal van die Ou Testament vertel en hom gevra of hy sou belangstel om die Bybel se Nuwe Testament te begin lees. So het hulle elke Woensdag oggend vir 'n uur lank, dit wat George in die Bybel gelees het, bespreek. My man het vir George van sy eie pad na geloof vertel en hom aangemoedig om self te sien wat gebeur wanneer hy die Bybel lees.
Daardie Kersgety is George in die Johannesburgse Algemene hospitaal opgeneem, waar hy uitstekende behandeling en versorging in die onkologie saal ontvang het.. Ons het vir hom gaan kuier en toe ons loop, het hy 'n koevert in my hand gestop. "Buy the children some gifts from Uncle George." Hy het niemand anders gehad wat hy Kerstyd mee kon deel nie. Die behandeling het hom nog 'n klompie maande grasie gegee.
Ses maande later op 'n Woensdagoggend soos gebruiklik, het my man aan die deur geklop en toe George oopmaak kon hy sien George se gesig lyk anders. "I read John 3 and I went on my knees and prayed that Jesus must take over my life. Like the Bible says; I'm born again! I know now where I am going when I die. I have peace in my heart."
In sy laaste dae het George se suster Maria van Griekeland af gekom om hom te versorg. Een Woensdagoggend in die Julie vakansie, terwyl ons tee drink en Maria se heerlike tuisgebakte Griekse koekies eet, wys George na 'n groot potplant in die hoek van sy woonstel. "When I'm gone Maria, you must please give this potplant to Estelle." ‘n Paar dae later is hy weg.
George se begrafnis was in die Grieks Ortodokse kerk in Parktown. Daar was net 'n paar mense teenwoordig. Maar 'n menigte het hom in sy nuwe tuiste ontvang.
Nou dat ek daaraan dink; Maria het toe nooit vir my die potplant gegee nie.
Vega


