In antwoord op Francois le Roux se brief: Hoe moeilik is dit nou om te besluit wie se briewe jy wil lees en wie s'n nie? Dis nie nodig om "Russian Roulette" te speel "met lang lyste van obskure titels" nie. Jy het tog seker genoeg verstand om taamlik gou te onderskei watter skrywers se briewe die moeite werd is om te lees? Die briewe se opskrifte gee jou ook 'n goeie idee waaroor dit gaan. Indien jy twyfel, maak 'n brief oop, lees een paragraaf en besluit of jy gaan voortlees of toemaak.
Ek merk dat Melt en Deborah wel briewe wat oor 'n spesifieke onderwerp gaan, groepeer.
Francois skryf: "Baie waardevolle skrywers (waarvan ek persoonlik weet) bly weg van SêNet omdat dit gedomineer word deur 'n paar stemme wat dit kan bekostig om daagliks tydsame siftingswerk te doen." As hulle of jy reken sekere mense domineer SêNet, ignoreer al hul briewe. Van watter "siftingsproses" praat jy? Ek kyk vlugtig na die skrywers se name, lees die opskrifte en maak dan net dié oop wat my interesseer. As ek meer tyd het, lees ek meer briewe. As ek sterk voel oor iets wat iemand kwytraak, máák ek tyd om daarop te antwoord, al is dit dan twee-uur in die oggend. En ek máák tyd om my briewe 'n paar keer deur te lees en taalkundig so goed moontlik te versorg sodat Melt en Deborah nie met 'n nat lappie agter my hoef aan te loop nie.
Jy skryf: "Die kwaliteit van skrywe onder die obskuriteit ly, omdat daar dikwels net op eie beule geblaas word in 'n poging om raakgelees te word" Francois, jóú skrywe ly aan obskuriteit omdat die kwaliteit van jou taalgebruik so swak is. Ek kan kwalik begryp wat jy hier sê. Terloops, "beule" moet "beuels" wees; 'n beul is 'n laksman wat die doodsvonnis voltrek. 'n Beul kan ook 'n wreedaard wees.
Almal wil tog hê ander moet hul briewe lees, waarom sou hulle anders skryf? As iemand volgens jou te veel op sy of haar beuel blaas, ignoreer daardie persoon se briewe.
As jy en ander nie kan byhou nie, is dit julle probleem, nie die formaat van SêNet nie. Ek kan eerlikwaar ook nie byhou met alles nie, en daarom lees ek baie dae geen koerante nie, stryk ek nie my wasgoed nie, kyk ek nooit televisie nie, maak ek nie my bed op nie, stuit ek my skottelgoed se aanteelvermoë net so elke derde dag en doen ek my uiterste bes om SêNet nie elke dag oop te maak nie. As ek 'n dag of wat mis, is dit my probleem hoe en wanneer ek opvang.
Ek stel die volgende voor:
• SêNetters moet asseblief meer moeite met hul briewe doen, dit verskeie kere deurlees om te sorg dat dit logies en samehangend is en 'n speltoetser gebruik. Hier is inligting oor verskeie Afrikaanse speltoetsers. Heelwat briewe is regtig baie krom en skeef geskryf en daar's deesdae al hoe meer tik-, spel- en punktuasiefoute.
• Skryf 'n opskrif vir jou brief wat duidelik sê waaroor jou brief gaan.
Jelleke Wierenga


