Die kerke was vol, selfs op weeksdae. Om te bid want die aarde is goed, maar die aarde is droog. En as mensekind nie meer weet watter kant toe nie dan smaak dit my wens hy hom altoos na sy Godheid. Die slim mense en sommige van die oues het egter beduie van weerpatrone en normale droogtes en siklusse maar die ongelowiges wou nie byt nie. Daar moes versterkings gevra word. Als goed en wel en alles, maar dit is tog een van die seker dinge in die ou wêreld: Dit sal nie vir ewig droog wees nie, mens moet net leer om dit reg te bestuur en beter beplanning te doen. Dit mos maar soos swaartekrag en hoekom mens, as jy rondloop waar daar met swaar goete bokant jou gewerk word, 'n harde hoed dra.
En so maak die hemele uiteindelik die poorte oop en die waters val. En die dankbares is na die eerste 100 of wat millimeter reën, smaak dit my, nie meer alte dankbaar nie. Die lyne word warm gebel en die vrese word verwoord: "Sal ons moet ontruim? Gaan ons weer "vloed"?". Die toppunt:
Laasnag drie uur hoor ek 'n gedoente. Die selfone en die landlyn gaan tekere. Bote wat rondstaan word nagegaan en die noodkreet: Verwyder julle motors, die rivier is oor sy walle by Brandwag! Hulle sê Wouter was seker al tien keer die pad op om te loop kyk by die Causeway, en sy tasse is reeds gepak. "Is julle almal besig om mal te word?"
"Ja, maar die reën ..."
"WTF, dude, julle het dan so erg gebid vir die reën, en hier't noggie eens genoeg geval om die grond behoorlik nat te maak nie."
"Ja, maar ek vattie 'n kans nie. Ek ontruim."
Ek sit by my rekenaar en ek luister hoe my dink- en alleentyd versteur word met "operasie ontruim". Herre, mens werk hard genoeg dat mens se nagte ook nou versteur moet word? Vanoggend sien ek hoe die meubels uitgery word, want dis later hoogwater en saam met die riviere wat afkom "gaan ons almal onder water wees".
Vanmiddag skyn die son lekker warm op die ontruimers se koppe. En die uittrekproses word omgekeer en die gelowige liggelowiges trek al die pad terug. Ou Mr W staan die besigheid so en bekyk en beduie: "Wonder what they will do if we had some real rain like before ..."
oester


