26°05΄57.50"S, 27°48΄20.24"E: hiér het ‘n geelhoutboom gestaan. Dié was ons spoghuis uit my ma se fairytale soos haar Huisgenoot voorblaaie van Charles en Di tydens die noodtoestand. Ons is op die broodlyn hierheen uit die onderdorp. Ek en Boet het bloed gesweet agter grassnyers en tuinvurke op dié erf. In vandag se tye as die balju soos aasvoëls sirkel is die redes hoekom huise stil raak meer verstaanbaar. Daar is geen wreder klank as die weergalmende voetstappe van lewens wat wegstap uit ‘n leë huis uit nie. Die geelhoutboom het lank genoeg gestaan vir een mossie se slordige nes, vir een volgende generasie. Die nuwe eienaar het die hele erf plavei; daar het nie ‘n enkele grashalm vir ‘n mier om weg te dra oorgebly nie.
26°05΄22.24"S, 27°48΄15.43"E: hiér het ek myself probeer leer elektriese kitaar speel; ons bure (aan regterkant) se dogter het gedink ek is ‘n rok en rol ster; sy het met opset voor haar oop gordyne ontklee en voor die spieël poseer. Dié plek het ‘n asemrowende natuurlike stukkie rotstuin met indemiese grasaalwyntjies, fluweelklipelse en mispels gehad. Die nuwe eienaar het die natuurlike rotse gerock-art ...
26°12΄25.52"S, 27°38΄46.78"E: hiér het twee reuse lukwartbome gestaan. Sedert 1938 het du Toits, van der Watts, Coetzee's, Havengas, muisvoëls, tiptolle, glasogies en rooikophoutkappers gesmul aan die vrugte en baljaar in die skadu van dié twee bome. Ons familie se bure, die berugte Goosens, het plek gemaak vir ‘n nuwe eienaar wat ‘n kerk opgeslaan het en ons vir iemand met geen behoefte aan lukwarte of skaduwee nie.
26°02΄14.85"S, 27°41΄15.23"E: hiér sit ek vandag en Google Earth my verlede. My vrou sê ek moet ophou in my kluisenaarskap peins oor my kinderdae en begin help bou aan my eie kinders se herinneringe. David Gray of iemand sing iets van ons is almal voëls op die draad in die agtergrond.
Adriaan


