Bokomo-brekfisbrief; 29/08/2010: Vincent

  • 0

 

Vincent is 'n legende. Hy't vir die Parkeraad gewerk by Hobas in Namibië, en ek het oor die bestek van sowat twintig jaar by 'n paar geleenthede met hom te make gehad. Ons het die Visrivier Canyon gaan stap en die reëling was dat jy jou kar by Hobas parkeer en die sleutel vir ou Vincent gee met instruksies oor presies wanneer jy by Ai-Ais (die eindpunt) opgetel wil word. Op die ooreengekome dag, bring Vincent (met koffiefles op die koudraaiwer siet) jou voertuig na Ai-Ais, waarop jy hom dan terugneem na Hobas en 50 zarre in die hand stop voor jy (met jou seer bene) die langpad na Upington takel.

Vincent, 'n bruinman, het lede van die Owambo-stam ("f*kke*n Wambo's", soos hy hulle genoem het) met 'n passie gehaat en waarvan die hart vol was, het die mond die hele tyd oorgeloop.

"Daan," vra hy vir my die Saterdagoggend toe ons met my Nissan-bakkie by Ai-Ais se hek uitdraai en noord mik in die rigting van Hobas "het jy daai f*kk*n Wambo by die hek gesien?"

"Ja," antwoord ek versigtig, "kon hom nie mis nie. Hoekom vra jy, Vincent?"

"Ai, jy vra nog!" brom hy kopskuddend. "Dís nou 'n SLEGTE nasie daai!"

"Hoekom dan so, Vincent?"

"Nee, got!" seg hy "Moet nooit met hulle gaan dobbel en drink nie, want dan het jy vinnig NIKS!"

"Wat bedoel jy met 'niks', Vincent?" vra ek weer versigtig. "Cheat hulle? Verloor jy al jou geld as jy saam met die Wambo's dobbel?"

"Geld?!" brul hy "Dis maar die begin van jou kak! As jy jou weer kom kry, staan jy daar met f*kk*l! F*kk*l seg ek vir jou!"

F*kk*l?" hou ek aan "Drinkgoed ... geld ... sigarette ... al's weg?"

"Klere ook, man! Die lot!"

"Tot jou klere ook?"'

"Natuurlik!" beaam hy "Jy kan my maar glo ... die f*kk*n Wambo's vat ALLES en as jy weer sien, is dit net die tweetjies van julle wat daar oorbly in die koue!"

Wag so 'n bietjie ..."Ons tweetjies, Vincent?! Ek en wie dan?"

"Julle tweetjies, man!" bulder hy in vervoering "Jy en jou voël!"

Vincent is nou retaaiert en het die pad suid gevat. Ek weet nie waarheen nie, maar ek sal 'n maand se salaris gee om hom een laaste keer te sien.

Oom Daan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top