Bokomo-brekfisbrief; 29/08/08: Kan iemand help oor bedelaars?

  • 0

 

 

Ek voel geïntimideerd deur bedelaars. Hulle is nie meer vriendelik nie, dis nie meer asof hulle vra nie, dit "demand" deesdae, en as jy nie gee nie, is die ouens sommer hoogs die moer in vir jou met slegte aanmerkings.

Ek vind die bedelaars raak nou slimmer. Nou die dag op die R28 by die Total One Stop, of wat hulle dit ookal noem, sit hierdie ou in sy BMW met ʼn lang storie (wat hy my nogal na die venster toe voor roep) oor sy vrou wat in Bloemfontein is met al sy kaarte en ek weet nie wat nog nie, maar hy het R300 nodig om in Bloem te kom. Gee hom die geld - is die hel in vir myself die volgende dag, maar los dit daar.

Twee weke later is ek op die lughawe. Loop kar toe. Hier is ʼn vrou wat beweer sy is van Engeland, het haar kaartjie verloor en sy moet nou R430 betaal om haar kar uit te kry, en as ek haar net die volgende dag weer daar kry, sal sy vir my die geld kom teruggee. Gee maar die geld, wat de fok maak dit tog saak? Die volgende dag weer die moer in vir myself omdat ek dit gedoen het.

Vanaand stop ek om bier te koop hier naby my huis. Hier kom ʼn tannie aan, lyk erg op pille (weet nogal hoe dit lyk). Nee, sy het nounet ʼn oproep gekry: haar hele familie is sopas in ʼn karongeluk in Natal dood. Haar susters is in Engeland, Australië, Brasilië, en vader weet waar nog. Sy het nou net probeer geld trek maar die masjien het haar kaart gesluk, blykbaar wou sy lugtyd vir haar telefoon koop. Gee maar R100 en loop.

Toe ek klaar bier gekoop het, ry ek en hier staan sy by haar trollie inkopies en dit lyk of sy wag vir iemand om haar op te tel. Ek wonder of sy die geld nodig het vir dobbel, vir sigarette of wat sy dit voor gedoen het.

Hoekom ek vir hierdie mense geld gee weet ek nie. Hoekom hulle my kom vra weet ek ook nie, want voor hulle storie klaar vertel is, sien ek die gate in die stories ʼn myl ver.

Ek weet egter as ek gaan nee sê, gaan ek ʼn rede hê om sleg te slaap, en dis nie vir my lekker nie. Ek hou nie van konfrontasie nie, daarom laat ek die goed verbygaan, maar dis ook nie reg nie. Ek weet baie mense kry swaar, maar die vet weet, ek werk hard vir my geld, en ek voel elke keer simpel as iemand my so vang.

Ek wil nie "fokkof" gebruik vir die mense nie, maar die vet weet, partykeer wens ek ek het dit gedoen.

Andries Wolmarans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top