Dis baie gevaarlik om snags badkamer toe te loop hier by ons, want daar word mynbomme geplant - sommer in die deur of reg voor die toiletbak. Dis ons hondjie wat dit doen en dis 'n groot skok en helse gemors as jy daarin trap, want nou moet jy amper 'n uur lank sukkel om alles skoon te kry, veral as jy nog 'n paar treë voortgestrompel het met die goed aan jou voet. Jy moet jou voet was en die twee matjies, wat bestaan uit stroke plastiek aan mekaar gehou deur dun repies.
Daarom hou ek 'n emmer voor my bed waarin ek snags piepie. Ek druk hom in die hoek tussen die laaikas en die muur en skuif 'n boks met 'n ou stofsuier in skuins voor hom, dat die groot hond hom nie omskop nie. Hy slaap ook snags in die huis en as hy bang word vir vreemde geluide of 'n slegte droom gehad het, kom lê hy voor my bed vir beskerming. Dis nogal moeilik, want ek moet bo-oor hom trap as ek die emmer wil vat. Ek kom eers agter hy lê daar as ek hom onder my voete voel.
Toe my broer by ons kom intrek vir mediese behandeling in PE, kry ons summier vir hom ook 'n emmer, 'n oue uit die stoortjie. Maar nou is die situasie in my kamer taamlik beknop. Die meeste meubels staan in 'n ry gerangskik teen die een lang muur: outydse spieëlkas, my dubbelbed, spasietjie waar die hondjie slaap, enkelbed, spasie met 'n houtstoel, dan die ingeboude kas. Ek sukkel om in die ingeboude kas te werk, die deur naaste aan die muur maak nie heeltemal oop nie weens die stoel. So gebeur dit dan dat ek gisteroggend in die kas werk en per ongeluk die emmer omskop. Ek gryp om hom weer regop te kry, maar 'n klomp piepie loop uit op die mat. Toe ek beweeg na 'n ander deel van die kas wil ek hom met my voet uit die pad stoot, en hy val weer op. 'n Baie onreine situasie, presies wat ek wou vermy, nou sit ek met die gemors.
Daar en dan besluit ek ons moet 'n piepie-pot kry wat onder die bed
Al raad skyn toe te wees om een van daai piepie-bottels te kry wat hulle in hospitale vir die mans gebruik, maar die enigste een wat ek kon kry is van dun, goedkoop plastiek met 'n plastiekprop wat nie stewig sit nie. Hy lyk of hy ook maklik sal omval en hy vat buitendien net een liter piepie. Ek self pie omtrent twee liter per nag en ek verwag van 'n standvastige familielid niks minder nie.
Maar alles is nog nie verlore nie. Ek klim weer in my karretjie en kies die pad na Strandstraat, daar onder die snelweg oorkant die stasie waar honderde taxis bedags passasiers op- en aflaai. Hulle klante is van die armstes onder die armes en behoort so iets te hê. By die eerste winkeltjie waar ek stilhou is twee Indiër vrouens in lang Saris en die een sê vir my sy dink sy het nog een iewers. Ek loop saam met haar deur die redelik chaotiese rakke en om die draai, in die onderste rak, lê daar sowaar twee onder die stof. Ek kies die grootste, sy vee dit nog vir my skoon en blink en vra my net R12 daarvoor. Verlig is ek toe daar uit met die stewige plastiek pot, ek
Groete,
Varkspek


