Ps 121 is seker een van die mooiste psalms in die Bybel: "Ek slaan my oë op na die berge ....." Dit is nou totdat Breyten Breytenbach se ysterkoei al swetende begin tennis speel het. Van toe af "kyk" die armsalige psalmdigter ewe miserabel op na die berge. Dan kla ons paap nog as ek die 1983-vertaling as deurstuiter gebruik!
As ek my oë opslaan na Cathkin en Champagne, sal ek nou seker nie 'n "paradigmastolling" by Christene veroorsaak soos toe Thomas die Ngorongoro-krater aanskou het nie, maar ek lek enigeen blink as hy die Drakensberge in ses dae kan maak.
Dan is daar nog Tafelberg aan die suidpunt van Afrika, wat as een van die sewe natuurwonders genomineer is. Dit kan ook nie anders nie, want geeneen van die ander genomineerdes is al in die hemel nie; nie Everest of die Grand Canyon nie.
Louis de la Caille, een van die ontwerpers en ontdekkers van konstellasies, het in 1751-52 die Kaap besoek. So beïndruk was hy met Tafelberg dat hy een van sy veertien konstellasies Mons Mensae genoem het. Die nabygeleë Magellaan-wolk (170 duisend ligjare ver) dien as tafelkleed om die prentjie te voltooi. As 'n mens die Suiderkruis se langste as so ses keer verleng, lê Mensa aan die regterkant daarvan.
Hier is verdere inligting, en hou duim vas vir Tafelberg as een van die sewe natuurwonders!
Groete
Angus


