Bokomo-brekfisbrief; 29/07/08: Soene en drukke

  • 0

Na aanleiding van FB se lekker brief oor die gesoenery in die Afrikanerkultuur gee ek ook my twee vir 'n stuiwer.

Ek haat die gesoenery onder die Afrikaners met 'n passie. Ek het op hoërskool al geweier om tannies wat kom kuier te soen en het my wang gedraai as die stel vreemde, klam lippe soos 'n onheilspellende kraai oor my kop vlieg en op my mond wil kom nes maak. Aanvanklik was moeder natuurlik nie gelukkig nie en is ek oor die kole gehaal oor my ongeskikte gedrag. Weldra het sy besef ek gaan nie die gedrag afsterf nie, en het Gods water maar laat loop.

Dit was veral my tannie Daisy wie se soene ek met walging afgewag het. Sy het die nare manier gehad om haar lippe effens te sper, en haar bek was om een of ander rede altyd papnat. Om dit te vererger, het sy 'n ligte snorretjie ook gehad, en 'n moesie net bokant die bolip, waaruit een baie lang haar soos 'n duiwelse slang na my gepik het. Ek onthou hoe ek my oë toegemaak het en op my tande moes kners.

Maar ek hou baie van die Spanjaarde en Latyns-Amerikaners se maniere. Hulle soengroet te pragtig ter eerste ontmoeting (die teenoorgestelde geslag) deur een keer op elke wang te kus, wyl hulle die "mucho gusto" of "encantado" sê. Na twee jaar tussen dié wonderlike nasies soengroet ek nou nog nuwe dames wat ek ontmoet op dié manier, en die reaksie is altyd verrassend. Meeste vind dit uiters sjarmant, en natuurlik onverwags. Want ons is mos maar 'n koue nasie as dit kom by vreemdelinge ontmoet. Ons sal net so stilstaan en kyk, en sê "hello almal" of "aangename kennis", sonder om eers nader te stap; ons maak net oogkontak. Die mans groet met die hand, en dis altyd vir my aardig as so 'n pap hand my stewige handdruk in die gesig vat.

Die mans in bogenoemde lande groet ook met die hand, maar mansvriende druk mekaar altyd by aankoms en verlaat van samekomste of kuiers. Altyd. Daar het ek ook die verskynsel van manlike familielede wat mekaar soen gesien, gewoonlik beperk tot Pa-seun, maar nie almal doen dit nie. Dis iets waaraan ek weier om deel te neem, ek vind dit eenvoudig aardig en ietwat "donker en grillerig". Ek gee my pa, broer en swaer eerder 'n stywe druk. Die res kry deur die bank handdrukke, behalwe my vriende, wat ook "Mexican Hugs" kry. Hier in die woestyn soen die mans mekaar een keer op die linkerwang, en dan twee keer na mekaar op die regter. Mansvriende loop ook en hande vashou (!!!) en niemand vind daaraan iets vreemds nie, behalwe ons Westerlinge. Natuurlik ontmoet mans nooit ander vrouens nie, en hulle tannies en niggies is so goed soos vreemdelinge (hulle trou met hulle niggies), so ek kon nog geen soen-gedrag bekyk tussen man en vrou nie. Een van die vreemdste dinge hier bly maar vir my die feit dat jy as man nooit jou skoonsuster sal (mag) sien nie. Hulle is altyd toegegooi, of eenvoudig afwesig. Ek het al 'n paar kere hier in Saoedi kollegas of selfs studente vasgeloop, gegroet met die hand en verneem na hulle welstand, terwyl die vroutjie in haar lang swart gewaad met gesluierde gesig netjies twee treë agter manlief staan, kop na onder. Soos dit hoort.

Ysprins

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top