Mens onthou nie meer so lekker nie, maar as ek al gesê het van oom Boel, verskoon tog maar.
Oom Boel nader nou sy eeuwording. Hy is al amper "ancient", soos hulle sê. Hy praat hoeka gedurig dat sy liggaam goed "gepreserveer" is.
Die jare begin nou al tel teen hom, want hy stap nie meer straat-af met sy kruiwa om te loop gas koop nie. Hy word nou rondgery. "Gekarwei" soos hy sê.
Oom Boel het al ons wetenskaplikes se wildste voorspooksels tot niks afgemaak. Hy rook elke dag getrou sy 40 odd (rooi) Forums. As sy driebottelkannetjie nie elke aand daar is nie, dan is die gort gaar. Dan is dit kantien toe ry of loop. En jy loop vra verniet by hom 'n skyf of 'n slukkie. Want "ek het hard genoeg gewerk vir my plesiertjies", sal hy jou beduie. En hy kry nie rus voor daai driebottel nie leeg is nie. Sedert antie Maggie die tydelike met die ewige verwissel het, selibaat, give or take 'n los gelukkie of twee.
Een van die "voorheen bevoordeeldes", soos die nuwe politiek-korrektes na hom sal verwys. Min skool geloop, en die bietjie wat hy wel kon, het hy op sy gat deurgeskuur. Die enigste uitweg was mos maar spoorweë of PA of poskantoor of iets soortgelyks vir "sy soort". Oom Boel het PA (provinsiale Administrasie), of dan nou Afdelingsraad, as jy wil, gekies. Opgelei as 'n grator operator. Jy weet mos hoe 'n grator operator geleer word: Jy begin as graafstoter. Maw jy loop met die graaf agter die grator en jy maak oop of gooi toe daar waar die grator nie kan bykom nie. Maak die pad mooi vir die sagte rygoed. Baie soos die treindrywers: Jy kon nie dryf voor jy nie kon kole gooi nie.
En op 'n grator het hy sy produktiewe lewe begin en afgesluit. Nooit gekla nie, wel getrou en 'n seun goed grootgemaak. Huis gekoop. En met die oortyd sommer gou afbetaal. Want waar dit by grator operators betref, was oom Boel enig in sy soort. Hier's nie 'n pad in die Wes-Kaap waar Oom Boel nie gewerk het nie. En hier's nie 'n grondpad waaroor hy deesdae nie kla nie: "Die mense skraap die pad sinkplaat, hulle het geen trots meer nie." Hy glo, logies, nie dat 'n sinkplaatpad net lorries se toedoen is nie.
Die bekendste storie oor oom Boel is dat hulle hom eendag getoets het. Hulle het 'n ou tweesentstuk (dit kon 'n ou vyf sent ook gewees het, ek was nie daar nie) op die pad neergesit het. Met sy grator, so vertel die mense, het hy daardie tweesentstuk op die teer gestoot sonder om een keer die pad te raak. Ek weet nie of dit waar is nie, maar ek kan maklik glo dat dit is, want die ou man doen niks half nie.
Die nuwe generasie praat van perfeksioniste en al hierdie nuwe woorde met die -ismes agterna. Die ou mense het nie van sulke goete geweet nie. Hulle het net geweet om jou job reg te doen die eerste keer. Geen lang stories of hoe-ha-argumente nie. Jy doen dit die eerste keer reg, dan hoef jy nie terug te gaan en loop foute regmaak nie.
Moet sê, die mense wat gesien het hoe Oom Boel daai tweesentstuk op die pad "geskraap" het, sweer daarby. Hy lag dit af en sê net: "Dit was nie om te spog nie, dit was maar net om te wys hoe goed die masjien gewerk het."
oester
NS: 'n Grator is wat mense sou noem 'n padskraper vir die "afrikaners" onder ons.


