Bokomo-brekfisbrief; 29/04/09: My ervaring op stemdag

  • 0

 

 

Dit was natuurlik yskoud op stemdag, maar ek en my dogter wat vir die eerste keer sou stem, was al douvoordag in die tou. Daar was 'n vreemde gedempte atmosfeer wat definitief baie van die 1994-verkiesing verskil het. Gelukkig kon ek en my meisiekind lekker gesels, want ons het mekaar lanklaas gesien.

Voor ons in die tou was 'n regte ou bitterbek saam met sy vrou en dogter. Sy het 'n bietjie met ons gesels, maar die ou knol het aanmekaar gekerm omdat die lokaal vyf minute laat oopgemaak het. Toe kerm hy weer oor die ry so stadig beweeg. In 'n stadium merk ek hoe hy met mening 'n miskruiertjie met sy skoenpunt vermorsel. Ek kon nie glo wat ek sien nie. Sy vrou het ook 'n klein doringboompie wat daar groei, uit die grond probeer skop. Wat is dit tog met mense wat altyd moet bewys hulle is baas oor die natuur?

Nietemin, toe ons 'n yskoue uur en 'n half later die saal binnegaan, lê ou Suurknol alweer 'n moewiese ou swaelvrot eier. Die dametjie wat die ons ID-boekies moes "scan", het met die persoon langs haar plekke geruil en toe maak ou Knollie die oulike opmerking dat dit nou gouer gaan, want die ander een was definitief nie goed opgelei nie. Dit word natuurlik meewarig en uit die hoogte vir die mense in hul gesigte gesê. Ai tog, ek was weereens skaam om wit te wees. Gelukkig was dit 'n Engelse persoon.

Wragtag, toe ons die stembriewe kry, kerm hy weer oor hoe hy moet weet watter een die provinsiale en watter een die nasionale stembrief is. Die briewe was verskillend gevou en ek is seker die onnosele Engelsman kon darem lees! My dogter was skoon omgekrap oor ou Galkop se houding. Wat vir haar 'n positiewe ervaring moes wees en een waarna sy vreeslik uitgesien het, is toe heeltemal bederf deur 'n ou negatiewe pruttelpot, wat dink die wêreld skuld hom iets!

My algemene waarneming was dat alles vlot verloop het, en die beamptes was baie vriendelik en hulpvaardig. Dis tog jammer dat daar altyd mense is wat eerder die verkeerde sal raaksien en tien teen een by die huis vir almal gaan vertel hoe pateties die reëlings was!

Groetnis

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top