As jy dink ek gaan my musiek of my Mazda verkoop, dan is jou kop sommer baie pap.
Maar ek hou van die "Papkop Ministries"-idee en ek wil graag help met raad. (Ek het op 'n stadium self met die idee gespeel en in die proses bietjie gaan oplees.)
So, hier is ʼn paar wenke vir jou:
1. Die tiende waarvan die Bybel praat, is gebaseer op bruto inkomste en word bereken op salaris, motor-toelaag, bonusse, mediese voordele en opgehoopte verlof. Tjla - geen verskonings!
2. Dis belangrik dat jou vrou aan boord moet wees. Laat maak posters met 'n foto waar julle langs mekaar staan met baie blomme langs julle of agter julle.
3. Mevrou Pastoor Papkop se hare moet blond wees en lyk soos 'n byekorf. Sy mag egter nie 'n titel hê nie en moet onder jou kudde sommer net bekend staan as "Beverley".
4. Onthou, 'n ou wie se een been korter is as die ander, gaan in sirkels loop. So, vir effek, as jy 'n genesingsdiens wil doen, laat sulke ouens by 'n sydeur inkom en 'n Kaapse draai gooi voor hulle die verhoog bestyg. Dan, as jy eers 'n man se bene ewe lank gemaak het, stuur jy hom reguit na 'n sitplek. Sjoep!
(Nota: Pasop dat jy die kort been nie te lank maak nie, want as jy die gesonde been noodgedwonge ook moet rek, raak dit soos om happe uit iemand se hare te probeer sny. As albei die ou se broekspante bokant sy sokkies se rekke sit, moet jy weet jy is besig om kak aan te jaag.)
5. Moenie geeste probeer uit-"dryf" nie. Vra hulle eerder mooi om te gaan en dalk word hulle nie so maklik boos nie.
6. Moet nooit met duiwel-besetenes werk wat pas klaar geëet het nie.
7. As iemand gediagnoseer is met 50% doofheid in sy linkeroor, moet jy aanvanklik mompel. Hou die mikrofoon egter by sy regteroor nadat jy hom die hande opgelê het en skree van pure opgewondeheid. Vra hom om te sê of hy die verskil kan agterkom en stuur hom terug na sy sitplek voor hy te veel kan sê.
8. Die geheim van agteroor-val lê by die nagmaalwyn. Koop dit by 'n landbouskou en kry van daai wit goed wat soos blits werk.
9. Praat baie Engels en gebruik heeltyd woorde soos "joy", "blessings" en "share". Vertel vir die kudde hoeveel joy dit jou gee wanneer hulle hul blessings met jou share.
10. Die eintlike geheim van sukses lê in die bewoording van jou preke. As jy reg praat, sal die jirre by jou volgelinge neem en vir jou gee. (As die eienaar van 'n bootplek jou diens bywoon, praat die hele aand oor hoe jy in jou gebede worstel met jou begeerte om 'n boot te hê. As jy dit reg doen, sal die boot die volgende oggend anoniem voor die tent afgelewer word.)
11. Vat jou middagslapie, veral as jy in die middel van die week biduurdienste gaan doen. Die ouens wat dit bywoon gaan die hele dag by die werk gesit het en te moeg wees om te stry as jy die kruiwa omstuur vir kollekte. As jy kan, hou die biduur na nege in die aand en as iemand kla, sê dat jou program reguleer word deur die plaaslike hospitaal se besoektyd. (Lyk en klink baie moeg en afgemat.)
Sterkte en laat weet my hoe dit gaan!
Oom Daan


