Monumente. Ek haat monumente, want hulle is meesal onprakties, onooglik en beteken nie juis veel vir die nageslag nie, want die nageslag ry meesal teen ’n verstommende spoed op die snelweg by hulle verby terwyl hulle na Radio 5 of een van die ander stasies luister. Ek vra myself ook dikwels af: kan mens hulle verkwalik dat hulle nie ons monumente wil ken of selfs eerbiedig nie, want daar is dikwels soveel dinge en beloftes daaraan gekoppel wat nie altyd sin maak nie.
So het ek op ’n slag toe Linda, my middelkind, net so met die skool begin het by Winburg verbygery. Toe onthou ek van die Voortrekkermonument wat in 1968 daar gebou is. Ek dag toe ek sal die geskiedenis-onnie se werk bietjie makliker maak deur vir die kinders te gaan wys, veral toe ek hoor hulle is juis besig met die Groot Trek. Dit was hier in die omgewing van die groot verkiesing toe ek besluit ons gaan vandag kyk na die monument.
Voor die hek aangekom moes ons ’n redelike proses deurgaan om die slot van die hek af te kry sodat ons in die terrein kon inkom. Jou erfenis is ’n ding wat bewaar moet word, sê ek vir my kinders toe hulle oor die slot vra.
“O,” sê Carla, my jongste wat op daai tydstip nog in die kleuterskool was, “want daar is skelms wat wil inbreek.”
“Ag nee Didi,” kom Monica, die oudste, tot my redding. “Hulle sluit die hek om te keer dat die koeie nie kan uitkom en wegloop nie.” Sy beduie in die rigting van ’n paar beeste wat op die grasperk staan en wei.
Uiteindelik is ons binne nadat ons iemand gekry het om vir ons te kom oopsluit. Nou kon ek vir die kinders gaan wys hoe ’n volk sy erfenis bewaar, want dit is nou maar een ding van die Afrikaner: ons is bewaringsbewus.
Reeds van ver af kan jy sien dat hierdie monument nie ’n gewone monument is nie. Die boustyl is modern. Dis nie ’n gedenknaald soos die goed wat mens in die Antieke Egipte gekry het, waarvan die volk tog so baie het nie. “Tog snaaks hoe die Christene so graag die simbole van die Egiptenaar gebruik in hulle heldeverering,” dink ek terwyl ek die motor parkeer en uitklim. Mens sou sweer dat daar steeds ’n deel van hulle agtergebly het sonder om die beloofde land te loop soek.

Die moderne Voortrekkermonument bestaan hoofsaaklik uit vyf suile wat elkeen so ’n boog na binne maak en die vorm van die bokant het twee sulke skerp punte aan die kante. Die simboliek is soos volg, maar ek moet erken dat ek nie meer my geheue presies kan vertrou nie. Diep binne my roer die hoop dat ek hier met ’n monument met durf te doen het. Iets anders as die gewone.
Die suile verteenwoordig elkeen ’n trekkerleier en sy volgelinge. Die bokant van die suile is in die vorm van die trekdiere se horings en verteenwoordig die rol wat die os gespeel het in die voortrekker se stryd om van die Engelse af weg te kom. Die suile staan nie heel teen mekaar nie, want tussen elke twee suile kom daar ’n ding uit wat van veraf amper soos ’n kanon se loop wil loop lyk. By nadere ondersoek vind ek dat dit speke is van ’n wawiel waarvan die naaf aan die binnekant van die monument ’n dak maak. In die middel van die naaf is ’n opening wat elke jaar op 16 Desember die son se lig deurlaat om ’n boodskap vir die nageslag te verlig, nes met die ander Voortrekker monument. Dit moes baie dinkwerk gekos het om die hoeke so te ontwerp. Hierdie argitek moes gelyktydig wiskundige, argitek en kosmoloog wees. Dit was geïnspireerde werk.
Die naaf van die wiel is hol aan die bokant en daar is water in wat vanaf die naaf, deur die vyf speke na die vyf dammetjies op die grond uitvloei en van daar weer per pomp na die naaf toe teruggevoer word. Ook hier is ’n pragtige simboliek, want die vloei van die water van die naaf af deur die speke in die vyf rigtings verteenwoordig die Afrikaner se onwrikbare geloof en die verspreiding van die Christelike boodskap deur die woeste wêreld van Suid-Afrika.
Ek dink oor allerhande dinge en peins oor soveel gevoelens wat ek in my ronddra. Ek rol ’n rou tapyt vir my voorvaders en hulle geskiedenis in my hart uit. Soveel mense moes ly om so ’n monument te kry en hoeveel van hulle sal ooit die monument se diepere betekenis verstaan. Min dinge is so hartseer as ’n monument wat teen homself getuig.
My wange is nat gewroeg wanneer ek my jongste, Carla, se stem deur die newels hoor kom: “Pappa! Mamma sê die monu..monuma...monumanent se pomp werk nie. Wat is ’n pomp, Pappa..?”
Gelukkig wil sy nie weet wat ’n monument is nie, want daarvoor het ek net ’n bitter antwoord gereed gehad.
Lucas
© Lucas Maree 2009


