Bokomo-brekfisbrief; 28/10/09: Die Blou Dam se nukke

  • 0

Almal is mos bekend met die Blou Dam se nukke en geite. Maar enige seeman moet by homself kan dink as die bergwind die see so plat soos 'n tafel maak dat moeilikheid op pad is. Die glas sal jou ook beduie dat jy jou lyne moet optrek en maak vir die land. Of liewer glad nie see toe gaan nie.

Maar ons weet mos maar hoe steeks seemanne kan wees. Soms as die Kabeljou of Geelbekke of Stokvis dik loop dan vergeet mens van dinge soos tyd en land toe gaan. Ek hoop regtig dat dit die geval was met die manne wat vanmiddag hier by Diaz uitgespoel het. Ek hoop dat Skipper nie ongeërg was nie. Want ons weet mos nog nie wat die waarheid is nie. Dalk sal ons nooit weet of dit Skipper se oordeel of 'n bisarre sameloop van omstandighede was nie.

Tog, vyf manne is nou weg (vier is dood en een vermis). Ons drink ons dop op hulle, maar ons vra tog baie onregverdige en onbillike vrae: Wat het jy op die see loop soek, Skipper, terwyl jy moes geweet het toe die Noordwes gister die see plat gemaak het? Het jy dan nie gesien toe die son so snaaks ondergaan dat hier moeilikheid aan't kom is nie? En Skipper, ek blameer jou nie, maar ek wonder hoekom jy juis in hierdie woeste water vir windswael aangedurf het? Jy moes mos geweet het hoeveel skuite al omgedop is deur hom? Hoekom het jy nie eerder Stilbaai se koers ingeslaan nie? Die vrae maal, Skipper, maar ons wassie op die skuit saam met jou nie, so ons sal mossie regtig weet nie. So nou oordeel ons jou maar so onregverdig. Maar ons drink op jou en jou crew, so tussen die lelik deur.

Die Blou Dam het nog altyd in haar oorvloedigheid gegee. Maar die dag as Sy vat, dan los Sy weduwees en wesies agter. Soos ou Niekie Voete altyd beduie het: Mens speel nie met 'n beneukte vrou nie.

In vier huise in Oesterland is daar vanaand trane. 'n Klong het 'n pa verloor, 'n vrou haar seeman met sy harde hanne. Sy lyne en eie praksasies om die natlywe in te bring gaan onaangeraak bly le. Die Suidoos huil hier by die kosyne. So asof hy beduie: Moenie kommer nie, more draai ek Wes en dan gee ek weer vir julle bakke en bakke vol vis.

Ag, en ek weet: Hierdie rowwe see bring altyd voorspoed so met die hartseer saam. Môre is die banke skoon en kan die vis weer lekker wei.

Hartseer groete uit Oesterland,

oester

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top