Bokomo-brekfisbrief; 28/06/08: Die dae toe rugby nog gevaarlik en seks veilig was ...

  • 0

Ek het Namib se brief oor rugby in die woestynland geniet. Dit bring vir my nostalgie van die rugbywedstryde wat ek in die toe nog Suidwes gespeel het. Soos die Amerikaners kan spog met Nam, was ek ook in Nam op ʼn stadium van my lewe. Ons het op die Rundu dorpsveld gespeel. Die voorsitter, sameroeper, keurder en president was ʼn ene Bytel Erasmus. ʼn Kort parmantige mannetjie met ʼn moerse groot snor. Hy het hoofsaaklik van die weermag se manne wat nie ver van die dorp af was nie, gebruik om sy span te versterk. Op die “veld” was daar baie min indien enige gras. Ek sal nooit die eerste “wedstryd” vergeet wat ek daar gespeel het nie. Dit was laat Februarie en ek het nie my rugbystewels saam van die “states” gebring nie. Ek gaan mos nou die grens bewaak, wie gaan rugby speel? Dit was hondwarm die dag en ek moes kaalpoot speel. As jy stil staan brand jy, as jy hardloop brand jy; ek het naderhand “seergekry” en is van die veld af. Ek is eendag na ʼn plaaslike wedstryd op Rundu deur ʼn “army” major ontbied en opgekommandeer om die “weermag” in ʼn rugbywedstryd op Berg Aukas (weet nie of ek dit reg spel nie) te gaan verteenwoordig. Ons het die oggend 10h00 met ʼn weermagbussie vertrek en sowat twee ure later daar aangekom. Ons het teen een van die dorpspanne gespeel. Dit was een van die lekkerste rugbywedstryde wat ek in my lewe gespeel het. Die “skare” was betrokke by die spel, geen lelike insidente of vuilspel nie, en na die tyd het ek in die kroeg die seerste gekry. Ek is mos in die “army”. Almal koop ʼn dop en die plaaslike mense is ongelooflik gasvry. Ons is op die hande gedra. Ons was, soos my vrou sal sê, “watered and fed”. Daardie dae was rugby nog gevaarlik en seks was veilig.

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top