Bokomo-brekfisbrief; 28/04/09: Nie 'n mond vol tande nie

  • 0

 

 

Die bloederige juweeltjie, Teeth, is 'n fliek wat 'n spesifieke relevansie vir Suid-Afrikaanse gehore mag hê.

Mitchell Lichtenstein (seun van die bekende skilder, Roy Lichtenstein) se debuut-film speel af in voorstedelike Amerika. Dawn (briljant gespeel deur nuweling Jess Weixler) is oënskynlik 'n doodnormale maar effens verkrampte tiener wat grootword in die skadu van 'n kernreaktor. Blond en rein, lei sy ʼn "kuisheidsgroepie" waar sy kinders aanmoedig/indoktrineer om hul maagdelikheid soos 'n kleinood te bewaar vir die huweliksnag.

Beginselvaste Dawn is egter onbewustelik die draer van 'n genetiese mutasie. Sy besit naamlik 'n ekstra stel tande.

Nie in haar mond nie.

Wanneer tienerdrange onwrikbaar begin oorneem en Dawn sterk aangetrokke voel tot 'n seun in haar klas, begin die poppe dans.

Geïnspireer deur daardie über-feminis, Camille Paglia, is hierdie 'n chick-flick van knater-krimpende afmetings. Al die manlike stereotipes wat nee as ja rekonstrueer; die trofee-jagters, en in 'n wonderlik bevredigende slottoneel, kry die "dirty old men" 'n knibbel. Die liefste Dawn groei van kuise tot getraumatiseerde tiener tot vrou wat haar neerlê by haar lot en haar uiteindelik begin verlustig in haar mag.

In ons steeds so patriargale land waar die erekte penis jou 'n ware man maak en seks met maagde jou van die Gevreesde Siekte kan genees, kan hierdie fliek dalk met vrug as teenpropaganda aan hoërskoolseuns vertoon word. Die ouderdomsbeperking is 18, maar ek dink selfs vir jongeres sal die boodskap duidelik deurkom.

Wees versigtig, ek byt.

Chigurh

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top