
Anders as 'n paar ander mense hier, hou ek nogal van SêNet se formaat.
Om die briewe oop te maak is soos om 'n boks tjoklits te sit en opeet en as mens eers vertroud is met die soort sjokolade wat in elke gelybelde rêpper aangebied word, kan jy lekker kies en keur om by jou gemoedstemming te pas.
Hiermee vir die beginner 'n paar wenke:
"Krokodil" - baie lekker, maar as jy met die regterkant van jou keel sluk, kan dit soms bietjie dwars afgly en jou laat stik.
"Siener in die Suburbs" - kwaliteit, maar met baie toffie aan die binnekant. Moenie probeer eet as jy haastig is nie.
"Zhi"- proe soos wat wierook ruik en kan jou soms erg duiselig maak.
"Djorny van Huyssteen" - Tjiep staf met babbelgham in die middel. Gee vir die kinders.
"Francois Williams" - 'n aangeleerde smaak. (Baie soos Naas Botha toe hy nog rugby gespeel het - jy gaan óf absoluut mal wees daaroor óf dit haat met 'n passie.)
"Afrikaan" - spoeg liewer uit, want die bruin is nie sjokolade nie ...
"Oom Daan" (dis nou ekke), "Blou Makou" en "Anton B" - wit sjokolade uit die ouer deel van die boks. Soms effe bitter.
"Swerwer" en "Pastoor Papkop" - gaan altyd goed af. (Laasgenoemde is net partykeer bietjie van 'n pappery en daar is 'n paar pienats in wat jy moontlik sal wil uitpik voor jy begin.)
"Yuri" - 'n tipe van top deck- mengsel wat ek nog nie lekker kan plaas nie. Soms soos fluweel op die tong en soms laat dit jou spontaan kamerverlaat. Net daar waar jy sit.
"CP" - dis die kleintjie wat help vir naarheid. Neem vinnig een as jy 'n brose gestel het en per ongeluk 'n Francois Williams, Afrikaan of Yuri gekou het.
"Perdebytjie" - heel ôraait en boonop sal iemand kom skoonmaak as jy klaar geëet het.
"Bobbejaan" - baie skaflik, net effe souterig.
"Kobus de Klerk" - amper soos geel en groen suiglekkers. Jy eet dit net as jy doodseker gemaak het al die ander is HEELTEMAL op.
Los dinge maar soos hulle is, want ief iet ynt brouk, dount fieks iet.
Oom Daan

